Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR nie soos JZ beoordeel nie
Rapule Tabane

Die land het die afgelope week amper weer na normaal teruggekeer met die skuif na vlak 3 van die inperking.

Meer mense is terug werk toe, alkohol word verkoop en kerke word heropen. Die eerste transitorooftog (waarvan ek weet) sedert Maart het Woensdag plaasgevind. Vier rowers met beskermende klere, vermom as gesondheidswerkers, het ongeërg by ’n supermark in Pietermaritzburg ingestap en dit beroof. En dan praat ek nog nie eens van die motorongelukke nie.

Ons is terug na “normaal”. Dit laat my dink aan ’n breë politieke ontwikkeling wat ek die afgelope twee jaar, met pres. Cyril Ramaphosa aan die stuur van sake, waarneem.

Daar is ’n moegheid en irritasie met die inperking. ’n Deel van die irritasie is weens Covid-19, maar baie van die woede is gerig op die regering, wat probeer om ons lewe te reguleer. Dit het nou al tot verskeie hofsake gelei waarin daardie regulasies uitgedaag is.

Dis opmerklik dat die meeste van die woede uitgespreek is deur mense met invloed. Kommentators, ontleders en redakteurs het woedend gereageer op ministers soos dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Bheki Cele en Angie Motshekga. Dié invloedrykes was egter versigtig om nie die president te blameer nie.

Die president is uiteindelik verantwoordelik vir die optrede van al die ministers wat deur hom aangestel is.

Die president is uiteindelik verantwoordelik vir die optrede van al die ministers wat deur hom aangestel is. Maar nee, Ramaphosa word uitgebeeld as die ridder op die wit perd wat die land gaan red, hoewel uit ’n effens verswakte posisie weens die boefagtige optrede van sommige ministers.

Dis nie soos in die tyd van oudpres. Jacob Zuma, toe mense soos Mosebenzi Zwane, Faith Muthambi en Malusi Gigaba beskou is as Zuma se luitenante wat daar is om sy agenda te bevorder nie. Cele en ander soos hy word bloot gesien as ’n vlieg in die salf.

Wat is die rede vir dié verskynsel?

Sedert 1994, spesifiek ná die termyn van oudpres. Nelson Mandela, was dieselfde kommentators en ontleders baie pessimisties oor die ANC en die regering. Hulle het gevoel die party kan nie presteer nie en het elke klein mylpaal wat wel sedert die Mandela-era behaal is, onderspeel. In skerp teenstelling met hul verwagtinge en voorspellings het kiesers keer op keer die mag in die hande van die ANC geplaas, selfs al het die steun vir die party ingekrimp.

Soos baie ander Suid-Afrikaners was hulle moedeloos onder die Zuma-regering en het hulle gewens vir iets nuuts, vars en hoopvols.

Toe Ramaphosa – ’n gesoute sakeman en politikus – op die toneel verskyn, was hulle verlig.

Nou ja, terwyl ons Ramaphosa verwelkom, moet ons nooit die fout maak om hom bo kritiek te verhef nie.

En dis wat ek dink gebeur het. Die behoefte om te sien dat Ramaphosa presteer, moenie ons vermoë om krities te dink, oorskadu nie.

Vir baie mense is die skrikwekkende idee dat iets ergers – adj.pres. David Mabuza – op ons wag indien Ramaphosa misluk of uit sy amp verwyder word.

Die adjunkpresident lê laag. Hy hou sy kaarte geheim en doen niks wat veroordeel kan word nie. Baie min mense vertrou hom, want hy het mense nog nooit rede gegee om hom te vertrou nie.

Maar ons moet eerlik wees en aanvaar dat enige mislukkings in die regering aan die president en die ANC as regerende party toegeskryf gaan word.

Ramaphosa het ’n keuse om daardie ministers wat hom in die steek laat, af te dank.

Die uiteindelike toets vir ’n president is nie of hy ’n gawe kêrel is nie, maar of hy beleidsbesluite neem om die voorspoed van die land en die welstand van die mense te verseker.

  • Tabane is politieke redakteur van City Press.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.