Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cites min werd as beskermer

Die 18de Cites-beraad vind van 17 tot 28 Augustus in Genève, Switserland, plaas. Maar is dié organisasie van die Verenigde Nasies wat die handel in bedreigde wilde diere en plante reguleer in die lig van die sesde uitwissing van spesies nog relevant en dra dit by tot die volhoubaarheid van die natuur, vra Elise Tempelhoff.

Zimbabwe se verweer vir sy handel met lewendige olifantkalwers waardeur olifantfamilies opgebreek word, is dat hy wel aan Cites se permitvoorwaardes voldoen. Foto: Gerhard Burger

Die Cites-beraad staan in die omgangstaal bekend as COP18 (Conference of the Parties).

Dr. Lynn Johnson, stigter van die nieregeringsorganisasie Nature Needs More Ltd, skryf in ’n onlangse artikel in Daily Maverick die heel eerste besprekingspunt op COP18 se agenda behoort ’n debat te wees oor dié konvensie se onvermoë om die wêreld se natuurlike hulpbronne te beskerm.

Cites word die laaste paar jaar uit verskeie oorde aangeval as ’n tandelose konvensie wat oorrompel word deur sluikhandel in wild- en plantprodukte.

Toe Cites in 1975 gestig is, was die wettige handel in bedreigde plante en diere jaarliks na raming sowat $2 miljard werd. Nóú word die wettige handel in bedreigde fauna en flora geraam op meer as $320 miljard per jaar en die onwettige handel in wild en plante op sowat $258 miljard.

’n Verbod op ivoorhandel geld reeds sedert 1989. Geen handel mag ook in renoster­horing gedryf word nie.

Volgens onlangse berekeninge van die Verenigde Nasies (VN) se Omgewingsprogram, Unep, groei sluikhandel in produkte (wat op Cites se databasis verskyn) nou jaarliks teen ’n tempo van twee tot drie keer dié van die globale ekonomie.

Die name van 700 bedreigde spesies was in die 1970’s op Cites se databasis toe die konvensie deur die VN tot stand gebring is. Vandag, 45 jaar later, is daar 36 000 spesies op dié lys en dit word al hoe duideliker Cites kom nie die mas op teen stropers, sluikhandelaars en die kopers van die onwettige produkte nie.

Net vroeër vandeesweek het doeanebeamptes van Singapoer beslag gelê op 11,9 ton ietermagôskubbe en 600 olifanttande. Daar is sedert April op 37,5 ton skubbe in dié stadstaat beslag gelê.

Reuters het berig dié skubbe kom van sowat 2 000 ietermagô’s en is op die swartmark sowat $35,7 miljoen werd. Die ivoor is afkomstig van 300 gestroopte Afrika-olifante

En dít ondanks die feit dat Cites die wêreld se agt ietermagôspesies in 2016 by COP17, wat in Johannesburg plaasgevind het, die hoogste bewaringstatus gegee het.

Dit beteken dié diertjie se naam verskyn op bylaag 1 van Cites en dat geen handel in sy liggaamsdele mag plaasvind nie. ’n Verbod op ivoorhandel geld reeds sedert 1989. Geen handel mag ook in renoster­horing gedryf word nie.

En tog word daar steeds, hoewel onwettig, op die swart mark handel gedryf in renosterhoring, ivoor en ietermagôskubbe.

Viëtnam is brandpunt

Intussen sê die Environmental Investigating Agency (EIA) in hul jongste verslag Viëtnam is die brandpunt van sluikhandelnetwerke. Dié land word geïmpliseer in meer as 600 beslagleggings op onwettige handel in wild. Dit sluit in 105,72 ton ivoor (gelykstaande aan die tande van 15 779 olifante), 1,69 ton renosterhoring (gelykstaande aan die horings van 610 renosters), velle, beendere en ander liggaamsdele van 228 tiere en die liggaamsdele van 65 510 ietermagô’s.

En tog word daar steeds, hoewel onwettig, op die swart mark handel gedryf in renosterhoring, ivoor en ietermagôskubbe, maar ook in baie ander bedreigde spesies waarvan die wêreld min kennis neem.

