Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Covid-19: Nog nie einde van wêreld soos ons dit ken nie

Beteken die uitbreek van die Covid-19-virussiekte die einde van samewerking tussen lande? vra Liesl Louw-Vaudran.

’n Werker, met ’n gesigmasker teen die koronavirus gepantser, staan by ’n vliegtuig wat mediese voorraad op die Jomo Kenyatta-lughawe in Nairobi aflaai. Die Chinese miljardêr Jack Ma het die voorraad geskenk om dié virus in Afrika te beveg. Foto: Reuters

Sedert die uitbreek van die koronavirussiekte voorspel doemprofete dat dit die einde sal beteken van samewerking tussen lande om ons kollektiewe probleme te probeer oorkom.

Lande oor die wêreld heen sluit hul grense, vliegtuie vol buitelanders moet omdraai en terugkeer van waar hulle gekom het en op sommige plekke – soos in Ethiopië – is gevalle van vreemdelingehaat, veral teen Asiërs, aangemeld.

Tot dusver het ons maar min gehoor van die Verenigde Nasies (VN), die G20, Brics en al daardie (baie duur) instansies wat veronderstel is om die wêreld vreedsaam en voorspoedig te hou.

Die sekretaris-generaal van die VN, António Guterres, het wel in ’n aanlyn boodskap gevra vir ’n “wêreldwye skietstilstand” in konflikgebiede terwyl die planeet teen die koronavirus veg.

Die klipgooiers in die strate van Conakry, die hoofstad, voel klaarblyklik hul lewens is in elk geval min werd en dat hulle nie hul protesoptogte vir ’n virus gaan staak nie.

Vertel dit maar vir die Islamitiese terreurbendes wat ’n paar dae gelede ’n dorp in die noorde van Mosambiek ingeval en hul vlae op die stadsplein gehys het. Hulle gee nie ’n snars om vir Covid-19 nie.

En afstootlike outokrate soos Guinee se president, Alpha Condé, wat hierdie naweek deurgedruk het met ’n referendum oor die land se grondwet sodat hy – op die ouderdom van 82 – later vanjaar weer verkiesbaar kan wees.

Die klipgooiers in die strate van Conakry, die hoofstad, voel klaarblyklik hul lewens is in elk geval min werd en dat hulle nie hul protesoptogte vir ’n virus gaan staak nie.

Guinee het juis ’n paar jaar gelede gebuk gegaan onder die Ebola-virus en die mense daar weet van epidemies.

Maar selfs al gaan die konflikte voort en niemand luister na Guterres nie, is daar tog hoop vir handevat en saamstaan oor landsgrense heen – veral in Afrika.

Internasionale samewerking wel nodig

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het haar as voorsitter van die Afrika-Unie se kommissie beywer vir die totstandkoming van ’n sentrum vir siektebeheer in dié vasteland. Foto: Argief

Sedert die middel van Februarie toe die eerste gevalle van die virus in China wêreldnuus geword het, het die Afrika-sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) in Addis Abeba begin om inligting oor die impak van Covid-19 in Afrika uit te stuur. Dit het sedertdien die enigste geloofwaardige bron van inligting oor die virus op die vasteland geword.

Die sentrum het ook al tientalle gesondheidswerkers van meer as 40 Afrikalande opgelei in die toetsing vir die koronavirus en adviseer lande oor hoe om die verspreiding van die virus te bekamp.

Die sentrum is amptelik in 2016 danksy die inisiatief van die voormalige voorsitter van die kommissie van die Afrika-Unie (AU) en tans Suid-Afrika se minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, gestig.

Dit was ná die Ebola-krisis in 2013 en 2014, wat die lewens van duisende mense in Guinee, Sierra Leone en Liberië geëis het.

Liesl Louw-Vaudran

Dlamini-Zuma is erg gekritiseer vir haar skynbaar middelmatige leiding van die AU destyds, maar ’n mens moet haar beslis hiervoor krediet gee. Sy het geld gekry by Amerika – wat $1 miljard vir die stryd teen Ebola geskenk het – en baie gedoen om toe te sien dat die sentrum op die been kom.

Daar is toe gehoop dat die sentrum kan help om ’n einde aan aansteeklike siektes soos malaria, MIV/vigs en tuberkulose te maak.

Min het Dlamini-Zuma waarskynlik destyds voorsien dat ’n dodelike virus binne dae honderdduisende mense sal besmet en Afrika se gebrekkige gesondheidstelsels erg op die proef sal stel.

Die sentrum het die afgelope naweek die leiding geneem met die verspreiding van 1,5 miljoen toetstoestelle vir Covid-19 wat deur die Chinese miljardêr Jack Ma en sy Alibaba-stigting aan Afrika geskenk is. Die toestelle en 100 ton mediese toerusting om die virus te beveg is in Addis Abeba ontvang en deur die netwerk van Ethiopian Airlines oor die hele Afrika versprei.

Suid-Afrika se ambassadeur in Addis Abeba, Xolisa Makaya, het die stigting namens pres. Cyril Ramaphosa, vanjaar se voorsitter van die AU, bedank.

Sulke inisiatiewe sou nie moontlik gewees het sonder samewerking tussen lande nie. Terwyl almal nou ingeperk is en twyfel oor die toekoms ná korona, moet ons nie die groter prentjie uit die oog verloor nie.

Internasionale samewerking is wel nodig, in Afrika en elders in die wêreld. Presies hoe hierdie samewerking gaan lyk, gegewe die dramatiese gebeure van die afgelope paar weke, is nog vir niemand duidelik nie.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant vir die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Afrika-Unie  |  Alibaba-Stigting  |  Verenigde Nasies  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Alpha Condé  |  Jack Ma  |  António Guterres  |  Conakry  |  Ethiopië  |  Guinee  |  Koronavirus  |  Malaria  |  Pandemie  |  Eboloa  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.