Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vrydag Aktueel
Covid oorweldig ons instellings

Ek was onlangs in ’n boekwinkel op soek na iets om te lees, maar dit was ’n stryd, want ek was bang om deur die boeke te blaai uit vrees dat ek Covid-19 sal kry.

Dis die realiteit waarmee ons nou saamleef. Ons voel veilig in ons huise met dieselfde familielede wat saam met ons ingeperk is.

Rapule Tabane

Enigiemand anders, enigiets anders, benader ons met waaksaamheid en selfs vrees. Die ergste is dat selfs dié waaksaamheid geen waarborg is dat ons nie Covid-19 gaan kry nie. Die pandemie is nou hier.

Die meeste van ons weet van iemand wat aan die virussiekte gesterf het. Ons kan nie meer uit die hoogte na die pandemie kyk of vingers wys nie. Die siekte is met ons en ons moet alles moontlik doen om infeksies te keer.

Dit begin egter wel voel of die siekte, selfs vir owerhede, buite beheer is. Toe Suid-Afrika ingeperk is, was daar wêreldwye lof vir ons benadering, wat behels dat wetenskap ons strategie rig.

Pres. Cyril Ramaphosa is opgestel teenoor Amerika se pres. Donald Trump, wat berug is daarvoor dat hy nie na raad luister nie en sy eie kop volg. Maar toe was ons Covid-19-syfers natuurlik laag en ons was op koers.

Nou lyk dit of dinge uitmekaarval. Ons infeksiekoers en sterftesyfer styg skerp. Sommige hospitale is oorweldig. Pasiënte is honger, personeel word siek en daar is gevegte om toerusting.

Die strawwe inperking moes vir instellings tyd koop om voor te berei vir die onvermydelike, maar dit lyk of sommige plekke die tyd nie produktief gebruik het nie.

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, het die week erken die provinsie verloor die stryd teen Covid-19. “In die lig van ons gesondheidstelsel wat oorweldig is, het ons ’n beroep op die nasionale regering gedoen om die mediese span van die Suid-Afrikaanse Weermag te ontplooi om ons te help,” het Mabuyane skaamteloos gesê.

Dr. Thobile Mbengashe, die Oos-Kaap se superintendent-generaal van gesondheid, het gesê 3 000 hoësorgbeddens is nodig om die toeloop van pasiënte te hanteer.

Die kultuur van swak dienslewering haal ons op die verkeerde tyd in – terwyl mense sterf.

Eerlikwaar, jy moet vra waar die premier, die LUR vir gesondheid en die mees senior gesondheidsamptenare die afgelope drie maande was. Wat het hulle gedoen om voor te berei op hierdie situasie? En ’n mens moet wonder wat hulle verwag die weermag gaan doen?

Dit kom maar weer neer op dit wat ons nog altyd weet oor die algemene onvermoë van regeringsinstellings.

Ons het gehoop ’n unieke Covid-19-strategie sal die slaggate van korrupsie en onvermoë vermy. Maar die hoop was dalk verniet.

Ek sidder om te dink wat gaan gebeur as die pandemie vastrapplek kry in Noordwes, die Vrystaat en Mpumalanga – provinsies wat nie bekend is vir doeltreffendheid en krisisbestuur nie.

Die kultuur van swak dienslewering haal ons op die verkeerde tyd in – terwyl mense sterf.

Ek weet, soos die president gesê het, is die saak in ons hande. Ons moet individuele verantwoordelikheid neem. Maar burgers betaal belasting sodat, wanneer hulle siek word, daar staatshospitale sal wees waar hulle behandel kan word – net soos in enige ander land. Selfs die Wes-Kaapse regering, wat homself probeer vestig het as ’n setel van uitnemendheid, sukkel met die baie siekes in die provinsie en vra ook vir nasionale bystand.

Ons kan maar net hoop dat ons ’n verskil maak deur hande te was, maskers te dra en weg te bly van groot groepe mense. As ek egter kyk hoe baie mense hierdie stryd verloor, dan berei ek voor vir die ergste en ek hoop en bid vir die beste.

  • Tabane is die politieke redakteur van City Press.


Meer oor:  Rapule Tabane  |  Sa  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.