Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Coetzee se doepa sal die DA én SA regdokter

Die DA sal die moed van sy oortuiging moet kry om die wêreld uit sy eie oë te beskou. Om by verstek terug te val op die ANC se wêreldbeskouing sal net die ANC se mislukkings dupliseer, skryf Cilliers Brink.

Mmusi Maimane, voormalige leier van die DA, stem in vanjaar se verkiesing. Die DA het veel swakker by die stembus gevaar as wat verwag is. Foto: Reuters

Liewe kieser, as die politieke professore en ander praatkoppe – wat breedvoerig oor die stand van die DA bespiegel – jou meer verwar as wat hulle sin uit die gebeure in die party maak, is jy nie alleen nie.

Maar voordat ons wel probeer om die DA se probleme in perspektief te plaas, maak eers jou kop skoon en verbeel jou die volgende scenario.

Die land se grootste opposisieparty, wat in elke algemene verkiesing sedert 1994 gegroei het, verloor skielik steun in 2019. Dit ondanks ’n dekade van ekonomiese agteruitgang onder ’n korrupte regering.

Die leier van die opposisie neem die moedige besluit om ’n onafhanklike paneel aan te stel om die party se prestasie te evalueer. Verantwoordbaarheid is nie ’n beginsel wat jy net vir jou teenstanders voorskryf nie. Jy moet dit self ook toepas.

Die paneel voltooi sy werk en bevind dat ’n gebrek aan leierskap waarskynlik tot die party se swak vertoning in die verkiesing gelei het.

Om die DA reg te dokter is presies waaroor die Coetzee-verslag gaan.

Die party se hoogste besluitnemingsinstansie debatteer en aanvaar die verslag.

Die verslag beland in die openbare domein, hoewel die party in elk geval besluit het om dit bekend te maak. In die nadraai van hierdie gebeure bedank die leier en voorsitter nadat verskeie ander topleiers en amptenare reeds dieselfde besluit geneem het.

Hierdie is natuurlik die verhaal van die DA sonder al die drama en intrige van die 24-uur-mediasiklus. ’n Mens het gehoop dat kommentators ten minste melding sou maak van die verslag wat Ryan Coetzee, Tony Leon en Michiel le Roux in opdrag van die voormalige DA-leier opgestel het.

Wie weet, dalk kan iemand die inhoud vir die publiek opsom, die raakpunte uitlig en die blindekolle belig. Maar, met ’n paar uitsonderings in veral die Afrikaanse media, is die meeste kommentaar oor die stand en toekoms van die DA maar bra oppervlakkig.

Só ook Gert van der Westhuizen se gesprek met verskeie politieke kommentators in Beeld en Die Burger van 30 Oktober. Byna elkeen van hierdie deskundiges is dit eens: ’n Nuwe party wat die DA se plek wil inneem, het min hoop op oorlewing en die DA moet eerder reggedokter word.

Om die DA reg te dokter is presies waaroor die Coetzee-verslag gaan en waarom dit so jammer is dat geeneen van die kommentators daarna verwys nie.

Wat is Coetzee se doepa?

Cilliers Brink

Coetzee se doepa behels in essensie die volgende: Raak ontslae van die outoritêre kultuur wat ingesluip het, verkies die mees bekwame leiers, werk hard om die verlore steun terug te wen en doen die DA se nie-rassige filosofie van ’n oop samelewing gestand.

Bowenal sal die DA die moed van sy oortuiging moet vind om die wêreld uit sy eie oë te beskou – insluitend die rol van die staat, die ekonomie, die individu en die land se verlede.

Om by verstek terug te val op die ANC se wêreldbeskouing sal net die ANC se mislukkings dupliseer.

Die Coetzee-doepa sal die meeste joernaliste en kommentators dwars in die krop steek. Diegene stem saam dat die ANC misluk, dat ANC-leiers die land enorme skade berokken en dat ’n wesenlik alternatief broodnodig is.

Maar vir hulle is ’n DA wat te veel van die ANC afwyk, te liberaal, of te regs, of te behep met minderhede.

Maar dis tyd dat hierdie kommentators hul eie aannames ondersoek.

Dit behoort nie saak te maak of die kommentators so ’n DA sal beskou as links, regs of iewers in die middel nie.

Coetzee het selfs onlangs ’n lys van dinge getwiet wat die DA tegelykertyd kan wees: liberaal, ten gunste van die regstelsel van Suid-Afrika se apartheidsverlede, gekant teen ’n rasgegronde beleid, passievol om armoede hok te slaan, pro-mededingende markte en vol begrip vir die emosionele impak van ons land se verlede.

Jy het nie ’n graad in politieke wetenskap nodig om te verstaan hoe fundamenteel hierdie samestelling van standpunte die DA sal onderskei van sowel die ANC en ander partye nie.

Dit behoort nie saak te maak of die kommentators so ’n DA sal beskou as links, regs of iewers in die middel nie. Dis belangriker dat die DA wel vir Suid-Afrikaners ’n wesenlike alternatief bied en dat die kiesers ’n kans het om ’n keuse daaroor uit te oefen.

* Brink is ’n DA-parlementslid. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Tony Leon  |  Ryan Coetzee  |  Mmusi Maimane  |  Michiel Le Roux  |  Cilliers Brink  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.