Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Covid tref ons bejaardes erg

Ek kyk na WhatsApps wat van Junie op my foon is. “Goeiemore, Gert. Kom jy more kerk toe? Indien wel, eerste of tweede diens?”

Gert Coetzee

“Nee, Wikus, ek werk en mis uit. Dankie vir die vra.”

“Met vreugde. Ek wou net seker maak.”

“Dankie, broer Wikus.”

“Geseënd. Mooi dag vir jou,” lui die laaste ene.

Dit was die eerste keer dat Wikus Vorster vooraf vra oor bywoning van die kerkdiens vir die register wat hy in die grendeltyd ingevolge regulasies getrou bygehou het. Soos hy sy liefdesdiens wat hy eers as koster van 1972 (tot so twee jaar gelede) en toe ook as skriba van 1989 by die gemeente verrig het.

Toe ek in Julie die berig “Geliefde koster (83) sterf aan virus; vrou ook in hospitaal” lees, besef ek as hy sewe weke in die hospitaal was, moes hy al met sy navraag per WhatsApp geweet het hy het Covid-19. Dit was ook al keer dat ek “broer Wikus” geantwoord het.

Hy en sy vrou, Hettie, wat naas hom deel van die gemeente is, was altyd knus langs mekaar op die agterbank. Sy is nou ontslaan. Wikus se gedenkdiens is more.

Ek bieg dat ek onder diegene was wat met die instelling van die grendeltyd verlede jaar liggeraak oor die koronavirus en die implikasies daarvan was.

Laat dit net Augustus word, het ek met die instelling van WVH (werk van die huis) gedink, dan keer ons terug kantoor toe. En einde vanjaar (2020) is alles terug na normaal.

Daar’s druk op die oorde om toegang tot die bejaarde geliefdes toe te laat. En is daar sterfgevalle, is daar weer druk oor hoekom dit kon gebeur het.

Was dit maar ’n stil bek. Nou trek ons al 16 maande later en die einde is nie in sig nie. Met inentings wat traag maar darem vorder om die “nuwe normaal” te help vestig.

Meer as ritse syfers oor infeksies en sterftes, is die bekendes (ook van lees oor hulle in Volksblad) wat sterf die rou stille getuienis van die Covid-19-sens wat maai. Jan van der Merwe, Jannie Els, Dougie Heymans, Hantie du Plooy . . . Te veel name om te meld.

Boere van Dewetsdorp, Vaalharts en elders, die predikant van Rouxville, onderwysers, geneeshere, vriende van vriende, gemeentelede, familielede.

Die een dag was als nog reg, dan hoor jy hulle’s siek en voordat dit insink, is hulle weg. Net so.

Die eindelose beproewing laat ’n mens reik na die relatiwiteit van tyd as ’n soort troos. As jy weer oë uitvee, is dit al weer twee, drie of vyf jaar later. En kan jy in terugblik na die dae van Covid-19 kyk. Die digter Robert Frost het gesê: “In three words I can sum up everything I’ve learned about life: it goes on.” Kan jy onthou wat jy in 2015, 2009, 1997 of 1985 gedoen het? Tóé het dit saakgemaak, nou’s dit verby.

Almal kry swaar, maar ons oues van dae kry die swaarste. As ek ons berigte lees oor aftreeoorde, in Bloemfontein, Bultfontein, Hennenman en elders, kan ek my net indink watter uitdaging dit moet wees om die indringersiekte en regulasies tegelyk te moet hanteer.

Met die o so gawe kinders wat ver bly as een veranderlike in ’n geen-wen-situasie. Gaaf solank dit in hul guns tel.

Daar’s druk op die oorde om toegang tot die bejaarde geliefdes toe te laat. En is daar sterfgevalle, is daar weer druk oor hoekom dit kon gebeur het.

Met ’n ma, wat genadiglik voor Covid-19 oorlede is, in Mooihawe in Bloemfontein het ek al geweet watter puik werk in aftreeoorde gedoen word. Dit beleef ons ook met die werk wat Engo (administrateur van Volksblad se Ons Gee Om-fonds) in oorde en tehuise in die Vrystaat doen.

Asof Covid-19 nie erg is nie, gebeur die afgryslike ook, soos die tannie wat voorverlede week in ’n Vrystaatse oord verkrag en later dood is. Ondenkbaar.

Wat sê ’n mens? Oor Covid-19 en die res? Dalk soos Plato in Volksblad se “Gedagte van die dag” eergister: Niks boos kan met ’n goeie mens gebeur nie, nie in die lewe of ná die dood nie.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Virus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Bejaardes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.