Grafika

‘Nie ’n bewaringsorganisasie’

Wanneer Cites gekritiseer word omdat die konvensie nie daarin slaag om wilde diere en plante te bewaar nie, is die sekretariaat se antwoord doodeenvoudig: “Cites is nié ’n bewaringsorganisasie nie. Dit is uit en uit ’n handelsorganisasie.”

Bewaring is dus die mandaat van die land waar die spesie voorkom.

John Scanlon, voormalige sekretaris-generaal van Cites, het in 2016, toe hy gepeper is met vrae oor die konvensie se gebrekkige optrede oor die bewaring van spesies en omdat hy oënskynlik nie omgee oor die welsyn van diere nie, gesê: “Cites is nie ’n bewaringsorganisasie nie, sy mandaat is beperk tot handelskwessies. Hier stop die debat met ’n stemming – oor of handel in ’n bedreigde spesies oopgestel moet word, al dan nie,” het hy geantwoord.

Cites reguleer handel en lande moet hul eie bewaringsbeleid toepas en as hulle sou wou, verfyn. Bewaring is dus die mandaat van die land waar die spesie voorkom.

En dit is hierdie geykte siening wat Cites van homself het, asook korrupsie en ’n gebrek aan politieke wil in lidlande, wat bewaringsbewustes woedend maak. En omdat baie bewaringsorganisasies lidlande hoofsaaklik wantrou, plaas hulle nou druk op Cites dat dié konvensie deur ’n bewaringsorganisasie vervang moet word.

Handel in bedreigde spesies het die afgelope 40 jaar nie gewerk nie. Lidlande, waarvan Suid-Afrika een is, weier om ’n kopskuif te maak.

Zimbabwe se olifante

Johnson skryf voorts die ooglopendste manier waarop die natuurlike omgewing bewaar kan word – veral in die lig van die sesde uitwissing van spesies wat ons tans beleef – is om die beginsel van versigtigheid te volg.

“Handel in bedreigde spesies het die afgelope 40 jaar nie gewerk nie. Lidlande, waarvan Suid-Afrika een is, weier om ’n kopskuif te maak.

“Hulle glo steeds handel in wild en wilde plante is die beste manier vir bewaring en om geld daarvoor te verdien. Lande soos Zimbabwe, Namibië en Suid-Afrika voer aan dat die geld wat hulle met handel verdien, in bewaring teruggeploeg word.”

Daar is egter min bewyse daarvoor.

Volgens Johnson klou lidlande vas aan Cites se permitstelsel, wat verouderd en vol fatale foute is. Dit is ook ’n teelaarde vir korrupsie.

Dié petisie is nou deur sowat 2 000 mense onderteken en sal by COP18 aan Higuero oorhandig word.

Sharon Hoole van Brittanje, ’n aktivis vir olifante, sê wanneer ’n land soos Zimbabwe, wat met lewendige olifantkalwers handel dryf, gevra word waarom hy “so wreed is om olifantfamilies op te breek”, word die skouers bloot opgehaal en aangevoer daar word aan Cites se permitvoorwaardes voldoen.

Zimbabwe is tans in die kollig hieroor omdat hy geld nodig het om sy bankrot ekonomie van algehele ondergang te red. Daarom het die land sedert 2014 meer as 100 olifantkalwers aan China verkoop, maar die geld word glad nie vir bewaring gebruik nie.

Hoole en Noma Dube, ook ’n aktivis vir Zimbabwe se olifante, vra reeds maande lank dat Ivonne Higuero, Cites se nuwe sekretaris-generaal, die Cites-permitte vir die uitvoer van Zimbabwe se olifante ondersoek omdat hulle vermoed bedrog is daarby betrokke. Higuero het hul pleidooie tot dusver geïgnoreer.

Hulle het intussen ook met ’n petisieveldtog begin om druk op Cites uit te oefen om Zimbabwe se “donker handel” in olifantkalwers te ondersoek. Dié petisie is nou deur sowat 2 000 mense onderteken en sal by COP18 aan Higuero oorhandig word.

