Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR is opposisie tans ver vooruit
Henry Jeffreys
Henry Jeffreys

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n relatief goeie politieke naweek beleef. Vooraf is druk bespiegel dat die pro-Jacob Zuma-faksie in die ANC beplan om die bekendstelling van die ANC-verkiesingsmanifes te ontwrig, maar daar het niks van gekom nie.

Dit lyk ook asof Ramaphosa daarin geslaag het om Zuma te kalmeer om hom nie openlik uit te daag nie. Zuma was in ’n skynbaar gemoedelike bui en daar was geen teken van vyandigheid jeens sy opvolger nie. Inteendeel. Met die strydbyle oënskynlik begrawe, kan die ANC nou fokus op dit wat noodsaaklik is, naamlik om die verkiesing in alle provinsies oortuigend te wen.

Die manifes het Ramaphosa se vingerafdrukke op en sluit in ’n verbintenis tot die herstel van die ekonomie deur te fokus op werkskepping, die heropbou van staatsbeheerde maatskappye, en ’n geloofwaardige aanslag op korrupsie. Niks dramaties nie, maar beslis pragmaties. Opposisiepartye sal natuurlik sê dis die gewone stories wat nie geglo kan word nie.

Tog lyk dit of die gety van negatiwiteit teen die ANC besig is om te draai. Vertroue in Ramaphosa kry momentum onder kiesers, en meningspeilings raam die ANC se steun op sowat 60%, wat ’n merkwaardige prestasie sal wees indien die party dit behaal.

Ramaphosa het wankelrig begin, maar hy lyk by die dag stewiger. Die ANC-verkiesingskonferensie van 2017 het hom opgesaal met getroue ondersteuners van Zuma in die ANC se top-leierskap – mense soos Ace Magashule, sekretaris-generaal, en sy adjunk, Jesse Duarte. Dan is daar ook mense in Ramaphosa se kabinet – Bathabile Dlamini en Nomvula Mokonyane – wat bekende Zuma-kaders is.

Ramaphosa het dus die regte ding gedoen om regstreeks met Zuma te praat eerder as om gesien te word dat hy ’n heksejag teen sy ondersteuners voer.

Ramaphosa het dus die regte ding gedoen om regstreeks met Zuma te praat eerder as om gesien te word dat hy ’n heksejag teen sy ondersteuners voer.

Ramaphosa, die fyn strateeg en vermaarde onderhandelaar, kom stelselmatig tot sy reg as leier en hy snoer sy kritici se monde soos hy veg om sy verklaarde visie te verwesenlik. Dit is nie net in sy eie belang nie, maar ook in dié van die land dat hy suksesvol is, met apologie aan opposisiepartye.

Natuurlik is dit belangrik vir die demokrasie dat die ANC se houvas op die hefbome van mag getoets word en selfs dat die party uitgestem word. Maar dan moet opposisiepartye dit verdien, soos wat hulle dit in 2016 se munisipale verkiesing gedoen het.

Opposisiepartye sal eenvoudig kiesers moet oortuig dat hulle ’n beter alternatief as die ANC bied. Die ANC floreer op die gedagte dat hy vir die meeste kiesers die party is wat alle mense se belange dien. Opposisiepartye sukkel in hierdie verband.

’n Mens kan byvoorbeeld sien hoe die deursnee-kieser nie ’n probleem sal hê met die konsep van onteiening sonder vergoeding nie en die ANC ter wille kan wees. Dít is die kieser wat per slot van sake die slagoffer van onteiening sonder vergoeding in die verlede was.

Die DA se standpunt oor dié kwessie ignoreer die deursnee-kieser se emosionele verbintenis tot die konsep van onteiening van grond sonder vergoeding.

Die dag as die DA dít snap, sal hy groter begrip vir sy standpunte onder kiesers aanwakker. Tans voer die DA ’n tegnokratiese argument wat nie tred hou met die kiesers se sterk emosies oor hul apartheidservaring nie.

Nou waarom dan nie die EFF se standpunt oor onteiening sonder vergoeding aanvaar nie? Wel, talle EFF-ondersteuners doen juis dit. Maar die deursnee-kieser is intelligent en ken ’n slangolieverkoper as hy een sien.

Maak geen fout nie, Ramaphosa se instinkte oor onteiening was in die kol en hy sal die vrugte daarvan pluk. Hy voel die kiesers se hartklop. Opposisiepartye sal moet bykom.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Opposisie  |  Heksejag  |  Verkiesing  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.