Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Coligny, Parys en SA se dorpe
Gert Coetzee

Daar is Coligny. En daar is Parys.

Die een dorp brand omdat twee wit mans – velkleur is relevant – ná die dood van ’n swart seun ingevolge geldige regsgronde borgtog deur ’n swart landdros toegestaan is.

In die ander dorp staan wit mans tereg op ’n aanklag van moord van twee swart mans.

In Coligny sou die oorledene dan sonneblompitte gesteel het. En sy nek gebreek het toe hy self van ’n bakkie gespring het om weg te kom.

In Parys sou die twee oorledenes dan plaasaanvallers wees. Hieroor heers twyfel. Die hof moet uitsluitsel gee.

Daar is oorvleuelende elemente, ook rasverwant, maar Coligny en Parys kan nie direk vergelyk word nie. In laasgenoemde was ook protes-aksie, maar die dorp het nie gebrand nie.

Wel waar is dat Coligny en Parys en die gebeure hier ook die verhaal van baie Suid-Afrikaanse dorpe is.

Dit is ’n kruitvat wat wag om te gebeur, en al lont wat nodig is, is onbesonne optrede deur diesulkes wat trots rassisties is, of ’n ANC-LUR wat per blink limousine injaag, rassisme aanhits en weer selftevrede wegjaag.

Die platteland verander. In die dae van apartheid het ’n dorp ’n sterk boeregemeenskap gehad, ’n gevestigde skool met koshuis, kinders wat ná universiteit weer na hul tuisdorp teruggekeer het, ’n stampvol kerk op Sondag, ’n hotel, ’n rugbyspan, ’n landbouskou, ’n koöperasie, tennis en ’n dansparty op Saterdag en – in groter dorpe soos Aliwal-Noord en Victoria-Wes – selfs ’n bioskoop. Plaaswerkers het in “strooise” gebly, en in die dorp het swart mense in die “lokasie” gebly.

Toe kom meganisering, groener weivelde, ontvolking, verpolitisering, agteruitgang, verval, armoede, werkloosheid, misdaad. En ’n krimpende en groeiende gaping tussen wit en swart in ons dorpe.

Groeiend in dié opsig dat die wittes op die dorp ál minder – en ouer – raak, terwyl die townships met HOP-huisies uitbrei. Rommel oraloor is algemeen.

Krimpend deurdat verarming – en staatspensioene – nie velkleur ken nie.

Krimpend deurdat verarming – en staatspensioene – nie velkleur ken nie.

Almal ly onder swak dienslewering, wat vullis-ophoping, slaggate, probleme met water en krag en gehawende infrastruktuur insluit. Buiten die nie-beskikbare burgemeester, munisipale bestuurder en hul ANC-trawante in die betalende sagte kussings met selfone, toelaes en luukse motors.

Soms kook dit oor, soos in Meqheleng, Ficksburg, in 2011 toe Andries Tatane deur die polisie doodgeskiet is in ’n opstand teen korrupsie en vir skoon water.

(Verlede week is Tatane se vrou, Rose, oorlede in ’n motorongeluk sonder dat haar man se dood enige drastiese ommekeer in Meqheleng by die owerheid kon ontketen.)

Of mense word in hul huise op plase of in die dorp ingewag of snags oorval en uitgemoor. Ter wille van buit en bloedlus. Tot nadeel van die ganse dorp – soos as die dorpsgeneesheer vermoor word.

Die koöperasiewinkels is deur kafees van Bangladesji’s en Pakistani’s vervang – wat ook onder misdaad deurloop. Diegene wat dit kan bekostig se kinders wyk uit na stadskole. Almal het mense oorsee. Rassehaat en die speel van die raskaart is algemeen.

Enkeles in die dorpe doen hul bes om ’n verskil te maak. Al is dit deur die herstel van slaggate of opruiming.

En daar is steeds uitskieter-skole op ons platteland. Landbou, toerisme of ondernemerskap met sterk leiers wat voorloop en opheffende projekte vir die gemeenskap dra van die dorpe.

Maar ja, ons dorpe is onder beleg. En bloei. Diegene wat dit eerbaar aan die gang hou, verdien ons elke greintjie dankbaarheid.

Sonder dorpe is ons land nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.