Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Clara Schumann: pianis, komponis, ma

Heinrich van der Mescht kyk na die lewe van Clara Schumann, talentvolle musikus, met ’n interessante band met Suid-Afrika.

’n Banknoot ter waarde van 100 Duitse mark met Clara Schumann se gesig. Foto: Deutsche Bundesbank

Die 200ste herdenking van die geboorte van Clara Schumann op 13 September 1819 in Leipzig, Duitsland, het verlede jaar byna ongemerk in Suid-Afrika verbygegaan.

En net so het Clara se 201ste verjaardag vanjaar gekom en gegaan. Soos Beethoven, wie se 250ste verjaardag in 2020 oral­oor luisterryk gevier sou word, is Clara, die grootste vrouepianis van die 19de eeu, ook weens die virus uitgeboul.

Daar is baie vrae wat oor Clara se lewe, huwelik en loopbaan gevra kan word en die “verbode liefde” tussen die jong Clara Wieck en Robert Schumann gryp steeds die verbeelding aan . . .

In Robert en Clara se verhaal word dikwels gefokus op die driehoek van die “hardvogtige pa, arme dogter en onskuldige en moedige vryer”. Robert was nege jaar ouer as Clara en hulle moes wag tot sy 21 jaar oud was voordat hulle sou kon trou.

Waar pas Clara se ma in die prentjie?

Clara se ma, Marianne Tromlitz (1797-1872), was ook ’n klavierleerling van die vooraanstaande klavieronderwyser Friedrich Wieck (1785-1873) en ’n bekende pianis en sanger in Leipzig.

Kort ná die Wiecks se egskeiding in 1825 is Marianne met Adolph Bargiel getroud en het in Berlyn gaan woon. Clara het by haar pa in Leipzig agtergebly waar sy van vyfjarige ouderdom ook by hom klavierlesse gekry het.

Was Friedrich Wieck tog korrek in sy negatiewe beoordeling van Robert Schumann as moontlike eggenoot vir Clara?

Robert het in 1828 in Leipzig aangekom om regte te studeer. Ná ’n tydjie as regstudent in Heidelberg het hy gou van deuntjie verander en besluit om vanaf Oktober 1830 liewer in Leipzig op sy klavierspel te konsentreer. Sy onderwyser was Friedrich Wieck. ’n Klavieronderwyser is in ’n buitengewoon goeie posisie om ’n student op te som. Robert het by die Wiecks gebly – daar was toe reeds ’n tweede mev. Wieck. In 1835 begin Robert om Clara se hand te vra. Sy was 16 en hy 25.

Clara Schumann voor die klavier. Foto: Johann Christian Senckenberg-biblioteek, Frankfurt

Maar in 1836 verbied Friedrich Wieck enige kontak tussen die twee. Robert moes wag totdat Clara 21 jaar oud was om met haar te trou. Vriende en diensknegte het briewe en boodskappe tussen die twee aangedra en daar was ook ’n geheime ontmoeting in Dresden.

In Augustus 1837 raak hulle in die geheim verloof. Op haar 18de verjaardag skryf Robert ’n brief aan Clara se pa om verlof te vra om met sy dogter te trou. Maar Friedrich weier steeds en die verliefdes moet nóg drie jaar wag.

Robert het vanaf September 1838 in Wene gaan bly om uit die ontstellende omstandighede te probeer ontsnap. Dis daar waar hy by Ferdinand Schubert die manuskrip van Franz Schubert se Negende Simfonie ontdek het. Clara het van September 1839 tot haar troue die volgende jaar by haar ma in Berlyn gaan bly.

’n Ander belangrike rede vir Friedrich Wieck se teenstand was sy ideaal dat sy dogter oor die hele Europa klavier moes speel. Sy was buitengewoon talentvol en ’n vroeë verhouding met Robert sou haar loopbaan vernietig. Op haar vele konsertreise as kind saam met haar pa het sy vir Goethe in Weimar gespeel, en Mendelssohn en Chopin in Parys ontmoet.

Haar eerste komposisies is reeds in 1831 gepubliseer en haar Trois Romances op. 11 (1840) is aan Robert opgedra.

Robert en Clara is op 12 September 1840 getroud – ’n dag voor haar mondigwording. Dit was ’n troue en ’n oorwinning, aangehelp deur ’n regsproses.

