Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Covid-19 loop op die spoor van 'Die Pes'

Verskeie opnames toon dat Albert Camus (1913-1960) se roman La Peste (Die Pes) tans die gewildste boek is en gelees word as “getuienis” oor hoe die Covid-19-virus die ganse wêreld oorrompel en radikaal verander het.

Miskien is dit die roman se onheilspellende slotwoorde wat lesers fassineer: “Die pes, bacillus, verdwyn nooit heeltemal nie. Dit kan jare lank sluimerend bly in meubels, in klerekaste, in boekrakke; dit kan geduldig wag in slaapkamers, kelders, koffers, sakdoeke en in ou papiere om miskien eendag . . . weer toe te slaan in die een of ander stad.”

Wilhelm Jordaan

Die verhaallyn in Die Pes is eenvoudig: In die Algerynse stad Oran begin vrek duisende rotte in die strate.

Camus beskryf in meesleurende besonderhede die “nuwe bestaansvoorwaardes” – mense se ervarings van samehorigheid en vreemdelingskap, van afsondering en verlange na nabyheid, van vertroue en wantroue, van hoop en wanhoop.

Daar is die lang toue mense by koswinkels, en alles maak dat die ganse stad “soos ’n wagkamer lyk.” Namate ál meer mense die pes opdoen en sterf, kom die slegste én die beste in die stad se mense na vore. Soos dit nou ook met Covid-19 gebeur.

Daar is inderdaad treffende ooreenkomste tussen sommige sleutelkarakters in die roman en dit wat nou óm en ín ons gebeur.

Daar is Cottard – ’n skelm wat hom verlustig in die ellende, want hy maak geld deur onwettig minderwaardige drank en verbode sigarette te verkoop.

Teenoor die slegste die beste: Dr. Bernard Rieux, met min middele tot sy beskikking, werk onverpoosd om lewens te red, al begeer hy om na sy vrou te gaan wat hy laas voor die koms van die pes gesien het.

Hy sien nie sy stryd teen die siekte as heldhaftig of edel nie, maar as ’n geval van menslikheid: “Die mens is nie ’n idee nie. Mense is werklik. Ek weet sommige mense glimlag as jy dit sê, maar dis die enigste manier om ’n pes te bestry – deur doodgewone menslikheid.”

Camus se Die Pes kan ook verstaan word as ’n metafoor oor die mens onder die “beleg” van die een of ander teistering – van binne en van buite, psigies en liggaamlik, spiritueel en materieel.

Nog ’n karakter, die kunsliefhebber Jean Tarrou, word meegevoer deur die stryd en hy organiseer spanne vrywilligers.

Hy doen dit omdat hy nie die owerheid se halfgebakte planne vertrou nie, want hy is oortuig alle politieke stelsels is kop in een mus met misdadigers en ander skelms.

Camus se Die Pes kan ook verstaan word as ’n metafoor oor die mens onder die “beleg” van die een of ander teistering – van binne en van buite, psigies en liggaamlik, spiritueel en materieel.

En miskien sal ons eendag ook só na die Covid-19-pandemie terugkyk.

In die trant van Antonin Artaud, Franse digter, se woorde: “Die Pes is die veruiterliking van ’n diep sluimerende wreedheid waardeur al die perverse moontlikhede van die gees in die enkeling of ’n nasie tot uiting kom.”

  • Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Rubriek  |  Covid-19  |  Roman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.