Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR kon makliker uitweg gekies het vir homself

“Die man neem nie vinnig genoeg besluite nie. Dit lyk of hy nie sterk genoeg is daarvoor nie,” gee my Uber-bestuurder, Malose, die ander dag sy mening oor pres. Cyril Ramaphosa toe ons gesprek by die politiek draai.

Hy verwoord ’n tema wat ook toenemend in Beeld se leserskolomme geopper word, om net een van vele plekke te noem.

In sy skynbaar daaglikse stryd met die ANC se interne twiste en die voortdurende maneuvrering wat nodig is om voor elke beleidsvergadering van nuuts ’n werkende meerderheid te probeer kry, lyk dit na ’n opdraande stryd.

Die ekonomie en die brandstofprys help nie juis nie. Boonop is die grondkwessie en die naderende verkiesing ook verswarende omstandighede.

Tog kon Ramaphosa vir homself ’n baie makliker uitweg gekies het wat tot vinniger interne konsolidasie in die ANC kon gelei het: Die voorstel uit die Zuma-kamp dat staatska-ping onder die mat gevee en dat nie met ondersoeke en vervolgings voortgegaan word nie. ’n Soort amnestieproses is selfs al geopper.

Maar Ramaphosa se volgehoue pogings om op die staatskapers se spoor te bly, het van hom ’n teiken gemaak. Dit behels volgens sy kritici “selektiewe vervolging om van sy teenstanders ontslae te raak”.

Benoude katte begin benoude spronge te maak.

Met die Zondo-kommissie wat skaars uit die wegspringblokke is en reeds begin bloed trek, Pravin Gordhan se meedoënlose opruiming van die staatsbeheerde ondernemings en sommige parlementêre portefeuljekomitees wat bly krap, begin sommige benoude katte benoude spronge maak.

Die hewig ontkende “komplotgesprekke” tussen oudpres. Jacob Zuma, Supra Mahumapelo, afgedankte Noordwes-premier, en Ace Magashule, ANC-sekretaris- generaal, kan ’n simptoom daarvan wees. Mahumapelo, wat ook onlangs as ANC-voorsitter van Noordwes uitgeskuif is, se val is juis van die suksesvolle houe wat Ramaphosa wel kon plant.

Een van sy belangrikste skuiwe teen die staatskapers het verlede week amper ongesiens in die skadu van ander hoofopskrifte verbygegaan: Dit is sy opdrag aan die spesiale ondersoekeenheid om formeel ondersoek in te stel na die sogenaamde Suid-Afrikaanse Watergate-skandaal. Dit behels onder meer die doen en late van die voorste Zuma-rasieleier, Nomvula Mokonyane, voormalige minister van water en sanitasie. Daar word na verskeie omvangryke kwessies rondom die departement gekyk. Dit sluit in sagteware-aankope van R950 miljoen van die maatskappy SAP. Ook dat honderdduisende mense wat “vir ’n beter lewe” gestem het in Giyani en 55 omliggende dorpe sonder water sit omdat SAP die departement met miljoene te veel gefaktureer het.

Só word ondersoekfronte bykans weekliks oopgemaak.

Die makliker uitweg sou wees om te verklaar dat geen betekenisvolle ondersoeke ter wille van eenheid en vooruitgang gedoen word nie.

Dit kon selfs meegebring het dat Ramaphosa intern minder teenstand oor omstrede kwessies soos grondsake gekry het.

Want moenie vir een oomblik glo dat daar ’n opregte kommer oor grondloses se lot is by diegene in ’n party wat psigiatriese pasiënte in bakkies na hul dood laat wegry het nie. Grond het ’n populistiese slaanstok geword om Rama-phosa in ’n selfsugtige magstryd te probeer verswak.

So, Malose, wie weet, dalk is hy juis sterker as wat ons dink.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.