Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR het toe beter week as Ace (en media)

En van die “groot opstand” teen pres. Cyril Ramaphosa in die ANC kom toe net mooi niks. Dit is amper soos een van daardie aksielokprente wat groot verwagting skep, maar dan is die uiteindelike rolprent flouerig.

Barnard Beukman

Indien lokprente vir Oscars benoem kon word, sou Ace Magashule en kie se Bell Pottinger II-produksiehuis ook gekwalifiseer het. En hoe het hulle nie ’n groter gros as gewoonlik resensente gaande gehad oor wat kom nie. Uiteindelik blyk dit toe een van daardie lokprente te wees wat tonele bevat wat nooit die finale weergawe van die rolprent gehaal het nie.

Ramaphosa het wat dit betref toe inderdaad ’n beter week gehad as Magashule en kie, maar vir seker en ongelukkig ook as bepaalde media en sommige ontleders. Interessant dat selfs ervare ontleders en meer as een gerekende joernalis hulle in hierdie ronde so laat meevoer het. Daar is selfs aangevoer ’n besliste meerderheid in die ANC se nasionale uitvoerende komitee het teen Ramaphosa gedraai. En dat hy slegs sal kan oorleef indien hy Pravin Gor­dhan, minister van openbare ondernemings, opoffer. Alles ook goed meegehelp deur die spookasemwêrelde wat meermale op sosiale media geskep word.

Maar terwyl diegene die volstruisgrootte eier van hul gesigte afvee, is die werklike vraag of die land enigsins vorentoe is en daar noemenswaardige winste was in die uitgerekte, makabere dans oor die veelbesproke staatsondernemings.

Interessant was Magashule se verduideliking dat die staat die SAL graag as ’n nasionale lugdiens wil behou, maar om dit reg te kry sal “aansienlike herstrukturering” nodig wees. Dit herinner aan PW Botha, wat aanvanklik die begrip van politieke magsdeling verwerp het, maar later gesê het dit is aanvaarbaar, mits dit “gesonde magsdeling” is.

Maar as hy dan steeds Suid-Afrika se eie weergawe van ’n Mexikaanse piñata is, wat steeds onder dese en gene deurloop vir die gevolge van Jacob Zuma se sondes en al, sal dit wees omdat ons dan die afgelope week toe in werklikheid geen tree vorentoe is nie.

Die ANC kan verduidelik soos hy wil en privatisering verwerp en werkgeleenthede belowe, maar die land se 740 staatsondernemings stort onder hom in duie. En hy word gedwing om juis dit te doen wat hy oor en oor sê hy nie gaan doen nie. Om ’n klompie vliegtuie op enkele roetes oor te hou (wat deur iemand anders bedryf word, maar wat steeds die SAL-logo op die stertvlerk geplak het) kan seker steeds as ’n nasionale lugdiens beskou word. Of as ’n masker vir die gesig van mislukking, terwyl ’n ekonomie van die nodige omvang dan deur ander kanale herbou word.

Dit lyk tog of die besef al hoe wyer in die ANC begin posvat dat staatsreddingspakkette toe wel ’n uitputbare bron is en dat daardie punt nou bereik is. En dat doeltreffende bedryfsingryping die enigste uitweg is om ’n “mislukte staat” af te weer. (’n Doodsertifikaat wat die afgelope week ook voortydig uitgereik is vir ’n staat wat nog heel lewendig is, al lyk hy erg ongesteld.) Dit bly wel ’n skande dat die werklikheidsbesef oor wat gedoen moet word millimeter vir millimeter deur ’n dwangbuis in die kele van die Staliniste – soos Tito Mboweni hulle noem – afgedwing moet word terwyl die land se ekonomie en inwoners die gelag moet betaal.

Theo Venter is reg – teen “Desember vanjaar sal Ramaphosa steeds president wees”.

Maar as hy dan steeds Suid-Afrika se eie weergawe van ’n Mexikaanse piñata is, wat steeds onder dese en gene deurloop vir die gevolge van Jacob Zuma se sondes en al, sal dit wees omdat ons dan die afgelope week toe in werklikheid geen tree vorentoe is nie.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.