Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Omgewingsake
Covid-19-afval kan krisis in see en veld skep

Met die stryd teen die Covid-19-virus, wat elke laag van ons samelewing binnegedring het, het ’n nuwe uitdaging ontstaan: Weggooi-maskers, lateks-handskoene en plastiekbottels waarin handreinigers was, maak oral op sypaadjies, in die veld en selfs op die seebodem hul verskyning.

Een van die eerste bewaringsgroepe wat verbruikers en vervaardigers se aandag op die “nuwe afval” gevestig het, was die Franse nieregeringsorganisasie Opération Mer Propre (OMP). Regstreeks vertaal beteken sy naam Operasie Seesonde.

OMP is deesdae byna heeltyds besig om die strande en die see by die Franse Riviera skoon te maak. Hy verwys nou na hierdie nuwe soort besoedeling as “Covid-afval”.

Die groep het onlangs, volgens ’n berig in The Guardian, tientalle handskoene, maskers en plastiekbottels (dit is benewens die gewone weggooibare koppies en koeldrankblikkies) uit die Mediterreense See geduik.

Die gemors wat hulle uit dié deel van die Middellandse See gehaal het, is volgens OMP ’n druppel aan die emmer, veral as ’n mens na die groter prentjie kyk en sien die mensdom gryp nou uit desperaatheid na enkelgebruikplastiek om hom teen die Covid-19-virus te beskerm.

Net in Frankryk is twee miljard weggooibare maskers in die laaste maande deur sy regering bestel.

OMP se Laurent Lombard waarsku oor die uiteinde van dié maskers en ander beskermende drag en sê daar gaan binnekort meer hiervan in die see wees as jellievisse.

Die China-Afrika-projek, onder leiding van Eric Olander, het onlangs in ’n artikel geskryf China vervaardig daagliks 110 miljoen maskers. 10 000 Chinese vervaardigers het sedert begin vanjaar tot dié bedryf toegetree.

Dink net vir ’n oomblik aan die hulpbronne wat nodig is vir die vervaardigingsproses: water, krag en, in die geval van plastiek, net nog meer petroleumprodukte.

Suid-Afrika het maande gelede met die hulp van die regering se Solidariteitsfonds vyf miljoen maskers ter waarde van R52 miljoen van China bestel.

Die dure les wat sommige Suid-Afrikaners nou al geleer het, is dat sommige Chinees vervaardigde artikels maar van ’n baie swak gehalte is.

Daarom moet ons baie dankbaar wees vir ons eie entrepreneurs wat werk skep en lapmaskers maak wat ons net met seep en water kan uitspoel en weer en weer kan gebruik.

OMP sê ook was eerder jou hande met seep en water en vergeet van plastiekbottels met handreinigers.

En as jy dan winkel toe moet gaan, neem jou eie handreiniger saam en gebruik jou spuitbotteltjie oor en oor.

Elkeen van ons het ’n plig om te sorg dat ons te midde van die pandemie verantwoordelik optree en sorg dat ons nie ’n nuwe omgewingskrisis skep nie.

Elise Tempelhoff
Meer oor:  Elise Templehoff  |  Rubriek  |  Omgewingsake  |  Afval  |  Krisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.