Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Covid se tyd gaan verby

Prediker is seker die vreemdste boek in die Bybel, en wel om twee redes.

Foto ter illustrasie: istock

Eerstens werk die skrywer met ’n sikliese begrip van tyd (“Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.”) teenoor die liniêre tydsbegrip in die res van die Bybel (byvoorbeeld die veronderstelling dat die wêreld ’n begin gehad het – in ’n tuin en ook ’n einde het – nou nie meer in ’n tuin nie, maar in ’n stad (Openbaring 22). Niks daarvan by Prediker nie.

Die tweede vreemdheid van Prediker teenoor die res van die Bybel, is die skynbare fatalisme waarmee die mens opgeroep word om sy lot te aanvaar. Ons ken sy weeklag: “Alles tevergeefs . . . dit is alles tevergeefs!”. Nêrens kom dit egter duideliker na vore nie as in Prediker 3, die vreemdste hoofstuk in hierdie vreemde boek.

Prediker 3 dring daarop aan dat daar ’n “tyd is vir alles”: Om gebore te word en te sterwe, om te plant en plante uit te trek, om af te breek en te bou, om te huil en te lag, om te praat en om stil te bly.

En jou werklik, so asof die skrywer vooruit kon kyk tot in ons tyd: “ ’n tyd om te omhels, ’n tyd om weg te bly van omhelsing”. Ons leef nou in so ’n tyd. Ons word daagliks aangemaan om mekaar (letterlik!) nie te omhels nie.

Dis ’n ontsaglik moeilike ding vir die meeste van ons. Ek kan nog miskien daarmee saamleef om nie my vriende of kollegas te omhels nie. Maar my vrou, my kinders, my familie – veral my kleinkinders? Ek verneem dat een van die sterkste oorwegings om nie kleuterskole te heropen nie, is omdat die kleintjies nog altyd geleer is om mekaar te omhels, veral as hulle baklei het!

Nou, skielik, moet ons hulle verbied om aan mekaar te raak. Vir my klink dit onmenslik. Die verbod op omhelsing is vir my simbolies van die onvanpastheid en selfs wreedheid van Covid-19.

Hierdie virus kan ons nie slegs hondsiek of dood maak nie. In die effekte van hierdie virus kom ons menslikheid op die spel. Ons is wat ons is op grond van ons deelname aan gemeenskaplikheid.

Ons leef eers sinvol wanneer ons dáár en beskikbaar is vir mekaar.

Ons leef eers sinvol wanneer ons dáár en beskikbaar is vir mekaar. “Ons” is daarby nie een of ander abstrakte begrip nie. “Ons”/“ek” is hierdie liggaam van vlees en bloed. Wanneer ek tot beskikking van my medemens lewe, dan lewe ek vir hom/haar, nie as ’n Platoniese “siel” nie, maar as volledige mens, en dit beteken as liggaam – ’n liggaam wat ek soms selfs bereid is om op te offer ter wille van die ander.

Baie van ons is Christene en deel die oortuiging dat die belangrikste rolmodel vir die uitlewing van ons menslikheid dié Mens was wat op Golgota van almal – selfs van God – verlate was, en wat daar worstelend, bloeiend, gemartel – liggaamlik! – gesterf het sodat ons lewens troos en sin kan vind.

Nou moet ons saamleef met ’n virus wat van al hierdie oorwegings ’n bespotting maak.

Nou leef ons in ’n tyd waarin ons meegedeel word dat ons slegs kan oorleef as ons “ver van omhelsing af bly”, dit wil sê wanneer ons een van die oorspronklikste inklinasies wat aan ons menslikheid uitdrukking gee, berekend moet verontagsaam en opskort.

Prediker se verrassende troos in hierdie ongoddelike en onmenslike tyd, is dat daar “ ’n tyd vir alles” is. Covid-19 het nou sy tyd. Maar sy tyd gaan verby. Gou kom daar ’n tyd wanneer ons weer volkome mens kan en sal wees.

  • Van Niekerk is ’n uitgelese professor in filosofie en direkteur van die sentrum vir toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Prediker  |  Covid  |  Godsdiens  |  Geloof  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.