Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
China se wrede onderdrukking bly ’n feit
Barnard Beukman

Dit is ironies dat Gert Grobler hom in sy brief wend tot (konstruktiewe) kritiek op Beeld se hoofartikel (wat altyd verwelkom word), maar dit vanuit ’n land waar hy soortgelyke kritiek nie teenoor enige staatsmedia, enige aspek van die regering of selfs sy werkgewer durf uitspreek nie.

Want hy sal lastig geval en ondervra word, moontlik aangehou word of kan selfs verdwyn – soos die laaste paar weke weer met talle aktiviste en joernaliste in China gebeur het. Juis omdat hulle die regering se hantering van die koronavirus durf kritiseer het. En van hulle omdat hulle dinge uit die stad Wuhan begin onthul het wat nie strook met die heldeverhaal van ’n owerheid wat in alle opsigte goed vaar met die stryd teen die virus nie.

Of sal dit ook bloot afgemaak word met “as iemand wat in China woon en werk, sluk ek swaar aan die bewering”. Vreemd, om die minste te sê, van iemand wat in die akademie staan.

Daar is baie Suid-Afrikaners wat groot voordeel trek uit werk in en sakebelange met China. (Beeld word inderdaad ook deur so ’n maatskappy besit). En ja, dit is alles die gevolg van ’n ongelooflik ekonomiese opbloei, ongekende sosio-ekonomiese vernuwing en epogmakend strategiese beplanning.

Van hule het verdwyn toe hul dinge uit Wuhan begin onthul het wat nie strook met die heldeverhaal van ’n owerheid wat goed vaar met die stryd teen die virus nie.

Maar dit is geen rede om voortdurende wrede menseregteskendings en veral toenemende onderdrukking van alternatiewe menings en vryheid van spraak te ligtelik af te maak nie.

Het ’n mens in China toegang tot Amnestie Internasionaal se verslae?

Gert Grobler se brief

Die verwronge voorstellings van China kan bydra tot die skep van laakbare vooroordeel, nyd en selfs “rassehaat” jeens die Chinese, wat die laaste tyd in sekere Westerse lande se media, asook op sosiale media hoogty vier.

’n Mens sou eerder wou sien dat Volksblad China, ’n belangrik politieke en ekonomiese vennoot van Suid-Afrika, en sy mense krediet gee vir die merkwaardige en doeltreffende manier waarop hulle die nuwe koronavirus bekamp het deur doelgerigte, omvattende beplanning, ’n ongehoorde samehorigheid en ’n nasiepoging.

Trouens, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), die Verenigde Nasies (VN) en die internasionale gemeenskap het oorwegend net lof vir China se pogings om die virus in die land in bedwang te bring.

Met die situasie nou feitlik genormaliseer in China en met die fokus van die virus se impak nou elders, is China reeds in die proses om lande soos Italië, Iran en Suid- Korea met aansienlike hulppakkette by te staan.

China maak hom tans ook gereed om Afrika, waar die ergste van die nuwe virus nog op pad is, by te staan.

As iemand wat in China woon en werk, sluk ek swaar aan die bewering dat die Chinese media aanvoer dat hul “meer sentralistiese en ondemokratiese regeringstelsel . . . as die beste bewys is om sulke situasies te hanteer”.

Wat wel waar is, is dat China se mense die leierskorps van hul land oorweldigend steun met ’n verstommende nasietrots en eenheid oor hul land se asemro-wende ontwikkeling.

China het in die afgelope drie dekades drasties verander, veral sedert die bewind van oudpres. Deng Xiaoping van 1978 tot 1989.

Deng was met sy “hervormings- en oopstellingsbeleid” die argitek van die hedendaagse moderne China.

Dié deurlopende beleid, wat vandag­ nog die rigsnoer bly van die Chinese regering, het China se politiek en ekonomie in ’n heel ander rigting gestuur wat vandag steeds gepaardgaan met verandering en ’n ongelooflik breë opheffing van die bevolking se lewenstandaard.

Die doelwit is om ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte te verbeter, wat dan tot verdere hervorming op alle terreine sal lei.

Trouens, pres. Xi Jinping herhaal in die konteks van sy beleid “sosialisme met Chinese eienskappe” gereeld die bemoedigende boodskap dat “hervorming en oopstelling” ’n deurlopende taak is en dat China sonder hervorming nie sou gewees het waar hy vandag is nie”.

So China is tans in ’n proses van voortdurende politieke en ekonomiese transformasie.

Die verwysing na “etniese minderheidsgroepe wat gedwing word om onder erge toestande bepaalde nywerhede aan die gang te hou”, is eweneens ’n ondeurdagte stelling wat bevraagteken moet word.

Dit het onder meer betrekking op ’n inisiatief wat deur die Amerikaanse kongres gedryf word om die situasie van die Moslem-minderheidsgroep Uighur in die Xin­jiang-streek (in een van China se 23 provinsies) aan ’n groot klok te hang tot China se internasionale nadeel.

Die Uighur-kwessie bly ’n komplekse en sensitiewe een met etlike problematiese dimensies, onder meer een van ’n veiligheids- en terrorismebedreiging vir China wat verdere aandag sal vereis.

Met al die vele uitdagings wat die wêreld in die gesig staar wat demokrasie, menseregte en so meer betref, moet die wêreld dalk Xi se woord aanvaar wat voort­gesette hervorming in China betref.

Dít ook gedagtig aan wat Deng lank gelede gesê het oor verandering: “Steek die rivier oor deur eers vir klippe te voel.”

Grobler is ’n voormalige ambassadeur en tans besoekende lektor aan die Instituut vir Afrikastudies van die Zhejiang- Normaal Universiteit in Jinhua, China.

In een van dié organisasie se verslae einde verlede jaar – waarin die Chinese owerheid ook groot lof toegeswaai word vir sy vordering teen besoedeling en ’n groener omgewing – word onder meer geskryf: “The human rights situation con­tinued to be marked by a systemat­ic crackdown on dissent. The jus­tice system remained plagued by unfair trials and tor­ture. Repres­sion conducted under the guise of ‘anti-separatism’ or ‘counter-terror­ism’ remained par­ticularly severe in the Xinjiang Uighur­ Autonomous Region (Xin­jiang) and Tibetan-populated areas (Tibet). Author­ities subjected Uighurs­, Kazakhs and other pre­dominantly Muslim ethnic groups in Xinjiang to intru­sive surveil­lance, arbitrary deten­tion and forced­ indoctrination. The government continued to intimi­date, harass­, and prosecute human rights defenders and independent NGOs, including raids on their homes­ and offices.”

So nee, by Beeld aanvaar ons nie pres. Xi Jinping se woord nie. Die aktiviste Xu Zhiyong (in aanhouding) en Li Qiaochu (verdwyn) en die twee verdwene joernaliste Chen Qiushi en Fang Bin (sy video-uitsendings vanuit ’n woonstel in Wuhan is nog op YouTube) sou byvoorbeeld ook van Grobler verskil. Hulle wou bloot vrye spraak oor die koronavirus in China uitoefen.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Barnard Beukman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.