Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR se grondplan skerp in kollig in komende week
Barnard Beukman

Die komende week is pres. Cyril Ramaphosa skerp in die kollig oor grond.

Sommige waarnemers sien sy optrede op ’n grondberaad in Johannesburg as ’n skuif om die inisiatief oor die grondkwessie terug te wen – nie net in die onstuimige nasionale diskoers daaroor nie, maar veral ook in die ANC.

Op die beraad gaan ’n groot verskeidenheid rolspelers uit verskeie sektore saamtrek – van georganiseerde landbou tot die staat en ander private en burgerlike belange. Dit kom op die vooraand van die landwye raadplegingstoer van die parlement se ad hoc-komitee oor ’n voorgestelde grondwetlike wysiging oor grondsake.

Binne die ANC is daar steeds ernstige verdeeldheid oor hoe die grondkwessie benader moet word. En dit is ’n ope geheim dat die president se binnekring nie noodwendig opgewonde is oor die rigting waarin die kwessie sonder remme en onder die rooi vlag van die EFF begin voortstoom het nie.

Interessanter as al die dinamika gaan wees om te sien hoe die besittersklas, wat landbougrond betref, strategies in die verdelingslyne gaan inspeel. Met fyn taktiese voetwerk, of ’n lomp geraas en geblaas wat juis gaan help om almal in een kamp te jaag, weg van enige moontlike sinvolle uitkoms?

Maar die groot druk gaan op Ramaphosa bly om te begin wys hoe hy grondonteiening sonder vergoeding wil dryf binne sy raamwerk van voedselsekerheid, werkgeleenthede en ekonomiese stabiliteit – onversoenbares volgens heelwat skeptici, wat internasionale beleggers insluit.

Die afgelope week het hy sy verklaarde oorlog teen staatskapers voortgesit deur tot in hul kombuiskabinet te slaan met die skorsing van Tom Moyane, Suid-Afrika se omstrede pro-Zuma-belastingbaas.

Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings, se voorspelling was toe reg – dit gaan ’n geveg afgee om die “staat terug te kaap”. Moyane veg terug en weier om te loop.

Op ’n werkbesoek aan Rwanda het hy nie net probeer om die stram verhouding tussen die twee lande op te los nie.

In nog ’n terugslag vir die Jacob Zuma-kamp het Rama­phosa gister die bepalings van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aangepas om enige moontlikheid ongedaan te maak dat daar algehele vrywaring kan wees van diegene wat voor die kommissie verskyn. In sy verklaring noem hy dat dit volg op uitwysings deur die Helen Suzman-stigting en AfriForum daaroor.

Op ’n werkbesoek aan Rwanda het hy nie net probeer om die stram verhouding tussen die twee lande op te los nie. Hy het Suid-Afrika ook verbind tot die Afrika-Unie se nuwe Kigali-verklaring vir vrye handel op die vasteland. Die wenkbroue sou ook gelig het oor sy op­merking dat “Suid-Afrika se grense oop moet wees vir mense, veral Afrikane om vryer te kan rondbeweeg en sake te bevorder”.

Hoewel dit sin maak uit die oogpunt van globale handel, is die vraag of die verwagte groei die nodige gepaardgaande infrastruktuur gaan verskaf vir ’n reeds oorlaaide diensleweringsprogram.

In sy afwesigheid het adj.pres. David Mabuza as president waargeneem. Sy eerste vraetyd in die parlement is gekenmerk deur te wagte vae en standaard- politieke antwoorde.

Gee die omstrede Mabuza – oor wie daar ook vandag in By ’n artikel verskyn – wel punte vir een ding. Op Menseregtedag het hy die regering reguit geblameer vir die puttoiletdood van die vyfjarige Viwe Jali en ook vir die Life Esidimeni-tragedie. ’n Welkome eerlikheid uit ANC-geledere.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Cyril Ramaphosa  |  Grondhervorming  |  Grondplan  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.