Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Covid-19: Landbou het reeds aangepas by die ‘nuwe normaal’

Boere in die land het al klaar by die ‘nuwe normaal’ van Covid-19 aangepas. Wie sou nou ooit kon dink die ‘mute’-knoppie op rekenaars sou só belangrik vir boere word, vra Omri van Zyl.

Landbou in Suid-Afrika het reeds aangepas by die “nuwe normaal” van Covid-19. Foto: Getty Images

Ek sit hier en braai ’n vleisie oor die kole en drink ’n gin en tonic (want my wyn is op) en peins sommer oor al die gebeure die afgelope maand.

Ek weet nou ook eerstehands hoe dit voel om die hele stelsel van voedselproduksie aan die gang te probeer hou in krisistye. Ek weet meer van mense se vrese, radeloosheid en hoop as seker nog ooit in my lewe.

Van wolveilings wat stopgesit is en uitvoere wat sukkel, tot bespiegelinge dat wildsvleis jou Covid-19 kan gee, tot plaaswagte wat nie kan werk nie, probleme met die uitvoer van wyn, wynplase wat toegemaak moes word – om net ’n paar sake te noem.

Landbou het soveel waardekettings – in ons organisasie het ons provinsiaal 16 000 boere wat lede is van boereverenigings, 28 000 boere wat lede is van bedryfsorganisasies waarvan ons 27 by ons het, en sowat 55 korporatiewe entiteite wat in die landbou sake doen.

En ek moet sê ons lede en ons personeel het met oorgawe hul kant gebring.

Dis eintlik ongelooflik hoe so ’n krisis mense saambind om oplossings te vind vir humanitêre probleme.

Met die grandelstaat moes ons leer om dinge anders te doen. Ons Zoom, ons Skype en ons MS Teams dat die rook draai. Ons is elke week in kontak met ons lede en probeer saam met die regering en ander belanghebbendes landbouprobleme oplos.

Dis eintlik ongelooflik hoe so ’n krisis mense saambind om oplossings te vind vir humanitêre probleme.

Ek vind ook dat ’n eie protokol in virtuele vergaderings ontwikkel word. Daar is die praters en dan is daar die luisteraars.

Ons het wenke deurgestuur vir die beste maniere waarop virtuele vergaderings gehou kan word, maar op die plaas en in die veld werk dinge ’n bietjie anders. Die plaasgeluide was aanvanklik ’n uitdaging, maar ons het vinnig geleer dat die “mute”-knoppie ’n moet vir ’n vark-, skaap-, wol- of beesboer is.

Ek moet darem sê dat ons stelselmatig die ritme van die virtuele platforms begin baasraak.

Omri van Zyl Foto: Deaan Vivier

Dan is daar natuurlik nog die Engels ook. Kyk, daar in die Noord-Kaap waar my familie vandaan kom, praat ons net Engels uit selfverdediging. Ons het gereeld internasionale gesprekke of gesprekke met die regering in Engels.

Dan probeer ons met die beste bedoelings die Engels baasraak; ons verduidelik en vra mekaar wat is dit of dat nou weer in Engels?

Ons probeer altyd planne maak, altyd aan ander maniere dink om te verbeter, dis mos wat boerdery is.

As mense nie weet hoe belangrik voedselsekerheid is nie – hoop ek werklik daar is ’n nuwe waardering vir wat georganiseerde landbou vir ons land beteken.

Maar hel, ek is dankbaar vir ons boere, vir die lekkerkry en die swaarkry. Daar is soveel verskeidenheid, soveel hoop en soveel genade.

Ons is werklik een van die strukture in die ekonomie wat nog werk en het reeds aangepas by die 'nuwe normaal'. Pessimiste sal natuurlik sê: “Hulle sal nooit weet nie”, maar hopelik maak vaardigheid in die nuwe normaal meer saak as politiek en samewerking meer as verdeling.

Ons mag nie die invloed van Covid-19 onderskat nie, ook nie die rommelstatus waarin ons land se kredietgradering is nie – en veral nie die kombinasie van dié twee faktore nie.

Maar hel, ek is dankbaar vir ons boere, vir die lekkerkry en die swaarkry. Daar is soveel verskeidenheid, soveel hoop en soveel genade.

Ons begin elke vergadering met ’n gebed – elke keer, elke dag.

* Van Zyl is uitvoerende direkteur van Agri SA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.