Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Coenie is beslis Afrikaans se beste woordsjef
Gerhard van Huyssteen

Wie is Afrikaans se beste liriekskrywer tot nog toe?

Koos Doep? Lucas Maree? Amanda Strydom? Jannie du Toit? Anton Goosen? Of moet ons kontemporêres soos Hunter Kennedy, Hemelbesem, Bittereinder, Spoegwolf en Valiant Swart insluit? En wat van goue oues soos Chris Blignaut of Die Briels?

Dis waarskynlik ’n onbegonne taak, maar vir my is daar een wat kop en skouers uitstaan …

Coenie de Villiers.

Sy eerste kasset, Skoppensboer, het ek gekry toe ek 14 jaar oud was. Tannie Anna Snyman was Schweizer-Reneke sedorpsbiblioteektan­nie, en benewens dat sy my André P. Brink en Etienne Leroux se boeke (toegesmokkel in Konsalikboekomslae) laat lees het, het sy my vertel van dié nuwe, omstrede sanger wie se musiek pas deur die SAUK verbied is.

Buite, in die winterson, / Maak ek my oë toe / En dan is ek weer veertien; / Kan ek nog adamsvye proe

Word die man dan nie oud nie? Raak sy woorde nie op nie? Vergeet hy nooit ’n noot agter die klavier nie?

Verlede Vrydagaand, meer as 30 jaar later, had ek die voorreg om die bekendstelling van sy 21ste album, Pure Coenie, in Pretoria by te woon. Ag, liewe aarde tog, wat ’n belewenis! Word die man dan nie oud nie? Raak sy woorde nie op nie? Vergeet hy nooit ’n noot agter die klavier nie?

Van anderkant die Melkweg / Stuur ek ’n liedjie vir jou aan / omdat ek nie meer daar is nie, / so ver op reis moes gaan

Maar dis nie net sy diepsinnige lirieke, sy eieklankige komposisies of virtuose klavierspel wat my die meeste aangryp nie. Coenie is by uitstek ’n woordsjef. Hy wéét hoe om woorde op unieke maniere bymekaar te stapel:

Die katakombes van die stad – / ja, die skadu’s teen die muur / roer en skuif onrustig / voor ’n steeg se oker vuur

Dis byna onmoontlik om met presiesheid te weet waar en wanneer ’n mens ’n sekere woord geleer het. Ek kan egter sonder twyfel sê dat ek vir die eerste keer in my lewe die woorde “firmament”, “karmosyn”, “baggerboot”, “kopersamowar”, “kaddisj” en selfs “doeane en aksyns” by Coenie gehoor het. Ek weet van Paternoster, Kamieskroon en Komaggas slegs deur sy musiek.

Ek sprei my kelkiewynkaros / Waar die horison die môre los / En iewers staan ’n kokerboom / Kniediep in die geel en droom

En sy bydrae tot Afrikaans se woordeskat? Ek loop bou ’n korpussie van die lirieke van slegs 67 van sy liedjies, altesaam amper-amper 12 000 woorde. Hierin kry ek 57 woorde wat nie elders in ’n groot korpus van 50 miljoen woorde voorkom nie; dus byna een nuwe woord per liedjie!

Laat Coenie se nuutskeppings dié naweek lêplek in jou mond loop vind: moerbeibloed, soldatehemel en pomelomaan; opslagsomer, Winterkaap en randjiesveld; kaneelverkoper, fluweelsnoet en blommejas …

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.