Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Covid-19: ‘Laat hulle koek eet’

In hierdie dae het ’n honger man by sy hek staan en koek eet; het hy aan die angs oor ’n besmette tafeltjie in sy graadeen-jaar gedink, en moes hy ’n Covid-19-toets ondergaan, skryf Murray La Vita.

MakrolleFoto: iStock

Phillip was eerste.

Kort ná die inperking het hy die klokkie by die hek van ons huis in Woodstock kom lui. Hy is ’n karwag en die restaurante in die strate waar hy werk, is nou toe – die straat is stil; hy is honger.

Nadat ek vir hom ’n blikkie bone in tamatiesous, ’n blikkie Lucky Star-sardyne en twee appels gegee het, het ek in my studeerkamer gaan sit. En daar het my oog geval op Javier Marías se roman Thus Bad Begins wat ek ’n paar jaar gelede tydens ’n Desembervakansie op Hangklip gelees het.

Hoe ver is ek nie nou van daardie sonskyndae en die geruis van die see in my ore nie, het ek gedink. En watter onheilspellende betekenis het die vreemde titel van Marías se roman nie nou in Maart 2020 aangeneem nie.

Ook hý het aan my gesê hy is nou werkloos en het nie kos nie – nie hy, sy kind of sy ma het iets te ete nie.

Die volgende oggend was ’n lenige man in sy dertigs by die hek. Ek sou mettertyd uitvind sy naam is Chivago en hy woon saam met sy dogter Skye (1) en sy ma agter in ’n kamer in die erf van sy tante se huis in Mowbray, ’n buurt wat ’n paar kilometer van Woodstock af is.

Hy het gesê “kamer”, maar ek wonder of dit nie een van daardie Kaapse tuistes is waarna mense verwys as ’n “hokkie” nie – dit wil sê ’n Wendyhuis; iets waarin middelklasmense hul tuingereedskap, gholfstokke en braaihout bêre, en waarin duisende arm mense woon.

Chivago was in Lotus High en het ná skool begin werk “in air conditioning”, op die “dokke” en in “construction”.

Ook hý het aan my gesê hy is nou werkloos en het nie kos nie – nie hy, sy kind of sy ma het iets te ete nie.

Ek het weer blikkieskos en appels gegee.

Nuwe mense

’n Paar dae later gaan ek na die Balmoral-supermark in Woodstock se hoofstraat. Met die oog op die honger mense – minstens vier op ’n dag het nou kom kos vra – koop ek ’n voorraad blikkieskos (blikkies wat met die hand, sonder ’n blikoopmaker, oopgemaak kan word) en pakkies mieliemeel en rys. Terwyl ek hierdie kos vir die armes koop, laai ek ook dinge soos fetakaas, botter, amandels, vye en druiwe in die winkeltrollie. En ek kry skaam.

Ná ’n paar dae is die blikkieskos, rys en mieliemeel (wat ek in pakkies opgemaak het) op en moet ek weer gaan koop, want die klokkie by die hek hou nie op lui nie.

Ek leer nuwe mense ken. Onder hulle is Jimmy, ’n skraal jong man met een leepoog. Op sy regtervoorarm is ’n W en ’n T getatoeëer. Hy sê hy was ’n lid van die bende Terrible Westerns.

Die derde of vierde keer wat hy kom kos vra, bring Jimmy sy Amerikaanse veghond, Chocolate, saam. Hy wys haar trots vir my en sê sy het onlangs ses kleintjies gebaar.

Koronavirus

Intussen begin ek hoes en word met antibiotika en kortisoon behandel vir ’n vorm van longontsteking. Toe ek ná drie weke steeds ’n geweldige tamheid ervaar, sê my dokter die kanse is goed dat ek deur die koronavirus besmet is.

Op ’n Vrydagoggend gaan ek na die Kaapstadse MediClinic (die ou Volkshospitaal oorkant Berghof waar Elsa Joubert woon) om vir Covid-19 getoets te word.

Ek is die enigste pasiënt wat gaan sit by een van die tafeltjies wat in ’n kelderparkeerruimte van ’n gebou staan. Die tafeltjie laat my aan my graadeen-jaar dink; die singery in die skoolsaal:

O God van Jakob, deur u hand

word ons steeds gevoed;

U het weleer op see en land

ons vadere behoed!

Hoe vreemd dat ek die woorde van hierdie gesang uit die bloute ná soveel dekades onthou, dink ek? Is dit omdat ons dit so dikwels gesing het? Is dit omdat dit so dralerig was?

