Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR se Thatcher-oomblik het aangebreek

Vakbonde in Brittanje het soveel mag gehad dat ’n mynwerkerstaking in 1974 Edward Heath, destydse premier, se regering tot ’n val gebring het.

Toe Margaret Thatcher in 1979 aan die bewind kom, het sy haarself daartoe verbind om die mag van die vakbonde te breek.

Pieter Mulder

Haar beleidsrigtings het heftige reaksie uitgelok, met landwye stakings. Arthur Scargill, president van die National Union­ of Mineworkers, het gesê hulle gaan Thatcher ’n les leer soos hulle Heath ’n les geleer het.

Binne haar eie party was daar kwaai druk vir toegewings. Op die party se 1980-konferensie het sy gesê: “You turn if you want to. The lady’s not for turning.”

’n Jaar nadat die staking begin het, is Scargill verplig om ’n nederlaag te erken en die stakings te beëindig. Vakbonde sou nooit weer daarna dieselfde mag in Brittanje hê nie.

Toe Thatcher premier geword het, was daar in Brittanje 4 583 stakings en is 29 miljoen werkdae verloor. Hierdie stakings het gedaal tot 630 in 1990, met minder as 2 miljoen verlore werkdae.

In Suid-Afrika vra pres. Cyril Ramaphosa individue uit die private sektor om met hul kundigheid te help om die bankrot staatsondersteunde ondernemings te red.

Kundige mediamense, soos Krish Naidoo, Khanyisile Kweyama­, John Mattison en Mathatha Tsedu stel hulle beskikbaar om die SAUK te red toe dit op bankrotskap afgestuur het. Toe die raad sy planne aankondig om die SAUK op die lug te hou en van bankrotskap te red, volg daar ’n gespanne vergadering met Stella Ndabeni-Abrahams, nuwe minister. Sy veto hul planne. Die gevolg? Die vier lede bedank uit die raad. Die raadslede wat oorbly, vra nou grootskaalse finansiële hulp van die regering.

Voordat die radikale vakbonde se mag en invloed nie gebreek is nie, sal Eskom nie ontbondel kan word nie.

Mark Barnes, ’n sakeman met 30 suksesvolle jaar in die sakesektor, bied aan om die Poskantoor te help red nadat dit ná uitgerekte stakings op die knieë is. Hy het nie die salaris nodig nie. Hy bring stabiliteit en begin die Poskantoor finansieel regruk. Die laaste deel van sy plan is ’n geïntegreerde Poskantoor en Posspaarbank. Dit sal die Poskantoor winsgewend maak

Sy voorstel word geveto. Die gevolg? Hy bedank en verduidelik: “Dalk sien hulle die Poskantoor as ’n noodsaaklike diens wat hulle vir ewig gaan subsi­dieer. Ek sien nie die logika in nie.”

Dieselfde patroon vind by die SAL plaas. Vuyani Jarana was suksesvol in sy hoë pos in die private sektor by Vodacom. Hy verklaar hom bereid om uitvoerende hoof van die SAL te word. Hy gaan selfs ’n R100 000-weddenskap met Leon Louw van die Vryemarkstigting aan dat hy die lugdiens binne vier jaar finansieel sal regruk. Ná twee jaar bedank hy. Sy redes: Al die beperkings wat van bo op hom geplaas is met inmenging van die regering en vakbonde.

Presies dieselfde patroon word gevolg met Phakamani Hadebe, wat ’n suksesvolle loopbaan as hoof van die Landbank gehad het. Binne ’n jaar ná sy aanstelling as hoof van Eskom bedank hy weens inmenging en onmoontlike eise wat van bo en onder aan hom gestel word.

In Suid-Afrika wil die ANC-leiers hul brood aan albei kante gebotter hê. Hulle probeer die vakbonde aan die een kant gelukkig hou en probeer aan die ander kant die mislukte staatsondernemings soos Eskom, die SAL, die SAUK en die Poskantoor red.

Die dae wat jy albei kon doen en deurlopend inmeng, is vir altyd verby. Voordat die radikale vakbonde se mag en invloed nie gebreek is nie, sal Eskom nie ontbondel kan word nie. Die ANC-leierskorps sal nou moet kies. Anders gestel: Ramaphosa se Thatcher-oomblik het aangebreek.

Meer oor:  Eskom  |  Menings  |  Vakbonde  |  Mag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.