Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Christi van der Westhuizen: Erken dié mense se menslikheid

Die konstitusionele hof staan op ’n koppie in Johannesburg wat reeds in die Zuid-Afrikaansche Republiek van die laat 19de eeu van belang was. Paul Kruger het die Ou Fort daar gebou as beskerming teen die Britte. Dit was later ’n tronk vir wit mense.

Langsaan is die Vrouetronk, in 1909 gebou, waar Albertina Sisulu, Winnie Madikizela-Mandela, Barbara Hogan en ander anti-apartheidsaktiviste toegesluit is. Op dieselfde perseel staan die tronk wat net as “Nommer Vier” bekend is waar swart mans in onmenslike toestande aangehou is.

Die perseel is omskep in die Konstitusieheuwel-museum. Die konstitusionele hof se gebou, esteties en treffend ontwerp, staan ook daar. Die plasing van die hof word wêreldwyd geprys oor die manier waarop die verlede en die hede verbind word. As ’n mens nie die kloutjie by die oor kon bring oor waarom Suid-Afrika vandag ’n Grondwet het wat menswaardigheid in diversiteit verskans nie, verskaf die ­museum klarigheid.

Dít is die konteks waarin dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bestuurshoof, verlede week gesê het die museum is nie ’n plek vir wit Suid-Afrikaners nie omdat hulle dit as ’n vervreemdende ruimte ervaar. Hy het die Mapungubwe-instituut vir Strategiese Nadenke (Mistra) se besluit om sy konferensie oor “witheid, Afrikaans, Afrikaners” daar te hou, beskryf as “wit bashing”. Dit het geklink asof hy namens wit mense probeer praat, hoewel ’n menigte wit mense die teenoorgestelde assosiasie met die Grondwet het.

Hermann het daarna ’n weergawe van Afrikanergeskiedenis verskaf wat ’n mens voor 1994 in Afrikaanse skole geleer is. Dus was sy reaksie op die pyn en verontregting wat die museum vasvang om eerder “sy mense” se pyn en verontregting te beklemtoon.

Hoewel Hermann daarop aangedring het dat Afrikaners nie kolonialiste is nie, maar teen kolonialiste (die Britte) geveg het, het hy erken dat apartheid “die logika van kolonialisme” verteenwoordig. Dit maak apartheid ’n paradoks omdat Afrikaners dié logika in hul “verwerping van kolonialisme” gevolg het.

Dus het Hermann die ingewikkeld-­heid van Afrikaneridentiteit op die tafel geplaas, wat belangrik is. Dit is ’n etiese knoop wat ons nog nie ontrafel het nie en die Mistra-gesprek kon ’n geleentheid daarvoor bied. Maar ongelukkig het Hermann ’n defensiewe houding ingeneem en geen erkenning aan die mense gegee wat benadeel is deur die Afrikaners se navolging van die koloniale logika nie.

Yasmeen Rubidge, direkteur van ­Leadership Pathways, het die gehoor se reaksie vasgevang met haar woorde aan hom: “Ek wíl voel vir jou storie, maar dit is baie moeilik. As jy in die Vrouetronk staan en jy sê die plek gaan oor wit bashing en jy kan nie sien wat dit vir swart vroue en swart mense in die land beteken nie, is jy nie in staat tot empatie en deernis nie en dus maak jy dit vir my onmoontlik om vir jou te voel. As jy wil hê ek moet voel vir jou vroue wat in konsentrasiekampe dood is, wys dan ’n sweempie van gevoel oor wat jou mense in hierdie land gedoen het.”

Om deernis te toon is om iemand se menslikheid te erken. Die Grondwet erken ons almal vandag as mense juis omdat sommige mense in die verlede nié as mense erken is nie.

Om vandag daardie selfde mense wat destyds verontmenslik is weer eens nie te erken nie, kom neer op dieselfde koloniale logika as vantevore. En as ons as Afrikaners defensief is daaroor, maak ons dit net moeiliker vir ons landgenote om deernis vir ons te hê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.