Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR moet dringend sy mandaat uitvoer

Pres. Cyril Ramaphosa het kiesers voor vanjaar se nasionale verkiesing gevra vir ’n mandaat om Suid-Afrika na die beloofde nuwe daeraad te lei. Hy het toe dié mandaat gekry en moet dit dringend begin uitvoer.

Dít is die boodskap wat gefrustreerde, woedende Suid-Afrikaners in ’n baie slegte week vir Suid-Afrika en sy president duidelik in die strate en op sosiale media laat hoor het.

 Ilse Bigalke
Ilse Bigalke

Die xenofobiekrisis het oor die landsgrense gespoel en ons opnuut muishondstatus besorg. Gevolge was onder meer ’n dwarsklap van die Verenigde Nasies, ’n diplomatieke boikot (Nigerië), ’n sportboikot (Zambië) en ’n beroep dat die Afrika-Unie dringend oor Suid-Afrika se voorsitterskap in 2020 vergader.

Boonop moes Ramaphosa die Wêreld- Ekonomiese Forum se beraad oor Afrika in Kaapstad, waar hy Suid-Afrika as die top-beleggingsbestemming wou bemark, Donderdagaand inderhaas verlaat om ’n petisie van duisende uitjouende #GenoegIsGenoeg-betogers oor die gru-geweld teen vroue te ontvang.

Pleks van ’n nuwe daeraad, lyk dit na donker nag vir die president se pogings om van die Zupta-nagmerrie weg te stuur.

Suid-Afrikaners stem allerweë saam dat Ramaphosa ’n gifbeker van oudpres. Jacob Zuma ontvang het. Hy moet ’n Berg Everest uitklim om die ekonomiese, politieke en morele skade te probeer omkeer. Boonop saboteer die Ace Magashule-faksie in die ANC hom om elke hoek en draai en teiken sy bondgenote met hofgedinge en ander aksies.

Gerugte doen juis die ronde dat die xenofobiese anargie ’n komplot van Ace en sy trawante is om die Ramaphosa-presidentskap te destabiliseer.

Desondanks hét die president in die eerste 100 dae van sy bewind berge versit. Die politieke ontleder JP Landman, ’n stem van rede, het onlangs sy talle suksesse in Beeld geskets. Dit sluit in die kommissies van ondersoek wat al mierneste oopgekrap het, die skoonmaak van die kabinet en sleutelaanstellings in die staatsdiens.

Maar dié politieke strategie wat enersyds resultate oplewer, skep andersyds die beeld van ’n flou makou wat vir konfrontasie met sy vyande wegskram. Hy beweeg grootliks agter die skerms en stel ander in staat om die “vuil werk” te doen.

Dit werk duidelik nie meer vir Suid-Afrikaners nie. Hul geduld is op. Hulle soek sigbare, uitgesproke leierskap.

Hulle wil hê Ramaphosa moet hom openlik en ongekwalifiseerd uitspreek oor iets soos Tito Mboweni se regrukplan, wat die potensiaal het om die land uit sy ekonomiese moeras te red.

Hulle wil hê hy moet opstaan teen die Ace-kamp, wat vryelik buite staatstrukture rondhardloop en kwaad steek. Hulle wil veral sien dat Zumaïete wat misdade teen Suid-Afrika gepleeg het, uiteindelik aan die pen ry.

Hierdie week het dit nasionale en internasionale krisisse geverg vir Ramaphosa om uiteindelik die soort morele leierskap te toon wat Suid-Afrikaners van hom verwag. Hy het xenofobie ten sterkste veroordeel en verkragters en moordenaars belowe hulle gaan nóg borgtog nóg parool kry. (Dit moet nog deur die parlement en moontlik die howe, maar nietemin.)

Dit het getoon as hy Suid-Afrikaners kan verenig rondom ’n kwessie wat álmal raak, soos misdaad, kan Ramaphosa ’n platform van vertroue skep om sy presidentskap te versterk en sy visie in werking te stel.

Dís die soort leierskap waarna Suid-Afrikaners smag en verdien. Dit het tyd geword vir Ramaphosa om hom daarna te skik. Hy is sy mandaat immers aan sy landgenote verskuldig.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Xenofobie  |  Kiesers  |  Mandaat  |  Krisis  |  Nasionale Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.