Die handgeskrewe uitnodiging wat Clara Schumann aan Elsie Hall gerig het. Foto: Elsie Hall Papers, spesiale versamelings, biblioteke van die Universiteit van Kaapstad

Die egpaar het hulle in Leipzig gevestig.

Robert het later in sy lewe al hoe meer onstabiel geraak. In 1854 het hy wagte in Düsseldorf, waar hulle toe gewoon het, oorreed om hom toe te laat om die brug oor die Ryn te betree. Hy was 43 jaar oud. Hy het van die brug afgespring, maar is gered. Op sy eie versoek is hy kort daarna in ’n inrigting by Endenich naby Bonn opgeneem.

Daar het hy vertoef totdat hy in 1856 oorlede is. Clara was toe 36 jaar oud en het reeds agt kinders gebaar.

Het Felix, die jongste van die agt kinders, ooit sy pa gesien?

Clara was swanger toe Robert in die inrigting opgeneem is. Hy en sy jongste seun, gebore op 11 Junie 1854, het mekaar nooit gesien nie.

Miliusstraat 32 in Frankfurt waar Clara Schumann saam met haar dogters Marie en Eugenie gewoon het en waar haar jongste seun, Felix, oorlede is. Foto: Institut für Stadtgeschichte, Frankfurt am Main

Robert was baie tevrede om sy seun na Felix Mendelssohn te vernoem met wie hy en Clara lank vriende was. Hulle het in dieselfde tyd in Leipzig gebly. Felix, die gelukkige een.

Johannes Brahms, wat nie kinders gehad het nie en wat baie vir Clara en haar gesin gedoen het nadat hy hulle in Oktober 1853 in die teenwoordigheid van die beroemde violis Joseph Joachim ontmoet het, was Felix se peetpa. Hy het ook twee van Felix se mooiste gedigte as liedere getoonset: “Meine Liebe ist grün wie der Fliederbusch” en “Wenn um den Holunder der Abendwind kost”. Hulle is in 1873-’74 gekomponeer en in ongeveer 1874-’75 gepubliseer.

Nadat Felix op 16 Februarie 1879 op 24-jarige leeftyd dood is aan tuberkulose, het Brahms nooit weer enige van Felix se gedigte getoonset nie.

Wat was Clara se status as pianis?

Clara is oraloor in Europa gevier as ’n voorste pianis, van Londen tot in Moskou.

In 1878 het sy ’n pos as ’n klavieronderwyseres aan die Hoch’sche Conservatorium in Frankfurt aanvaar en in September in Myliusstraat 32 saam met haar dogters Marie en Eugenie gaan woon. Dit is waar Felix die volgende jaar gesterf het. Hiervandaan het Clara haar konserttoere voortgesit tot haar laaste openbare optrede in Frankfurt in 1891.

Watter gevolge het Robert se dood vir Clara se konserttoere ingehou?

Clara moes en wou ná haar man se dood soveel moontlik optree. Sy het verskillende redes daarvoor gehad: Sy wou sy werke aan Europa bekend stel soos sy dink Robert dit sou wou gehad het. Sy wou sy naam laat voortleef. Sy moes ook geld verdien. ’n Mens sou jou kon voorstel dat sy as ’n voorste pianis wat reeds groot roem as kind verwerf het, nie haar kunstenaarsloopbaan sou wou opoffer nie.

’n Foto wat in 1887 in Londen van Clara Schumann geneem is.Foto: Johann Christian Senckenberg-biblioteek in Frankfurt

Daarom kon sy nie soveel aandag aan haar kinders skenk nie. Felix is op agtjarige ouderdom vir sy skoolopleiding na Berlyn gestuur. Ook die tweede jongste, Eugenie, is na ’n kosskool gestuur. Dit moes vir die kinders moeilik gewees het, veral vir Felix, wat as kind reeds met sy gesondheid gesukkel het.

Is daar enige band tussen Clara Schumann en Suid-Afrika?

Elsie Hall (1877-1976), gebore in Australië, het in 1887 as tienjarige saam met haar ma en jonger suster na Stuttgart in Duitsland vertrek om aan die konservatorium klavier te studeer. Volgens wat afgelei kan word uit die jaarboeke waarin optredes van die studente gepubliseer is, was sy uiters suksesvol.

