Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR die doener of ylende dromer?

Niemand wil in die middel van ’n nagmerrie aangeraai word om verder te droom nie.

Wel, dit is wat pres. Cyril Ramaphosa verlede Donderdag met sy staatsrede probeer doen het.

Henry Jeffreys

Die verwagtinge vir die staatsrede was hoog, maar die dividend baie laag. In goeie tye kon die gedagte, nee, die droom, van ’n blink nuwe stad en hoë-spoedtreine verteer word, maar in die nagmerrietye waarin ons leef, laat dit net ’n wrang smaak en word dit sinies afgelag. Dit is dus geen verrassing dat die staatsrede ’n teiken vir spotprenttekenaars en gekskeerders geword het nie.

Peter Bruce, voormalige redakteur van Business Day en Financial Mail, het verlede week in ’n rubriek die president gemaan om nie met enige nuwe planne in sy staatsrede vorendag te kom nie. Hy het presies die teenoorgestelde vir sy moeite gekry.

’n Mens hoop net die president besef nou dat hy ’n fout begaan het wat vir die duur van sy nuwe termyn by hom gaan spook. Die punt is, Suid-Afrika het eenvoudig nie die miljarde wat ’n nuwe stad en hoëspoedtreine gaan kos nie. Ons het skaars die miljarde wat hy beloof het om Eskom se skuldlas te verlig.

Dis so dat China die afgelope klompie jare verskeie nuwe stede gebou het en planne vir uitgebreide hoëspoedtreinnetwerke het. China is egter die verkeerde rolmodel vir ons. Dit is die wêreld se tweede grootste ekonomie, met die nodige harde kontant om die ambisieuse drome van hul leiers te vervul.

Daarbenewens is die Chinese hardwerkend en produktief, karaktertrekke wat ons beslis by hulle kan aanleer.

Terwyl Ramaphosa aan die droom was, het sy nemesis, Jacob Zuma, daarin geslaag om van sy gediskrediteerde voetsoldate as voorsitters van belangrike portefeuljekomitees by die parlement in te smokkel.

Skrik wakker, meneer die president. Los die drome vir tye en omstandighede wat dit sal regverdig.

Mense soos Faith Muthambi, Mosebenzi Zwane, Bongani Bongo en Tina Joemat-Pettersson is in die parlement ontplooi met net een doel: Om Rama­phosa se program en drome te verydel.

Wanneer dit hom tref, moet hy net onthou dat dit alles op sy wagbeurt gebeur het. Hy is gewaarsku, maar het verkies om van stede en vinnige treine te droom.

Dít boonop terwyl treine in Kaapstad na willekeur en ongestraf verbrand word ten koste van presies die arm mense oor wie die president hom kwansuis bekommer.

Ramaphosa sit nou met ’n groot dilemma. Hy sal noodgedwonge sy aandag op die parlement moet hou, gegewe die Zuma-insurgente wat nou in beheer van so baie portefeuljekomitees is. Hy kan ook nie met enige sekerheid op sy adjunk, David Mabuza, leier van regeringsake in die parlement en ook ’n vermeende Zuma-meeloper, staatmaak nie.

’n President met verdeelde aandag is nie goed vir doeltreffende en goeie regering nie. Inteendeel, dit kan net skoon regering ondermyn.

Ramaphosa sal stappe moet doen om sy beeld van ’n “doener” van dié van ’n ylende dromer te red.

Dit is onwaarskynlik dat sy mymeringe oor ’n nuwe stad en treine die internasionale graderingsagentskappe sal beïndruk. Nog minder sy plan om Eskom staande te hou.

Hy het dus die kanse van verdere afgraderings vergroot, presies die teenoorgestelde van waarop hy waarskynlik gehoop het. Praat van jouself in die voet skiet!

Die president moet nou dringend beheer terugkry oor sy oorspronklike narratief wat gegrond was op ’n gesonde, nugter ontleding van die land se probleme en praktiese planne om dit op te los. Die laaste ding wat hy nodig het, is om as ’n onpraktiese dromer gesien te word.

Skrik wakker, meneer die president. Los die drome vir tye en omstandighede wat dit sal regverdig.

Meer oor:  Pres. Cyril Rama­Phosa  |  Staatsrede  |  Drome  |  Planne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.