Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Comrades-wenners wag steeds op minister se beloofde geld

Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning, lyk asof hy op sy gelukkigste is wanneer die rooi ligte van TV-kameras flits. Die probleem is net dat die geld vir die tjeks wat hy op TV aan vanjaar se Comrades-wenners oorhandig het, nooit by hulle uitgekom het nie, skryf Sarel van der Walt. 

Sarel van der Walt

Die dag ná vanjaar se Comrades op 29 Mei oor net minder as 90 km tussen Pietermaritzburg en Durban het die twee uitgeputte wenners en twee naaswenners gehoor hulle moes die volgende oggend baie vroeg by die SAUK se TV-ateljee in Aucklandpark, Johannesburg, wees.

Want, het hulle gehoor, Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning, wil hulle persoonlik op TV gelukwens met hul uitsonderlike prestasies.

Dit is dieselfde Mbalula wat lyk of hy op sy gelukkigste is wanneer die rooi ligte van TV-kameras flits.

David Gatebe, die manswenner, en Charné Bosman, die vrouewenner, sowel as Ludwick Mamabolo, wat tweede in die afdeling vir mans was, is inderhaas Johannesburg toe.

Caroline Wöstmann, die naaswenner in die afdeling vir vroue, was nie saam met hulle in die ateljee in Aucklandpark nie. Sy was nog te uitgeput ná haar tweestryd die vorige dag met Bosman.

Wöstmann, verlede jaar se wenner, se petrol het spreekwoordelik enkele kilometers van die eindstreep in die Kingsmead-krieketstadion opgeraak.

Bosman is by haar verby terwyl TV-kykers op die punte van hul stoele die drama gevolg het.

Voor die oë van miljoene Suid-Afrikaanse kykers het Mbalula die volgende oggend in die ateljee met groot fanfare simboliese tjeks en spesiale goue medaljes aan die drie atlete oorhandig. Hy het hulle geloof en gesê hulle het Suid-Afrika trots gemaak met hul vertonings.

Mbalula het nogal gespot die tjeks wat hy aan hulle oorhandig het, 'sal nie hop nie'.

Mbalula het nogal gespot die tjeks wat hy aan hulle oorhandig het, “sal nie hop nie”.

Dit is woorde wat besig is om in sy gesig te ontplof, want volgende Sondag sal dit vyf maande sedert die Comrades wees en nie een van die vier het al die minister se beloofde geld ontvang nie.

Die minister het R150 000 aan Gatebe beloof omdat hy nie net gewen het nie, maar ook ’n nuwe rekordtyd gehardloop het, terwyl Bosman R100 000 vir haar oorwinning sal kry.

Mamabolo en Wöstmann sal minder kry.

Toe die atlete later begin navraag doen het oor die geld, is hulle van bakboord na stuurboord gestuur tussen die departement van sport en ontspanning en Atletiek Suid-Afrika (ASA).

Uiteindelik het hulle gehoor die geld kan eers uitbetaal word as die riglyne wat die tesourie neergelê het, deur die departement van sport en ontspanning gevolg word.

Meer as twee weke gelede het ek by die minister se kantoor navraag gedoen. Ek is meegedeel die geld sou vroeg die volgende week aan ASA oorbetaal word.

Dit is nie.

Dik vir ’n daalder?

Laat verlede week het Richard Stander, uitvoerende hoof van ASA, gesê ASA het toe pas ’n finale kontrak van die departement ontvang wat deur Aleck Skoshana, ASA se president, onderteken moet word. Hy sou dit eers die naweek op ASA se jaarvergadering kon doen.

Stander sê ASA het in Junie reeds die nodige dokumente aan die departement van sport en ontspanning gestuur.

Dat die kontrak nou eers by ASA uitgekom het, beteken dalk die atlete sal waarskynlik nog ’n week of wat op hul geld moet wag.

Die Comrades-vereniging betaal aan die atlete hul prysgeld uit sodra hy die uitslae van die toetse vir verbode middels ontvang en die wenners se toetse negatief is. Niemand verwag van die departement om die geld dadelik oor te betaal nie, maar vyf maande is ’n bietjie dik vir ’n daalder.

Kon Mbalula nie meer druk op die amptenary in sy departement geplaas het om die proses te versnel nie?

Of pla dit hom nie omdat hy reeds die oggend ná die Comrades in die TV-ateljee in Johannesburg sý publisiteit gekry het?

* Sarel van der Walt is ’n politieke joernalis in Pretoria wat al sedert 1988 oor die Comrades verslag doen.

Meer oor:  Sarel Van Der Walt  |  Fikile Mbalula  |  Atlete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.