Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Covid-19 maak ons wild soos ’n bonsmara
Annelie Botes

Die nuwe normaal is reeds by die meeste van ons ’n gegewe. Ons murmureer nie oor maskers of as ons hande bespuit word nie. Is geïrriteerd met toustaners wat styf teen ons vaskruip. Ons vermy samedrommings. Kyk op die internet na begrafnisse.

Maar iewers in ons lewens begin daar stadigaan ’n sinkgat van eensaamheid inval. Ons is nie gerat om soos hermiete te leef nie. Ons hou daarvan om met medereisigers op ons pad te gesels, koffie te drink, om ’n braaivleisvuur te staan, naweke by die familie te kuier. Plaasmarkte besoek, langarm dans, vir die kerkbasaar werk.

Sedert die inperking maande gelede afgeskop het, het byna alle saamweeskanse verbrokkel. Die kerkkoor sing nie. Die VLV, damesdinamiek, brugklub en hekelklub is stagnant. Konserte, huisbidure, feeste, dorpsdanse, pannekoek- en stoepstorieaande, katte- en orgideeskoue het stil geraak.

Niemand speel vlugbal op die strand nie. Kantore staan leeg, want hordes mense werk van die huis af, sonder wisselwerking met kollegas. In kolossale kerke sit ’n skamele paar gangers ver uiteen. Daar word nie meer rondom tee en semelbeskuit in die kerksaal gekuier ná die erediens nie.

Hoeveel mense sal in die nabye toekoms ’n sielkundige stut nodig hê? Omrede eensaamheid en ’n gebrek aan sosiale rugsteun.

Sulke interaksies is mense se manier om verbintenisse te bou en onderskraging te vind. Of dit in die nuwe normaal ooit weer in volle gang sal kom, moet ons wag en kyk. En daardie wagtyd kan lánk duur, want die mensdom het hulle grys geskrik.

In 2008 toe ek vir Thula-thula navorsing gedoen het oor bonsmara-beeste, het Francois Marais van Skelmkloof in die Bedforddistrik gesê bonsmaras word nie saans kraal toe gebring om gemelk te word nie. Dis vleisbeeste en hulle loop soms vir lank alleen in die bergveld. Maar die boer ry gereeld berg se kant toe om soutlek uit te sit, sodat die bonsmaras ’n mens en voertuig kan sien en hoor, anders word hulle letterlik wild. En die boer kan nie oor hulle koppe vryf om hulle weer mensmak te kry nie.

Laasweek sien ek ’n bejaarde tannie met sakke kruideniersware terugsukkel van Checkers af Buffelsfontein-ouetehuis toe. Dis ’n gereelde gesig. Ek trek af en bied aan om haar tot by die ouetehuis te neem. “Nee, dankie,” en ek sien die angs in haar oë, “ek sal regkom.” Voor ek kan sê sy mag op die agtersitplek sit, stap sy voetslepend voort.

Dit herinner my aan Francois en die bonsmaras. Hoeveel mense sal in die nabye toekoms ’n sielkundige stut nodig hê? Omrede eensaamheid en ’n gebrek aan sosiale rugsteun. ’n Angsvallige wildheid wat jou weghou van jou naaste se warmte en troos. Alhoewel Facebook of ’n televisiebeeld of radiostem ’n vorm van nabyheid is, kan dit nooit ’n vrywende hand op jou rug wees nie.

Nou wonder ek of die sielkundige ghoeroes betyds beplan vir die nuwe normaal wat sy slagoffers sal eis. Van iewers af sal ons olie vir ons dowwe lampe moet opgaar.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Covid-19  |  Menslikheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.