Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Covid-19 moenie kiesers keer nie
Alida Kok

Terwyl dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en die Verkiesingskommissie (OVK) in gesprek is om te besluit wanneer vanjaar se munisipale verkiesing gaan plaasvind, het die IVP verlede week ’n versoek in die parlement gerig dat die verkiesing tot Mei 2022 uitgestel word.

Die Grondwet bepaal dat die munisipale verkiesing op ’n datum tussen 4 Augustus en 1 November gehou word. Al hoe meer kommentators begin kommer uitspreek dat die verkiesing later vanjaar in die superverspreiding van Covid-19 kan ontaard.

Dis nie die eerste keer dat ’n voorstel om vanjaar se munisipale verkiesing uit te stel in die parlement gedoen word nie. Verlede jaar het ’n opportunistiese EFF en ANC onder mekaar gekonkel en voorgestel dat vanjaar se munisipa-le verkiesing na 2024 geskuif word – weens die pandemie en sodat die nasionale, provinsiale en munisipale verkiesings op een dag kan plaasvind om “geld te spaar”.

Intussen is bevind dat dit nie goedkoper sal wees as verkiesings op drie vlakke van regering op een dag plaasvind nie. Ontleders wys ook daarop dat so ’n scenario skadelik vir munisipale politiek sal wees.

Nasionale politiek oorheers maklik die agenda en as nasionale en munisipale verkiesings op dieselfde dag plaasvind, sal nasionale politiek sake van plaaslike belang oorheers. Dit sal veral ’n verlies wees as ’n mens in ag neem dat plaaslike regering nou dié speelveld word waar die toekoms van ons politiek beslis word.

Terwyl die ANC en die EFF se voorstel om die verkiesing na 2024 uit te stel eintlik net politieke opportunisme is, wat beteken die IVP se voorstel om die verkiesing na 2022 uit te stel?

Dink aan die hofuitspraak wat aan inwoners van Koster, Swartruggens en Derby hul aansoek toegestaan het om water- en riooldienste self te bestuur. Dié uitspraak is van die radikaalste tot nog toe om verantwoordbaarheid by plaaslike regering af te dwing en het die potensiaal om ons politieke landskap te verander. Sedert 2016 is daar die groeiende moontlikheid dat die ANC in meer munisipaliteite ontsetel kan word. Die stempersentasie is ook sedert 2016 hoër in die munisipale verkiesing as in die nasionale verkiesing.

Terwyl die ANC en die EFF se voorstel om die verkiesing na 2024 uit te stel eintlik net politieke opportunisme is, wat beteken die IVP se voorstel om die verkiesing na 2022 uit te stel?

Een rede wat die IVP aanvoer, is om die regering kans te gee om sy inentingsprogram in werking te stel in die hoop dat genoeg mense teen daardie tyd ingeënt sal wees om “veilig” te kan stem. As dít die rede vir die voorstel is, is die hoop wat die IVP op die inentingsprogram plaas, uiters onrealisties. Selfs voordat die regering die toediening van die Johnson & Johnson-entstof vandeesweek tydelik opgehef het, is bereken dit sal sowat 15 jaar duur voordat kudde-immuniteit bereik word. Die berekening is gedoen teen die stadige tempo waarmee inentings tans geskied.

Boonop vertrou talle Suid-Afrikaners nie die entstof nie en is ’n groot deel van ons jong bevolking nie die regte ouderdom om ingeënt te word nie.

Sodra ’n rolspeler in die politiek dus die inentingsprogram as verskoning gebruik, is dit eerder (weer) ’n geval van politieke opportunisme. Die party wil heel moontlik tyd koop om homself beter te organiseer ter voorbereiding van die verkiesing.

Pandemie-politiek moedig ’n groeiende outoritarisme aan en daarom word ons genoop om vindingryk te wees en seker te maak dat die munisipale verkiesing vanjaar veilig voortgaan. Die OVK kon groot tussenverkiesings ten tyde van die pandemie organiseer en aanbied – die munisipale verkiesing hoef nie ’n uitsondering te wees nie. Demokrasie kan nie uitgestel word nie.

  • Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Verkiesing  |  Kiesers  |  Uitstel  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.