Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril bring nuwe energie, maar baie werk lê voor

Suid-Afrika het weer nuwe hoop nadat Cyril Ramaphosa president geword het, maar daar lê nog baie werk voor, skryf Danny Titus.

Danny Titus

Ons beraadslaag verlede week om ’n lang tafel by ’n bekende stigting in Johannesburg. Ons kyk na die rol van die sakesektor en hoe dit in vennootskap met die openbare sektor en die burgerlike samelewing kan bydra tot die verligting van armoede in ons land.

Die voorleggings is indrukwekkend. Mense is duidelik toegewyd en wíl ’n verskil in Suid-Afrika maak.

Ja, daar sal altyd die “moaners” wees en daar is inderdaad genoeg om oor te kla. En tog, wanneer sakemense, mense uit die regering en Suid-Afrikaners van statuur positief oor ons land praat, dan luister ek.

Dit bly nie net by praat nie. Hulle doen ook.

Verlede week het die Trialogue-organisasie sy jaarlikse “Business in Society 2018”-konferensie gehou. Sy fokus is korporatiewe maatskaplike beleggings in ons land.

Sy navorsing wys sowat R9,1 miljard word jaarliks aan dié soort projekte bestee.

Adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, en professor in die regte aan die Universiteit Stellenbosch, en Bonang Mohale van Business Leadership South Africa was twee van die sleutelsprekers.

Madonsela het dit duidelik gemaak dat onderwys die grondslag van haar ontwikkeling was.

Maatskaplike geregtigheid is die grootste Suid-Afrikaanse wond wat geheel moet word. Vryf sout in die wond en die hel breek los.

Sy het geen doekies omgedraai oor die uitdagings wat Suid-Afrika moet oorkom nie.

Ons demokrasie is in gevaar. Maatskaplike geregtigheid is die grootste Suid-Afrikaanse wond wat geheel moet word.

Vryf sout in die wond en die hel breek los, het sy gesê.

Dit sal saamwerk kos om ons koppe op te tel. Dit is in ons belang dat niemand agtergelaat word nie.

Sy is opgewonde oor Ramaphosa se “nuwe dagbreek”. Ons moet minder soos slagoffers optree en meer soos leiers. Dit is wanneer ons energievlakke sal styg pleks van daal.

Staatskaping laat administrasie ly

Mohale is ’n man wat met beleggers in Londen, New York en ander stede gaan praat oor Suid-Afrika. Die beleggers, sê hy, wil hê ons moet slaag, want hulle het gesien wat ons kan doen.

Onder die leiding van oudpres. Nelson Mandela het Suid-Afrika se ekonomie vyfvoudig gegroei. Die departement van finansies het uitstekende mense gehad, van die beste in die wêreld.

Staatskaping het daarvan ’n leë dop gemaak. Die “good cops” is met die “bad cops” vervang.

Ramaphosa, het Mohale voorts gesê, het ’n staatsadministrasie geërf wat swakker was as die een onder apartheid.

Ons moet transformasie ernstig opneem as ’n algehele breuk met die verlede.

Vir hom begin goeie sake by etiese leierskap en ons het nou die geleentheid om ’n verskil te maak.

Ons moet transformasie ernstig opneem as ’n algehele breuk met die verlede. Dit is die onbetwisbare rol van die sakesektor in Suid-Afrika.

In my gespreksgroep op die konferensie hoor ons hoe Anglo American Platinum, Volkswagen en Discovery bydra tot ’n suksesvolle Suid-Afrika.

Die bydrae van R9,1 miljard vir korporatiewe maatskaplike beleggings deur alle maatskappye is beduidend. Hulle dink meer strategies en is meer gerig op samewerking tussen rolspelers.

Die begunstigdes is nieregeringsorganisasies en organisasies wat werk in die sektore vir onderwys, gesondheid, behuising, kuns en kultuur en werkskepping.

ANC moet kollektiewe skuld kry vir Zuma-era

Ramaphosa se presidentskap het reeds ’n groot verskil gemaak en hoewel die uitdagings enorm is, is daar hope energie en positiewe verwagtinge ná die vernietigende era onder oudpres. Jacob Zuma.

Iemand in ons gespreksgroep, wat toegang tot die binnekringe het, het gesê Ramaphosa is ons enigste hoop.

Die werklose jong mense in informele nedersettings is aan die roer. Ons het ’n staat geërf wat aan die agteruitgaan is.

Ramaphosa was immers in Zuma se regering en die ANC moet maar kollektiewe verantwoordelikheid aanvaar vir wat hy onder die Zuma-bewind aan die land gedoen het.

Ek moet sê ek byt nie juis aan die idee van ’n verswakkende staat wat deur ’n nuwe regering geërf is nie.

Ramaphosa was immers in Zuma se regering en die ANC moet maar kollektiewe verantwoordelikheid aanvaar vir wat hy onder die Zuma-bewind aan die land gedoen het. ’n Mens kan maar net onthou hoe ANC-parlementslede Madonsela uitgejou het toe sy dit gewaag het om teen Zuma op te staan.

Maar ek dink Ramaphosa het almal se ondersteuning nodig. Sy ingrypings só kort ná sy aanstelling as president was verreikend.

Hy is iemand wat glo aan prosesse, hy is planmatig en word deur ’n stewige groep raadgewers omring.

Pa, ek glo nie ek wil in Suid-Afrika werk nie. Ek gaan buiteland toe.

Dit alles behoort Suid-Afrika weer hoop te gee.

Tog vertel die man uit die binnekringe ons van sy seun wat ’n kwalifikasie van een van ons beste universiteite het. Alles tel in sy guns: goeie kwalifikasies, hy is swart, jonk en het goeie verbintenisse.

“Pa, ek glo nie ek wil in Suid-Afrika werk nie. Ek gaan buiteland toe.”

Hopelik kom hy terug, maar sy pa kon hom nog nie oortuig om dit te doen nie . . .

* Dr. Titus is uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.