Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Clifton: Ware kwessie is die lot van armes
Reggie Nel

Ek het met groot belangstelling en waardering Max du Preez en Cas Wepener se rubrieke oor die Clifton-sage gelees. Dan volg ons die reaksie en kommentaar op sosiale media en besef: dis nog ’n lang pad – ons pad met ras.

Vanjaar sal dit weer oopgevlek en uitgebuit word in die verkiesing. Hoe onderskei jy tussen geraas en insig? Woorde word op verskillende wyses gelees. Dit wek emosionele reaksies. Dit ontlok soms optrede wat nie heeltemal strook met wat (so dink ons) ooglopend aan die gebeur is nie.

My probleem, ook met Max en Cas se standpunte, is dat rassisme (weer eens) bloot gekleur word as ’n verhoudingsprobleem – selfs ’n (interkulturele) kommunikasieprobleem. As ons tog net mekaar se woorde en bedoelinge beter verstaan! Uiteraard sal dit baie help as ons almal aan verhoudinge en kommuniksievaardighede kan werk. Maar die rasding sny dieper. Die geweld is dieper en die pyn lê op ’n vlak waar woorde, selfs ons beste poësie en prosa, nie kan raak (of heel) nie.

Optrede soos dié van die private sekuriteitsmaatskappy roep dan diepe ervarings van pyn na vore en simboliseer die strukturele realiteite. Dit gaan oor die vraag wie kan private sekuriteit vir strande bekostig – en wie is die teikens van hierdie magspel.

Ek moet erken, ek was nie werklik geroer deur die “pyn” van diegene wat verwyder is nie. Die eintlike kwessie is tog eerder dié mense wat regtig nie op Clifton se strande kan kuier nie – omdat hulle in Desember nie werk of ’n inkomste het nie. Vir hulle was die township of selfs plakkerskamp maar hul voorland.

Terwyl mense die beste maak van hul omstandighede, gaan dit oor oorlewing.

Terwyl mense die beste maak van hul omstandighede, gaan dit oor oorlewing. Om op strande te kan kuier was nie eens op hul horison nie. So, om op te ruk en die strande te reinig van rassisme en onreg gaan my nie werklik aan nie – die skape moet eerder geslag word sodat mense in veral arm swart gemeenskappe ’n gesonde ete het; dat veral swart kinders veilig bed toe kan gaan met ’n magie wat gevul is. Dis die magte wat dié onreg teen hierdie arm gemeenskappe beskerm, wat ons moet uitdryf.

So, rassisme gaan daaroor dat die omstandighede nog nie verander het vir die meeste swart inwoners van ons land nie. Dit gaan oor brood en botter – nie roomys en strandpartye nie. Jammer. Verskoon my dan maar van die protesaksies en die slag van skape sodat ons as middelklas-professionele met ’n witbrood (of wynbottel!) onder die arm tog net gemoedelik met mekaar kan verkeer. Daai tipe van “aktivisme” met die mooi geskenkpapier, en meesleurende poësie en prosa – maar dan ook die heilige ywer om darem ook iets te mag beleef van die wit rykmanswêreld – gaan nie werklik ’n verskil maak in ons land nie.

Wat wel ’n verskil maak, is betrokkenheid by afgeskeepte swart gemeenskappe – insluitend die laaste 25 jaar. Goeie verhoudinge en fyn gekunstelde kommunikasievaardighede bedek te veel sondes – dit verander nie noodwendig lewenskwaliteit nie. Dit is tyd vir direkte betrokkenheid en ware strukturele transformasie soos ons die volgende 25 jaar van die nuwe Suid-Afrika aanpak.

Nel is dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Clifton  |  Rassisme  |  Armes  |  Armmoede  |  Oorlewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.