Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Curriebeker kan in Bfn of Kby bly
Gert Coetzee

Wat ’n plaaslike rugbyjaar sou dit wees as Griekwas en die Cheetahs in die Curriebeker-eindronde teen mekaar speel.

Vergeet eers van Rassie se Bokke – wat vandeesweek in Bloemfontein laag lê – en die WB 2019-toernooi in Japan.

Vir ’n draadsitter-ondersteuner soos ek, sou ’n finaal tussen die Poubloues en die Wit Tornado ’n wen-wen-situasie wees. Die moontlikheid bestaan.

Met een ligawedstryd oor, lê Griekwas boaan die puntelys en is hy die enigste van die ses spanne wat seker van ’n plek in die halfeindronde is. Oormôre se wedstryd teen die Lions sal bepaal of dit ’n tuis-halfeindstryd gaan wees.

Die Vrystaat lê tweede en sy uitslag teen die WP oormôre én ander wedstryde s’n sal sy voorland bepaal.

Die Vrystaat lê tweede en sy uitslag teen die WP oormôre én ander wedstryde s’n sal sy voorland bepaal.

’n Halfeindstryd tussen Griekwas en die Cheetahs is permutasie – hetsy in Kimberley of in Bloemfontein. ’n Ander een is dat hulle mekaar in die eindstryd sou kon pak, sover onseker waar.

Of die Cheetahs sou selfs kon uitval.

Maar die kans van ’n Kimberley-eindstryd tussen geliefde bure – of is dit vriendskaplike vyande? – maak vergesigte wakker van hoe Griekwas in 1970 die Curriebeker – die laaste keer – in die De Beers-stadion in Kimberley gewen het.

Vir vurige rugby-ondersteuners gaan dit mos eintlik maar oor hulself – oor waar jy was; hoe jy dit beleef het, en hoe na jy aan daai rugbyheld was.

Die hoogtepunt van my eie roemlose rugbyloopbaan was toe ek ’n drie vir Welkom-Rovers se vierdes teen die dorp (of is Welkom ’n stad?) se spietkops gedruk het. Ook net omdat ’n spanmaat my van agter in die doelgebied getêkkel het voordat ek met die bal die doodlyn oorsteek.

Daaroor kan ek nie skryf nie. Maar ek onthou hoe ons gesin in 1970 met ’n klein draadloos teen die oor op die stasie van Germiston na die wedstryd tussen Griekwas en Noord-Transvaal in die Diamantstad geluister het. Eintlik was dit ’n uitgemaakte saak dat die magtige Blou Bulle, vol Springbokke en afgerig deur die legendariese Buurman van Zyl, die Curriebeker weer sou wen.

Dit het anders uitgewerk. Griekwas onder aanvoering van Mannetjies Roux, wat (as ek dit reg het) vroeër daardie week per trein van Victoria-Wes gekom het, het 11-9 gewen. Oor dié rugbysprokie het Marnus Kok van Volksblad se sportkantoor verlede jaar ’n heerlike onderhoud met Tos (78) en Peet (75) Smith, die twee broers in Griekwas se span (albei steeds in Kimberley), gevoer.

In 1998 het Griekwas die laaste keer in ’n Curriebeker-halfeind gespeel. Daardie jare was ek verslaggewer in Kimberley en het die Markgraaff-jare en Griekwas se droomseisoen in 1998 met die opwindende Gaffie du Toit op losskakel beleef. Toe pak Griekwas (eerste op die puntelys) die WP (vierde) in die halfeindstryd op Hoffepark­ waar – soos Christo Buchner eergister berig – dit vir Griekwas se brekers ’n stokperdjie is “om teenstanders op hul klipharde stowwerige veld se vaal gras in die grond te boor dat die tande klap”.

’n Ruk later skyn die son weer, maar die veld is pappery.

By Hoffepark was ’n markiestent vir die groot wedstryd op 22 Oktober opgeslaan. Só ’n uur voor die afskop steek een wolk oor die hele Suid-Afrika op, kom hang reg bo dié Kimberley-stadion en laat ’n ligte wolkbreuk los.

’n Ruk later skyn die son weer, maar die veld is pappery.

WP met Bobby Skinstadt as kaptein het 27-11 gewen. Percy Montgomery in ’n paar wit stewels se skopvoet was gif.

Nou is een wedstryd oor.

Dan volgende naweek se halfeindstryde.

In Bloemfontein het ek op die Vrystaatstadion na die rugbyhelde in wit gaan kyk nog voordat ek skool toe is. Die Cheetahs speel nou die mooiste rugby en kan teen enige span wen. Of verloor.

Mag die Curriebeker vanjaar in Bloemfontein of in Kimberley bly staan.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Sport  |  Cheetahs  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Rugbyspelers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.