Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR versit berge vir SA in NY, maar ai tog . . .
Sarel van der Walt

Dit is baie jammer pres. Cyril Ramaphosa se baie suksesvolle besoek aan New York vandeesweek word nou oorskadu deur die video-uittreksel van ’n TV-onderhoud waarin die president sê daar is “geen moorde op boere en grondvergrype” in Suid-Afrika nie.

Hoewel die presidensie probeer walgooi deur te verduidelik Ramaphosa se woorde moet gesien word teen die agtergrond van die vraag wat in dié Bloomberg-onderhoud aan hom gestel is, is die skade gedoen.

Dit is daardie paar woorde wat baie mense sal onthou. Die president moes sy woorde versigtiger gekies het.

Toe Ramaphosa gevra is oor pres. Donald Trump van die VSA se omstrede twiet oor plaasmoorde en grondbesettings moes hy bloot gesê het hy stem nie met Trump saam nie.

Ek glo nie vir ’n oomblik die president ontken dat plaasmoorde voorkom nie.

Dit is daardie paar woorde wat baie mense sal onthou. Die president moes sy woorde versigtiger gekies het.

Die hoë voorkoms daarvan is algemeen bekend en synde iemand wat self ’n boer is, sál hy deeglik daarvan bewus wees.

Die ironie is dat Bloomberg op sy skerm gewys het hoe die rand verstewig het in die paar minute toe Ramaphosa voor dié onderhoud besig was om sy toespraak te lewer.

Ondanks sy woordblaps, het die president hom die afgelope week in New York uitstekend van sy taak gekwyt.

Hy het soos ’n ware staatsman opgetree.

In albei sy toesprake voor staatshoofde en regeringsleiers wat die Nelson Mandela-vredesberaad én die 73ste algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) bygewoon het, was dit duidelik hy wil Suid-Afrika weer herposisioneer in die internasionale gemeenskap nadat die land onder oudpres. Jacob Zuma sy invloed en die wêreld se respek verloor het.

Ramaphosa het ’n goeie indruk gewek. Sy staatsmanskap was te sien in sy pleidooi dat die VN hervorm moet word en dat Afrika ’n groter rol behoort te speel.

Ramaphosa het dit duidelik gestel Suid-Afrika is gereed om in die toekoms weer ’n kernrol in Afrika te speel.

Ramaphosa het dit duidelik gestel Suid-Afrika is gereed om in die toekoms weer ’n kernrol in Afrika te speel.

Myns insiens is hy die leier uit Afrika wat die afgelope week in New York die meeste gesag afgedwing het.

Dit word weerspieël deur die feit dat hy uitgenooi is om saam met onder andere Theresa May, Britse premier, aan die Bloomberg-beraad deel te neem.

Hy is ook gevra om die David Rockefeller-gedenklesing van die gesaghebbende Institute on Foreign Relations aan ’n uitgelese gehoor van sakelui te lewer.

Sy prioriteit is om die Suid-Afrikaanse ekonomie reg te ruk en daarvoor het die land dringend groot beleggings nodig, sê Ramaphosa.

Die sakeman-president het die sakelui se taal gepraat — die taal van dollars, beleidsekerheid en -konsekwentheid.

Ramaphosa het in byna elke toespraak openlik erken korrupsie is ’n baie groot probleem, maar dit sal uitgeroei word.

Die president het die paar dae wat hy in New York was uit sy pad gegaan om wie ook al wou luister, gerus te stel oor grondhervorming.

“Suid-Afrika sal die wêreld verras en ’n eie unieke oplossing vind – soos ons in 1994 gedoen het.”

  • Sarel van der Walt, ’n politieke joernalis van Beelden Netwerk24, was op uitnodiging van die presidensie en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking saam met Ramaphosa in New York.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Sarel Van Der Walt  |  Plaasmoorde  |  Vn  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.