Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Christi van der Westhuizen: Zuma is dalk ons skuld ook
Die ANC se benoudheid oor magsverlies is geruime tyd al tasbaar.

Pres. Jacob Zuma se poging om volslae beheer van die finansiesportefeulje te neem, het in die stof gebyt.

Suid-Afrika kan ’n sug van verligting slaak. Sy keuse van plaasvervanger vir Nhlanhla Nene, die onbekende agterbanker Des van Rooyen, sou onder sy duim gewees het. Die tesourie sou, vir die eerste keer sedert 1994, aan arbitrêre politieke inmenging blootgestel gewees het. Zuma se kleptokratiese vergrype sou al hoe rampspoediger geraak het. So, ja, Pravin Gordhan terug in sy ou pos is ’n oorwinning teen die Zuma-projek van selfverryking.

Maar hy het oorleef. Die miljarde wat sy opportunistiese optrede die ekonomie gekos het, was nie genoeg om sy kop te laat rol nie. Soos dié van Dudu Myeni, sy protégé, wat steeds in die voorsitterstoel van die SAL-raad sit terwyl minister ná minister die onderspit delf. Soos dié van bruikbare idiote wat ander instellings aftakel om Nommer Een se narsistiese belange te dien. Soos dié van die ANC se Topses wat hom beskerm, tot elke prys (dié drie woordjies klink ál onheilspellender).

Waarom klou die ANC aan so ’n president vas? Die antwoord is uiteraard mag. Die ANC het Zuma gekies omdat hy uiteenlopende kampe bymekaarbring. Soos die party se mislukkings as regering toeneem en die vrees vir magsverlies daarmee saam, fragmenteer die party. Die fragmente het net Zuma gemeen. Om hom uit te skop, kan ’n dinamiek op loop sit wat die party laat skeur. Daarom die pogings om die aanloop tot die 2017-leiersverkiesing te bestuur, wat die kans verskraal dat hy voor die tyd verwyder sal word.

Die ANC se benoudheid oor magsverlies is geruime tyd al tasbaar. Daar is die obsessie om ’n “hegemonie” oor alle sfere uit te oefen – ANC-leiers voel hulle het dit nie. Maar as ’n mens hegemonie ontleed as instemming deur die meeste mense, soos onder demokrasie moet gebeur, eerder as dwang, soos onder totalitarisme, dan was die ANC hegemonies vir ’n dekade of meer.

Maar weens die party se Stalinistiese streep was dit nooit genoeg nie. Nou, met hul lot aan Zuma gehang, glip dit tussen hul vingers deur.

Die gevoel van onmag het ook te doene met Suid-Afrika se posisie in die globale politieke ekonomie: Ons interne politiek was nog altyd aan buitelandse invloede onderhewig. In die huidige tydvak van laat-kapitalisme is dit veral só weens verhoogde onderlinge verstrengeldheid tussen landsekonomieë, soos Zuma op die harde manier herinner is. Magsonsekerheid maak die ANC selfs minder doeltreffend as regering en dus, ironies, meer kwesbaar vir verliese by die stembus, soos ons volgende jaar sal sien. Die onsekerheid oor mag is ’n teelaarde vir ANC-kwale, waarvan die Zuma-kliek een is.

Sy sogenaamde “Rubicon-toespraak” by ’n sake-ete van Patrice Motsepe die dag wat hy Nene afgedank het, verskaf sekere insigte oor hoe hy mag beskou. Sommige lag vir die toespraak. Maar sy ontleding van kolonialisme is akkuraat. Hy herhaal die al hoe algemener stelling dat swart mense politieke en nie ekonomiese mag het nie. Maar hy oordryf die nutteloosheid van politieke mag. Regerings se beweegruimte is weliswaar beperk in die huidige wêreldbestel, maar dis nie gelykstaande aan magteloosheid nie. En sekerlik strek ’n regering se mag ver genoeg om meer as net ’n interne kring te verryk. Zuma het Nene afgedank omdat laasgenoemde Myeni se skielike byvoeging van ’n derde party by die SAL-Airbus-transaksie wou keer. Dít is klaarblyklik Zuma se idee van ekonomiese “mag”: om die room af te skep.

As Suid-Afrikaners moet ons ons afvra waarom ons op hierdie tydstip met so ’n leier vorendag gekom het.

  • Van der Westhuizen is medeprofessor in sosiologie aan Tukkies.

Meer oor:  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.