Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Chris de Burgh, ‘Spanish Train’ en Gretha Wiid
Annemarie van der Walt

‘Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde,” sug my geleerde vriendin oor ’n koppie cappuccino waarvan die room oor die kante gespoel het. Ek wag, want dis nie haar aard om met sulke holruggeryde gesegdes vorendag te kom nie. “Dink jy,” mymer sy dan verder, “Gretha Wiid luister soms na ‘Spanish Train’? Agterstevoor? Net om in die gees te kom vir ’n volgende praatjie?”

Só mal is sy sekerlik nie, meen ek. En is die korrekte term nie eerder “terugspeel” nie? Sal ook nie weet nie, want al het ons doerie tyd hoe hard ook al geluister, kon niemand lekker hoor wat Beëlsebub skynbaar gepredik het by monde van die arme Chris de Burgh nie.

Al wat gebeur het, is dat die een wie se langspeelplaat dit was, so de dinges in geraak het oor die krappery dat menige vriendskap op ’n garage-paartie in die hek geduik het.

“En die grootste ironie,” sê my wyse vriendin, “is dat ons dit nooit sou probeer as Rodney Seale dit nie so klokslag onder ons aandag gebring het nie.”

Eensklaps is ek
terug in die een of ander saaltjie tydens die een of ander skoolkamp of veldskool– dit was altyd koud en trekkerig in daardie sale, maar gelukkig was daar mos altyd ’n spreker wat die warm vuur in ons harte wou aanblaas.

“Het jy geweet,” nou druk my speelse vriendin haar vinger so diep in die room dat ’n man aan die oorkantste tafel nie weet waar om te kyk nie, “dat einste ­Seale steeds praatjies maak? Jammer dis te laat vir jou twee telge, want hy adverteer ’n werksessie sodat jy binne sewe dae ’n nuwe tiener kan hê. Indrukwekkend, nè? Maar nie so verreikend soos die sinnetjie nie wat sê hy het al 900 000 tieners se lewe geraak . . .”

Nou druk my speelse vriendin haar vinger so diep in die room dat ’n man aan die oorkantste tafel nie weet waar om te kyk nie.

Om te dink my spruite is, o skande, uitgesluit by dié getal. Geseënd is hulle ook dat me. Wiid se kampe altyd gebots het met gimnastiekklasse of netbalwedstryde, of nie ingepas het op ons kalender tussen Oppikoppi en Rocking the
Daisies nie.

Terwyl ek ook nog wonder wat het toe van die hangertjie met die skoenlapper geword nadat ek dit spesiaal gaan koop het omdat Seale en die dominee en die skoolhoof en die Kinderkranstannie daarteen gewaarsku het – waar wás hul gedagtes?! – skuif my skalks vriendin haar foon onder my neus met ’n uitnodiging na die Mix-en-Fix Hoërskoolkamp (sic) op me. Wiid se webwerf, in haar eie woorde:

Moenie die geleentheid misloop nie! ALLES oor verhoudinge, keuses en pêlle. En natuurlik moet ons praat oor die media se invloed op jou lewe en siening oor seks, liefde en verhoudinge. Ek belowe, dis die beste belegging in jou vrouwees en manwees! Kom kuier tot jou tone tintel en die butterflies in jou maag moeg is!

“Is dit net ek,” vra my vriendin met diepe erns, “maar klink Wiid nie baie soos daai ander goed wat ’n mens mix wat jou fix nie?

“Hoe mis ek daardie dae van tintelende tone en skoenlappers . . .”

Meer oor:  Gretha Wiid  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.