Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR se werk deur húlle ondermyn
Rapule Tabane

Sedert die uitbreking van Covid-19 het ons lewe op grondliggende wyses verander wat ons nooit verwag het nie.

Merkwaardig is dat mense wêreldwyd met die nuwe werklikheid moes worstel en dit aanvaar. Wie sou kon dink dit sou eendag so ’n misdaad wees om jou bure te besoek of tee of drankies saam met hulle te geniet? Of dat die wet jou sou verbied om jou siek ma in jou tuisprovinsie te besoek? Ingevolge huidige regulasies moet sy eers sterf voordat jy jou voete in haar huis kan sit.

Dis moeilik. Ja, dis weens die virus, maar dis ook weens oorywerige staatsamptenare.

Suid-Afrika het van die buitengewoonste beperkings op vryheid van beweging en keuse in werking gestel wat ons dwing om dae lank tussen dieselfde vier mure ingeperk te sit sonder naweke, vakansie of enige spesiale geleenthede. Elke dag voel soos die vorige én die volgende een. Ek kan die noodsaak daarvoor verstaan, maar die volslae verwoesting van die ekonomie en die gepaardgaande werkloosheid bekommer my.

Pres. Cyril Ramaphosa het homself in die algemeen as die man van die dag bewys in sy aanpak van Covid-19. Sy opregtheid, integriteit en vasbeslotenheid om die uitwerking van die virus te beperk is prysenswaardig.

Maar dit gaan gepaard met ’n enorme koste: sakelui wat winkels moet sluit en werkers huis toe stuur. Nog erger is dat sodanige sluiting nie ’n einddatum het nie, wat ondernemings in staat sou stel om dienooreenkomstig te beplan.

Ondanks al sy goeie werk moet Ramaphosa op die uitkyk wees vir die uiterstes en morele kruisvaarte wat in die naam van die stryd teen die virus toegelaat word.

Ondanks al sy goeie werk moet Ramaphosa op die uitkyk wees vir die uiterstes en morele kruisvaarte wat in die naam van die stryd teen die virus toegelaat word. Die beste voorbeeld was verreweg Bheki Cele, minister van polisie, wat die oorlog teen alkohol sy hoofprioriteit gemaak het. Daar is begrip daarvoor dat alkohol verantwoordelik is vir misdade, soos ’n messtekery, aanranding, moord en motorongelukke. Die verspreiding en verkoop daarvan moet dus beheer word.

Maar Cele wil alkohol selfs ná die pandemie verbied, wat myns insiens buite sy magte val. Die nasie sal in gesprek moet tree of ons dit heeltemal wil verbied of beheermaatreëls wil instel, soos om die tye te reguleer wanneer dit verkoop word en waar dit verkoop kan word, maar Cele kan nie ’n diktator daaroor wees nie.

Dieselfde oorywerigheid word ten toon gestel wat betref die verbod op die verkope van sigarette en warm kos – dit voel of mag regtig na die regering se kop gegaan het.

Soortgelyke kommer moet gelug word oor die optrede van die weermag. Weermaglede is reeds betrek by aanklagte van beweerde moord op burgerlikes oor die land heen. Nou het Ramaphosa ’n volle 73 000 weermaglede ontplooi en dit laat ’n mens sidder. Die doelwit is waarskynlik om seker te maak alle areas word gepatrolleer. Daar word berig en ek het self gesien dat mense in die meeste townships soos gewoonlik rondbeweeg en mekaar besoek, waardeur hulle die moontlikheid van die verspreiding van die virus verhoog.

Maar die weermag vertoon nie die hoogs gedissiplineerde etos van ander weermagte nie. Weens ons geskiedenis het hulle nie ’n uniforme doelwit en dissipline nie. Gevolglik kan die regering teen die einde van die inperking met ’n hoop hofsake sit, terwyl gesinne geliefdes weens ’n ongedissiplineerde en bandelose weermag kan verloor.

Ofskoon die regering deur die wêreld geloof word vir die wyse waarop hy die pandemie gepak het, kan die persoonlike moraliteit van staatsamptenare en die bandelose operasies van die veiligheidsmagte sy goeie werk ondermyn.

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Koronavirus  |  Virus  |  Cr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.