Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
CR, woorde wek, voorbeelde trek
Rapule Tabane

Een van die frustrasies van politieke waarnemers tydens die presidentskap van Thabo Mbeki was sy weiering om kwessies soos die situasie in Zimbabwe openlik te veroordeel. Mbeki het nie daarin geglo om iets te sê net omdat dit gesê moet word nie.

Ek hunker terug na Mbeki omdat ek die teenoorgestelde aanslag by pres. Cyril Ramaphosa waarneem.

Ramaphosa is ’n geartikuleerde mens wat die regte dinge op die regte tyd sê. Hy is ondubbelsinnig in sy veroordeling van korrupsie, diefstal en die misbruik van politieke mag vir persoonlike gewin. Hy is tot president van die ANC en die land verkies, gegrond op sy sterk standpunt teen korrupsie en hy sing steeds dieselfde deuntjie.

Maar maak dit hom doeltreffender in die hantering van diefstal en korrupsie? Nie noodwendig nie.

Sy presidentskap sal eendag nie net beoordeel word op die regte uitsprake en veroordelings nie, maar of iets daadwerkliks gedóén is om oortreders te straf. Gemeet net hieraan, skiet hy tekort – weens Covid-19-korrupsie, die Zondo-kommissie en veral Nomvula Mokonyane, voormalige minister van waterwese en omgewingsake, se getuienis voor dié kommissie.

Die hele sitting het gevoel soos ’n baie duur, belaglike voorstelling waarsonder ons kan klaarkom.

Angelo Agrizzi, een van die grootbase van Bosasa, beskuldig Mokonyane daarvan dat sy gunsies van Bosasa ontvang het in ruil vir tenders. In haar getuienis voor die Zondo-kommissie het Mokonyane vir ’n hele dag lank gestaan en dit alles ontken. Sy het selfs ’n lesing afgesteek oor hoe die ANC werk en hoe Agrizzi duidelik oningelig is daaroor.

Mokonyane het die kommissie ook toegespreek oor die prys wat sy moes betaal vir die bevryding van Suid-Afrika. Die kruisondervraging was swak en sy het die kommissie verlaat terwyl haar kamerade haar geloof het omdat sy “die feite gestel het”.

Sy sou nooit in ’n strafhof hiermee weggekom het nie. Dit het my so laat wens dat ons nie deur ’n kommissie van ondersoek moet worstel nie, maar dat bewerings eerder deeglik ondersoek en aan die nasionale vervolgingsgesag oorhandig kon word vir vervolging.

Die hele sitting het gevoel soos ’n baie duur, belaglike voorstelling waarsonder ons kan klaarkom. Die Zondo-kommissie, wat veronderstel is om sy werk teen die einde van die jaar af te handel, het ons sover R700 miljoen gekos en mense vra tereg vrae oor die waarde wat ons daaruit kry.

Vir my is die hele idee om te onderneem om nié korrupsie toe te laat nie of mense te vra om “terug te staan” met betaalde verlof in skerp teenstelling met die optrede van Patricia de Lille, minister van openbare werke.

De Lille het ferm opgetree teen Sam Vukela, dié departement se direkteur-generaal. Haar optrede spruit uit twee verslae oor onregmatige uitgawes op staatsbegrafnisse en onreëlmatige aanstellings in die staatsdiens. Die belangrikste is dat De Lille reeds ’n dissiplinêre proses teen Vukela begin het. Dit beteken hy gaan nie vir ’n onbepaalde tydperk by die huis sit en steeds sy salaris ontvang nie. Hy gaan aangekla word en as hy skuldig bevind word, afgedank word. Is hy onskuldig, kan hy voortgaan met sy werk.

Ramaphosa veroordeel plundery, maar dit is eers wanneer iemand soos De Lille iets dóén dat mense kennis neem. Anders kan ons maar net nog ’n webinaar hou om korrupsie in die 21ste eeu te bespreek. Of die president nooi om ons nog ’n aand op TV toe te spreek oor wat hy sal verdra en wat nie.

Ek hoop ek is verkeerd omdat ek ongeduldig raak oor die Zondo-kommissie. En dat die president se woorde gevolg sal word deur inhegtenisnames en vervolgings. Ons het hoop nodig, maar dis so moeilik.

  • Tabane is politieke redakteur van City Press.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Rapule Tabane  |  Thabo Mbeki  |  Zondo-Kommissie  |  Woorde  |  Voorbeelde  |  Cr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.