Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
China se hulp aan wêreld ‘het ’n skadukant’

Suid-Afrika kan gerus meer krities wees oor China se beleidsraamwerke en nie alles in sy verhoudinge met Afrikastate aangryp en vertroetel nie, skryf Theo Neethling.

Pres. Xi Jinping van China lewer ’n toespraak op ’n banket in Beijing waar die 70ste bestaansjaar van die Chinese Volksrepubliek gevier is. Foto: AP

Op 21 Junie 2021 het Carien du Plessis verslag gedoen oor oudpres. Kgalema Motlanthe wat vol lof vir China in die aanloop tot die eeufeesviering van sy Kommunistiese Party op 1 Julie is.  

Lees hier: https://www.netwerk24.com/Nuus/Politiek/motlanthe-china-baken-van-hoop-in-oorgang-na-sosialisme-20210621

Ek het nie na die aanlyn seminaar geluister nie, maar wil wel ’n paar gedagtes in reaksie op Motlanthe se sentimente oor China na aanleiding van die berig deel. Ek wil dit ook veral doen in die lig van skerp kritiek op Motlanthe deur Netwerk24-lesers.

Daar is veral vyf punte in die betrokke berig waarop ek wil fokus. Eerstens dat China volgens Motlanthe vandag die mees geïndustrialiseerde land ter wêreld asook een van die grootste ekonomieë is.

Tweedens dat China sy ekonomiese beleide transformeer en aanpas om sy ekonomie uit te bou terwyl sosialistiese beginsels behou word, en dat meer as 800 miljoen Chinese uit armoede gelig is.

Derdens dat geen verdraagsaamheid in die stryd teenoor korrupsie getoon word nie en dat tot soveel as ’n miljoen amptenare getug is, van wie 400 op die vlak van provinsiale minister of hoër.

Vierdens dat China aan ontwikkelende lande ander strategieë vir ondraaglike koloniale beleide bied, en vyfdens dat China wys dit is moontlik om ’n samelewing sonder klasse en uitbuiting van mense te skep.

Oudpres. Kgalema Motlanthe.Foto: Argief

‘Steeds miljoene armes in China’

Wat die eerste punt betref, naamlik dat China die mees geïndustrialiseerde land is en een van die grootste ekonomieë is, is Motlanthe grootliks korrek. China is weliswaar nie die mees geïndustrialiseerde land nie, maar reeds ’n dekade gelede met die publikasie van Global Trends 2030, ’n navorsingspublikasie van die Amerikaanse Intelligensieraad, was dit duidelik dat China se politiek-ekonomiese opgang vinniger was as wat verwag is. Daar is trouens voorspel dat die Chinese ekonomie in 2030 groter as dié van die VSA sou wees.

In die jongste opvolgpublikasie wat onlangs uitgegee is, Global Trends 2040, word voorspel dat China teen 2040 22,8% van die wêreldekonomie sal uitmaak teenoor die VSA se 20,8%.

Daar is herkenbare kapitalisme, maar die staat bly steeds die belangrikste en oorheersende aandeelhouer.

Tog, wat bruto nasionale produk per capita betref, is China op die meeste indekse nog nie onder die eerste 70 lande ter wêreld nie, terwyl die VSA onder die eerste tien tel. Dit beteken gewoon dat daar steeds miljoene arm mense of mense met lae inkomstevlakke in China is.

Die tweede punt is ’n interessante een. China het inderdaad sy stram kommunistiese beleid onder Deng Xiaoping sedert die laat-1970’s begin aanpas en vandag is China bekend vir ’n eiesoortige en paradoksale ideologiese ingesteldheid, naamlik staatskapitalisme.

Daar is herkenbare kapitalisme, maar die staat bly steeds die belangrikste en oorheersende aandeelhouer. Wat belangrik is, is dat dit vir China werk, maar bygevoeg, dit is omdat die Chinese burokrasie hoogs doeltreffend en glad funksioneer.

Lesse vir Suid-Afrika

Die konsep van staatskapitalisme is uiteraard vir sommige in die ANC ideologies aantreklik, maar in Suid-Afrika is dié Chinese model nie realisties nie, aangesien ons staatsdiens en veral staatsondernemings hulle as hoogs ondoeltreffend en bloedsuiers van die belastingbetaler bewys het.

Ek stem saam met oudpres. Motlanthe dat daar lesse vir Suid-Afrika in China se prestasies opgesluit is. Maar dan hang dit af van wat dit presies behels.

Motlanthe is korrek dat daar in China geen of min verdraagsaamheid in die stryd teenoor korrupsie getoon word nie.

Polisielede patrolleer Tiananmen-plein in Beijing. Foto: Reuters

Onder pres. Xi Jinping was daar veral sedert 2012 merkwaardige pogings om hoë ampsbekleërs van die Kommunistiese Party en staatsamptenare vas te trek en daadwerklik te vervolg. Hier kan die ANC-regeerders gerus heelparty lesse leer en veel ongenadiger teenoor partylede optree wat aan institusionele diefstal en wanpraktyke skuldig is.