Cites bepaal dat sy permitte openbare dokumente moet wees. Hoole, Dube en Network for Animals wend hulle egter nou tot Zimbabwe se hooggeregshof om toegang tot die permitte te kry.

Skuiwergate

Die feit dat lande toegelaat word om in lewendige olifante, renosters en leeus handel te dryf, is ’n bewys van die skuiwergate in die Cites-stelsel.

Elise Tempelhoff

In verskeie lande waar renosters voorkom, soos Kenia, Zimbabwe en Namibië, is renosters op Cites se bylaag 1.

Hoewel ivoor en renosterhoring op bylaag 1 gelys is, is Suid-Afrika se lewendige renosters, olifante en leeus op bylaag 2. Dit beteken dat beperkte handel in dié diere mag plaasvind. Die olifante wat in Zimbabwe voorkom, is ook op bylaag 2 gelys.

Daar is dus geen eenvormigheid wat die status van hierdie spesies betref nie en dit veroorsaak verwarring.

Lande soos Suid-Afrika en Zimbabwe wat diere uitvoer, asook die kopers daarvan, hoef net aan Cites die versekering te gee die fasiliteit waarheen die diere gebring word, is “voldoende” en dat hulle dit goedkeur.

Volgens Hoole is dit juis hier waar wreedheid teenoor byvoorbeeld olifante en renosters plaasvind. Hierdie skuiwergat in die Cites-permitstelsel word deur korrupte amptenare misbruik en baie van die diere beland in beknopte dieretuine of sirkusse.

Die meeste renosters beland by teelplase, waar hul horings afgesaag word en dit dan in tradisionele Oosterse medisyne gebruik word.

Die Cites-konferensies word gekenmerk deur intense politieke debatte, geheimsinnigheid en verdeeldheid. Bewaringsbewustes beskuldig Cites gewoonlik in die openbaar daarvan dat sy lede onwetenskaplike besluite neem ten koste van die voortbestaan van die natuur.

Dit sal na verwagting vanjaar wéér die geval wees.

520 spesies bespreek

Die handelstatus van 520 spesies wat in 93 lande voorkom, sal vanjaar by COP18 bespreek word. Die kameelperd is een van hulle.

  • Emosionele debatte sal weer eens oor olifante gevoer word nadat Zimbabwe, Zambië, Namibië en Botswana aangedui het hulle wil handel met hul opgepotte ivoor dryf. Zambië het aangedui hy wil in olifante begin handel dryf.
  • Cites gaan dit oorweeg om elektroniese pleks van papierpermitte te gebruik.
  • Cites het aangekondig die konvensie gaan Interpol bemagtig om misdaad vas te vat wat met behulp van die internet gepleeg word. Dit sluit in die koop en verkoop van bedreigde spesies oor die internet.
  • Die verwagting is dat hewige debatte weer eens (soos by COP16) oor Suid-Afrika se geblikte leeus gaan plaasvind.

  • Die vestiging van ’n Groot Kat-taakspan is op die agenda, asook ’n verbod op handel met enige spesie walvisse of dolfyne. 

Plante van oral benodig

Die noodsaaklikheid om ’n konvensie soos Cites op die been te bring, spruit uit die feit dat:

  • Skoonheidshuise produkte (hoofsaaklik plantprodukte) uit ander lande nodig het om hul middels te vervaardig;
  • Medisinale plante uit verskeie wêrelddele nodig is vir die maak van medisynes;
  • Eksotiese leerprodukte van bedreigde spesies in aanvraag is;
  • Kosbare hout soos edelhout vir die maak van musiekinstrumente soos viole, klaviere en kitare gebruik word.
Cites in syfers
  • Cites het 183 lede wat die konvensie onderskryf.
  • 2 000 afgevaardigdes word by COP18 verwag. Hieronder is 230 waarnemers, waarvan die meeste nieregerings- en bewaringsorganisasies is.
  • In 2015 is 1,2 miljoen transaksies met behulp van Cites-permitte beklink. Die eerste tekens van die begin van internasionale handel in bedreigde spesies is in 1977 opgemerk.

Meer oor:  Bedreigde Spesies  |  Olifante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.