Sy is hierna na Londen vir skoolopleiding en op aandrang van Joseph Joachim later na Berlyn, waar hy die direkteur van die Hochschule für Musik was. Daar het sy kort ná haar aankoms ’n klavierkonsert in die Hochschule uitgevoer – ’n aanduiding van die hoë gehalte van haar spel vergeleke met al die ander klavierstudente. Die dirigent was heel waarskynlik Joachim.

Heinrich van der Mescht

Elsie Hall is op 99-jarige leeftyd in Kaapstad oorlede nadat sy vanaf 1919 oor verskillende tydperke hier gewoon het.

Haar (onbetroubare) outobiografie is getiteld The Good Die Young.

In Maart 1896 het sy ’n uitnodiging van Clara ontvang om by haar te kom kuier in Myliusstraat in Frankfurt. ’n Mens vermoed dat die jonge Elsie, toe 19 jaar oud, wel by die geleentheid op 25 Maart vir Clara voorgespeel het. Twee maande ná die ontmoeting het Clara (toe 76 jaar oud) ’n ent gaan ry (vermoedelik met ’n perdekar), sleg begin voel en ’n paar dae later gesterf. Dit is dus moontlik dat Elsie Hall een van die laaste mense was wat vir Clara voorgespeel het.

Dit is verbysterend om Clara se uitnodiging aan Elsie Hall in die spesiale versamelings van die Universiteit van Kaapstad te ontdek. Daar sit die kaartjie in Elsie se plakboek, wat heel waarskynlik deur haar ma bygehou is. Dit is 11 cm breed en 9 cm hoog en lui:

“Frankfurt. 24 Maart 1896.

Mevrou Schumann versoek mej. Hall, ingeval sy reeds [in Frankfurt] aangekom het, om môre, Woensdag, om 11 uur na haar toe te kom om vir haar voor te speel.”

Clara Schumann is op 20 Mei 1896 oorlede. Sy is langs haar man in die Ou begraafplaas in Bonn begrawe.

  • Met dank aan Clive Kirkwood, argivaris by die spesiale versamelings van die biblioteke van die Universiteit van Kaapstad, en Ann Kersting-Meuleman van die Johann Christian Senckenberg-biblioteek van die Goethe-Universiteit in Frankfurt.
  • Van der Mescht het in 2013 afgetree as professor in die departement musiek van die Universiteit van Pretoria en bly deesdae in Groenpunt.
In Clara se spore
  • Gaan kyk op ’n Sondag na die kerk in Schönefeld (nou ’n deel van Leipzig) waar die Schumanns getroud is. Begin stap by die Schumann-mu­seum in Inselstraat 18. Woon miskien die kerkdiens by. Op ’n Sondag weet jy dat die kerk in die oggend oop is en jy dan die uitstalling oor die Schumanns kan besigtig.
  • Kyk by Inselstraat 18 in Leipzig na die gebou waar Robert en Clara ná hul troue gewoon het. Dit is nou die Schumann-museum.
  • Drink koffie by die Coffee Baum in die middedorp in Leipzig waar Robert en sy vriende vergader het. Daar is ’n spesiale Schumann-hoekie.
  • Stap na die huis in Dresden waar Friedrich Wieck later gewoon het. Dit is noord van die Elbe en nou ’n private woning.
  • Besoek die huis by Bilkerstraat 15 in Düsseldorf waar die Schumanns gewoon het, waar Brahms hulle in 1853 ontmoet het en waarvandaan Robert vertrek het op pad na die brug oor die Ryn. Luister voor die tyd na sy Rynse simfonie, die derde van sy vier simfonieë. En dink aan Heine se woorde “Im Rhein, im heiligen Strome” wat Robert in 1840 voor sy troue getoonset het.
  • Gaan kyk na Clara se huis by Myliusstraat 32 in Frankfurt. Hier het Felix gesterf.
  • Soek Felix Schumann se graf in die hoofbegraafplaas in Frankfurt, graf J 709. Dis moeilik om te kry, maar miskien loop jy wel by die grafte van Schopenhauer en Alzheimer verby.
  • Kyk in Bonn in die Ou begraafplaas na die grafte van Clara en Robert.
  • Besoek in Zwickau die Robert-Schumann-Haus, ’n museum.


    Meer oor:  Clara Schumann  |  Duitsland  |  Orkes  |  Klavier  |  Musiek  |  Komponis
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.