Die vierde punt wat ek hierbo uitgelig het, naamlik dat China aan ontwikkelende lande ander strategieë vir ondraaglike koloniale beleide bied, is ’n omstrede een, maar tog uiters belangrik vir Suid-Afrika en Afrika se toekomstige posisie in die wêreldpolitiek.

China probeer ’n beeld vorm dat Beijing betrokke is by ekonomiese ontwikkeling op kort en lang termyn buite China, waarby veral ontwikkelende state sal baat vind. Suid-Afrika het hierop ingekoop en dit is nie sonder meriete nie, ofskoon ons ook nie kritiekloos hiermee moet omgaan nie.

Voordele vir Afrikastate

Xi se makro-ontwikkelingsraamwerk in Asië, Europa en Afrika staan bekend as die Belt and Road Initiative (BRI). Die BRI is ’n wêreldwye ontwikkelingstrategie van die Chinese regering wat kortliks neerkom op massiewe infrastruktuurontwikkeling met gepaardgaande beleggings in meer as 65 lande wêreldwyd, en sal uiteindelik meer as 60% van die wêreldbevolking daarby insluit.

Hoewel Afrikastate tans nog ’n betreklike klein deel van die BRI uitmaak, vorm veral die oostelike deel van Afrika wel deel van die BRI.

Daar is beslis voordele vir Afrikastate in dié groot makroplan wat China tans op die vasteland onderneem, waaronder die skep van infrastruktuur soos hawens en die ontwikkeling van mynbou.

In talle Afrikastate is ekonomiese groei deur Covid-19 in trurat gesit en dit maak die skuldlas problematies.

Die BRI is bedoel om vir China sowel as die betrokke state waar dit ontvou tot voordeel te strek. Vir China is die voordele byvoorbeeld daarin geleë dat grondstowwe uit Afrikastate makliker na China verskeep kan word. Die BRI het egter ook ’n skadukant.

Die bou van infrastruktuur word dikwels met Chinese lenings aan Afrikastate gefinansier en dit plaas ’n groeiende skuldlas op sommige Afrikastate. In talle Afrikastate is ekonomiese groei deur Covid-19 in trurat gesit en dit maak die skuldlas problematies.

China is nie ongenadig met die terugbetalings van lenings nie, maar Afrikaleiers kan nie sonder groot politieke omsigtigheid by dié Chinese ontwikkelingsprojekte inkoop nie.

Chinese rassisme

Afrikaleiers kan ook nie net toelaat dat China kommoditeite sonder streng voorwaardes na Chinese bestemmings uitvoer nie. In Gambië byvoorbeeld word rooshout tans op groot skaal na China uitgevoer, maar teen ’n geweldige hoë prys van ontbossing.

Daar is talle sulke voorbeelde en China is bereid om met Afrika-elites ooreenkomste te sluit, maar sonder dat bydraes tot armoedeverligting gelewer word. Hier sal Afrikaleiers meer selfkrities en omsigtig met Chinese betrokkenheid op die vasteland moet omgaan.

Die vyfde punt hierbo in Motlanthe se lofprysing van China verdien ook kommentaar, naamlik dat China wys dat dit moontlik is om ’n samelewing te skep sonder klasse en sonder uitbuiting.

Talle swart mense is met inperkingsmaatreëls summier hotelle, winkels en eetplekke verbied en baie moes op die straat ’n heenkome vind, of is na plekke van afsondering weggestuur.

Soos met die George Floyd-geval, kan Afrikaleiers gerus meer krities omgaan met Beijing se wrede hantering van die Oeighoere, die Moslemvolk in China van sowat 11 miljoen in die westelike Xinjiang-provinsie; of Beijing se hardhandige pogings om demokrasie en menseregte in Hongkong te vertrap.

Daar moet ook nie vergeet word dat daar in April 2020 met die afdwinging van Covid-19-maatreëls in die suidelike stad van Guangzhou in die Guangdong-provinsie oorweldigende getuienis was van rassistiese praktyke jeens swartmense uit Afrika nie.

Talle swart mense is met inperkingsmaatreëls summier hotelle, winkels en eetplekke verbied en baie moes op die straat ’n heenkome vind, of is na plekke van afsondering weggestuur.

Prof. Theo Neethling

Uit die bostaande is my argument die volgende: Daar is inderdaad baie wat Suid-Afrika kan leer van China as die tweede grootste ekonomie in die wêreld. Trouens, China moet ook in Suid-Afrika se buitelandse verhoudinge ’n baie hoë profiel geniet.

Terselfdertyd kan Suid-Afrika en ander Afrikastate gerus meer krities omgaan met Beijing se beleidsraamwerke. Hulle hoef nie alles in Beijing se verhoudinge met Afrikastate omarm en vertroetel as ’n ideologiese teenvoeter vir Westerse norme in die internasionale politiek en wat beskou word as Amerikaanse imperialistiese neigings nie. Minder ideologie en meer balans is die sleutelwoorde.

• Prof. Neethling is verbonde aan die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Theo Neethling  |  Kgalema Motlanthe  |  China
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.