Ek kyk af na die tafelblad en onthou ook hoe angstig ek was om aan die begin van elke kwartaal ’n skoon tafeltjie te kry, een waarop daar geen woorde of merke uitgekrap is nie. En ek onthou hoedat ek die keer toe ek wél ’n bevlekte tafeltjie gekry het, elke dag krampagtig probeer het om die ink met my uitveër uit te wis; om die tafeltjie te reinig.

Die vrees en angs het gespruit uit ’n waarskuwing van ons onderwyseres dat ons gestraf sou word as daar merke op ons tafeltjies is.

Nadat ek die vorm ingevul het, word ek na ’n vertrek begelei waar ’n vriendelike jong vrou met ’n Namakwalandse aksent (sy kom van Springbok af) ’n lang depper neem en sê sy gaan dit in my neus druk en dit kan dalk ongemaklik wees. Ek kantel my kop agteroor en probeer so min as moontlik asemhaal – ek wil haar immers nie besmet nie. My kop ruk wanneer sy die depper indruk; dit is ’n skerp en onaangename sensasie. Dan haas ek my na die anderkant van die vertrekkie; draai weg van die vrou en begin nies.

MIV en ’n aktrise

Ek sit weer my masker (wat my vriendin vir my gemaak het) op en ry huis toe.

Die vrou het gesê dit kan tot drie dae neem voordat ek die uitslag van die toets kry, want die laboratoriums is baie besig.

Hallo Murray, goeie nuus. Covid-19-toetsuitslag is negatief.

Ek dink terug aan die keer jare gelede toe ek myself vir die eerste keer vir MIV laat toets het. Ek en my vriendin (’n aktrise met die mooiste groot oë wat intussen aan longkanker gesterf het) het ons saam laat toets in ’n kliniek in Hillbrow. Ons moes ’n week wag op die uitslag. Van die mooiste woorde wat ek nog ooit gehoor het, het uit die kliniekdokter se mond gekom: “Your blood is fine.”

Tuis sonder ek my af in die dakkamer van ons huis. Ek is bekommerd oor my vriendin. Het ek haar reeds aangesteek? Die Sondagaand stuur my dokter vir my ’n WhatsApp: “Hallo Murray, goeie nuus. Covid-19-toetsuitslag is negatief.”

Chivago eet koek

Kospakkies word in die Every Nation Church in Retreat, Kaapstad, vir werklose honger mense voorberei.Foto: Jaco Marais

In die tyd van my siekte bly ek in die bed. Ek gaan nie uit om kos te koop nie en honger mense draai teleurgesteld om by ons hek. Dan begin ek deur Pick n Pay kos bestel wat afgelewer word.

Een oggend – ek dink dit was ’n Saterdagoggend – is Chivago weer by die hek. Daar is weer kos in die huis en ek neem vir hom ’n pakkie.

Hy staan en eet terwyl hy met my praat. In sy een hand is ’n deurskynende plastieksakkie met rooi, geel en groen koekies in.

Aanvanklik dink ek my oë bedrieg my, maar dan sien ek dit is makrolle (macarons) wat hy eet. Die laaste keer dat ek makrolle geëet het, was in Parys toe ’n vriend my na die beroemde ou restaurant Angelina geneem het vir tee en koek.

Toe daar vir haar gesê is die mense het nie brood om te eet nie, sou sy volgens hierdie apokriewe oorlewering gesê het: 'Laat hulle koek eet.'

Ek onthou dat ek ook makrolle gesien het tussen die fyngebak waaronder Marie Antoinette se tafel gekreun het in Sofia Coppola se rolprent Marie Antoinette.

Eers huiwer ek, maar vra dan vir Chivago waar hy die koekies gekry het. Hy sê ’n man het dit vir hom gegee en wys na ’n grys huis op die hoek van ons straatblok.

Ek weet nie wat my besiel nie; voor ek myself kan keer sê vir hom dit laat my dink aan die woorde wat (verkeerdelik) aan Marie Antoinette toegeskryf word – toe daar vir haar gesê is die mense het nie brood om te eet nie, sou sy volgens hierdie apokriewe oorlewering gesê het: “Laat hulle koek eet.”

Hy kyk my onbegrypend aan. En neem dan die sakkie met geblikte bone, Lucky Fish-sardyne, mieliemeel, twee aartappels, ’n ui en twee appels deur die hek by my.

* La Vita is 'n senior redaksielid en artikelskrywer van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netrwerk24 nie.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Parys  |  Woodstock  |  Mowbray  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.