Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Covid: Wat is jou keuse?
Was dit só ’n groot opoffering om Oujaarsaand ’n kers aan te steek pleks van ’n glasie te klink? Foto: Istock

Gewoonlik skryf ek dié tyd van die jaar ’n Klopse-rubriek, maar vanjaar is daar bitter min om te vier. Teen dié tyd ken elkeen iemand wat siek of oorlede is aan Covid-19. In my leefwêreld is verskeie geliefdes voor of tydens Kersfees oorlede: twee familielede, onderwysers met wie ek lank saamgewerk het, die suster van ’n jare lange vriend en die moeder van ’n goeie vriendin.

Vir my en vir baie ander was dit ’n Swart Kersfees. Dit het die president genoop om strenger regulasies in te stel. Hieroor is daar baie ongelukkigheid, maar as ons eerlik is met onsself, sal ons erken dat ons dit aan onsself gedoen het. Mense se ongedissiplineerde gedrag het die president geen keuse gelaat nie.

Verdeeldheid

In die media kom twee denkwyses na vore: dié wat het, en dié wat nie het nie. Dit word ’n debat tussen twee groepe wat albei die belangrikheid van menselewens besef, maar dit deur verskillende lense bekyk. Terwyl die een groep die oophou van die ekonomie en die strande beklemtoon, wonder die ander groep waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom.

Een groep is beswaard omdat hul vakansies onderbreek word en hulle stres oor werksverliese. Vir die ander groep is werksgeleenthede en vakansies ver verwyderd van hul daaglikse bestaan. Baie het nog nooit ’n werk gehad nie, om van vakansies nie te praat nie.

Dit is die hartseer gesig van ’n nasie wat steeds diep verdeeld is.

In die middel van die debat is die president, vasgevang in ’n woordestryd tussen twee groepe wat kritiseer sonder dat hulle self oplossings bied. Daarteenoor het pres. Cyril Ramaphosa die onbenydenswaardige taak om ’n verskeurde volk te lei.

Derdewêreldland

Jy sou dink dat ’n pandemie wat reeds meer as 30 000 lewens geëis het, ons nader aan mekaar sou bring. Geen wonder Ramaphosa was bewoë toe hy ons verlede Maandag toegespreek het nie.

Eers was dit oop of toe strande. Ek het die aanvanklike oophou van Kaapse strande gekritiseer. Ons hospitale is beter toegerus, was die verweer. Kyk net na die infeksiesyfer in die Kaapse metropool om die effek van die besluit te sien. Daarteenoor het getalle in die Tuinroete afgeplat nadat strande daar gesluit is.

Toe verskuif die klem na die regering wat nie genoeg doen om ’n entstof te bekom nie. Ons vergeet soms dat ons ’n Derdewêreldland is. Van die 31 lande wat met inenting begin het, is 23 in Europa en Noord-Amerika en drie in Suid-Amerika.

Een hiervan is Chili, wat ekonomies goed met Suid-Afrika vergelyk, maar ’n nasionale gesondheidsversekeringstelsel het – presies wat ons regering wil begin, maar waarteen opposisiepartye gekant is.

Die argument is dat geld wat bedoel was vir siek Suid-Afrikaners, wanbestuur is. Toegegee. Maar is dit die president se skuld? Ja, hy kon meer beslis opgetree het. Dit dryf my teen die mure uit as Ramaphosa voete sleep. Soos baie ander voel ek die skuldiges moes al agter tralies gewees het. Dit is egter nie sy werk om skurke in hegtenis te neem nie. Dis die werk van amptenare.

Visie en optrede

Waaraan die president wel skuldig is, is dat hy ’n meer bekwame kabinet kon saamgestel en minder kaders kon ontplooi het. Hy kon ook beter toesig gehou het deur seker te maak elkeen doen sy werk, sonder die gereelde grootpraterigheid of die voorspelbare verskoning van “we are looking at it now”.

Ons het nou visie en optrede nodig. Daar is nou net een uitweg vir Suid-Afrika. En dit is nie ’n entstof nie. Dié gaan in elk geval slegs ’n klein persentasie van die bevolking bereik. Selfs al sou ons vandag ’n entstof kry, sal ons eers teen die einde van die jaar immuniteit bereik omdat die entstof waarskynlik dan eers by twee derdes van die bevolking sal uitkom.

Die oplossing vir Suid-Afrika is geleë in onderwys en opvoeding. Ons móét mense eenvoudig kry om hul gedrag te verander. Ons gedrag moet die las van verpleegsters en dokters ligter maak. Dit kan ons doen deur almal ons maskers te dra en drank verantwoordelik te gebruik.

Neem beheer van jou eie gesondheid deur ’n gesonde leefstyl te handhaaf. Dié waardes moet in die skool vasgelê word.

Die regte keuse

Een van my doktorale studente werk tans aan sy proefskrif oor die Amerikaanse opvoedkundige William Glasser se “choice theory”. Hiervolgens kan almal ’n gelukkige en suksesvolle lewe lei, mits hulle die regte keuses maak.

Prof. Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Verskaf

Jy kan kies om te verval in gereelde kritiek op die regering en in die proses jouself en die mense na aan jou miserabel maak. Of jy kan kies om met die president saam te werk in sy soeke na ’n oplossing vir die grootste krisis ooit in ons land.

Opposisiepartye wat skaamteloos mense se pyn uitbuit, moet weer dink. Nou is nie die tyd om politieke punte te wen nie. In dié dae beteken leierskap nie om voortdurend te kritiseer nie.

Jy kan kies om onthou te word as iemand wat altyd negatief was, of om saam te werk ter wille van die vooruitgang van ’n land en sy toekoms. Dit is immers ook jóú land, jóú toekoms. En was dit so ’n groot opoffering om Oujaarsaand ’n kers aan te steek pleks van ’n glasie te klink?

Vir een keer moet Suid-Afrikaners saamstaan en besef ons is almal in dieselfde bootjie. As daardie bootjie sink, sink ons almal. Ons dokters is helde. Maar selfs helde het rus nodig. As die gesondheidstelsel in duie stort, wag ’n ramp op ons.

Jy het ’n keuse: kies ’n jolige vakansie of ’n gelukkige lewe. Ons het pas ’n Swart Kersfees beleef. Tensy ons die regte keuses maak, wag ’n donker nuwe jaar.

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Covid-19  |  Pandemie  |  Covid-Sterfte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.