Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril, Bfn soek ’n stadsaal, seblief
Gert Coetzee

Cyril Ramaphosa is die nuwe leier van die ANC. Wat nou?

Die wenslysies reën neer op die oudvakbondleier (van die destydse Nasionale Mynwerkersunie) wat stellig in 2019 of vroeër nuwe staatshoof word.

Hoog op my lysie is dat Cyril, as die nuwe man-met-’n-plan, asseblief blitsig korte mette moet maak van die hoop vieslike rommel op die hoek van Charlesstraat en Oos-Burgerstraat hier in Bloemfontein waarteen ’n mens soggens op pad werk toe moet vaskyk. Met ’n toegedraaide motorvenster, want dit raak daagliks ál meer onwelriekend en wapperend. En nie net daardie vullis nie, maar die flentersakke voor alle huise in die Stad van Rommel waar die eienaars dit neerplons welwetende die mislukte Mangaung-munisipaliteit (MMM) se paar kontrakteursbakkies met plek vir net 19 sakke elk gaan beslis nie in die festive season daarby uitkom nie. Die MMM werk net volstoom van Vrydae om 17:00 vir betaling teen oortyd vir die take wat tydens werktyd ongedaan gelaat is.

Dan moet Cyril ook persoonlik aan elk van die huiseienaars en elke ander besoedelaar in die land die leviete gaan voorlees. Asook aan subkontrakteurs in diens van kontrakteurs in diens van tenderaars wat met die hoogste prys by die MMM geslaag het en nou afwaartse werkskepping genereer.

“Kyk, kaders,” moet hy sê, “dié ding dat daar slaggate is nog voordat julle klaar is met die nuwe paaie wat julle bou op plekke waar nie nuwe paaie nodig is nie, deug nie. Ook nie die gemors wat jare later nog rondlê nie.

“Of die onkruid wat deur die randstene en die plaveisel opskiet nie – ’n mens behandel tog eers die grond met onkruiddoder. Nes die ANC met peste, plae en president’s keepers doen.”

Dit sal bars gaan, maar ’n Venda-buffelboer laat hom nie stuit nie.

Hy sal veral die sweep klap oor die massiewe slaggat om die hoek van Dealeweg in Kenneth Kaunda-laan. “Nee, nee, kaders. Dit doen nie kameraad Kenny K se naam gestand nie. Dis dalk in die gat waar die MMM-rommellorries verdwyn,” sal hy raas.

Dan’s ons nog nie by waterlose krane en verstopte riool nie.

En dis net in Bloemfontein.

Alle grappies op ’n stokkie. Cyril het die nasionale ontwikkelingsplan waarvan hy die drywer is. Dalk is hy die spelbreker wat nodig is om die gety te swaai. Die onvoorsiene spelbreker wat hy weer gekry het, is dat sy topvyf eintlik nie sy topvyf is nie.

En ook ’n paar spelbrekers bevat.

Dit sal bars gaan, maar ’n Venda-buffelboer laat hom nie stuit nie.

Suid-Afrika het ’n ommekeer nodig.

Staatskaping, korrupsie, wetteloosheid, wanadministrasie, wanbestuur en onverantwoordbaarheid moet wyk. Voor wetsgehoorsaamheid, knap aanwending van belastinggeld en ander hulpbronne, puik diens en individuele aanspreeklikheid.

Sodat die verdwene miljarde rande per jaar aangewend kan word om ’n ware verskil te maak. Soos vir proaktiewe werkskepping met mense wat deur hul bydrae ’n verskil maak.

En nie reaktiewe werkskepping met mense wat rommel strooi sodat ander se tyd en energie verspil word om net weer die situasie te herstel nie.

In wese word van Ramaphosa verwag om die proses te bestuur ingevolge waarvan die mislukte stelsel (staatskaping) deur ’n suksesvolle een (staatsheling) vervang word.

Dit sou ’n hele positiewe menslike kettingreaksie, van my en jou inkluis, verg.

Tóg, die leiersvoorbeeld is bepalend.

Kyk maar hoe het Suid-Afrika hom in die laaste jare volgens Jacob Zuma se standaarde geskik.

Laastens moet Cyril asseblief ook onthou Bloemfontein het ’n nuwe stadsaal nodig. Hieroor kan hy by kader Ollie en kader Ace gaan kers opsteek.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Cyril Ramaphosa  |  Bloemfontein  |  Anc-Leier  |  Stadsaal  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.