Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Middelgrond
Cyril en Tito nou linkse gyselaars

Die minister van finansies se aanvullende begroting verlede Woensdag het, heel voorspelbaar, geen verrassings of enige goeie nuus opgelewer nie. Tito Mboweni het bloot die land herinner aan hoe diep die ekonomiese gat is waarin ons is.

Henry Jeffreys

Die begroting was gestroop van besonderhede oor hoe die regering die groot uitdagings gaan pak. Hiervoor moet ons glo wag vir die mediumtermynbegroting in Oktober. Maar dit is futiel om te verwag dat ons selfs dan enige duidelikheid sal kry oor wat die toekoms ekonomies inhou.

Oor enkele dinge is daar egter wel sekerheid: Ons sal dieper in skuld wegsink; die vrese van linksgesindes sal bewaarheid word – ons het nie ’n keuse nie as om by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank (WB) om hulp aan te klop nie; werkloosheid sal net verder toeneem.

Kenners voorspel dat die land se skuldlas tot meer as 140% van die bruto binnelandse produk (BBP) sal toeneem. Dit is in enige taal ’n katastrofe, een wat op grond van die heersende tendense moeilik betwis kan word.

Mboweni het geen aanduiding gegee van die situasie met staatsondernemings nie, met die uitsondering van die Landbank, wat ’n inspuiting van R3 miljard in staatsgeld ontvang het. Niks is oor Eskom of die SAL gesê nie.

Enige planne vir volhoubare ekonomiese herstel sal afhanklik wees van Eskom se vermoë om die krag aan te hou. Dit kan egter nie gewaarborg word nie. Inteendeel, die verwagting is dat dit onafwendbaar is dat die land een of ander tyd weer met kragonderbrekings gekonfronteer sal word.

Die antwoorde vir ekonomiese herstel lê nie op die weg van die heersende denke in die ANC of die land se linksgesinde vakbonde nie. ’n Swaarder regeringshand in die gang van die ekonomie sal net die dood, wat reeds in die pot is, verhaas.

Wat nodig is, is die verdere opening van die ekonomie. Dit is noodsaaklik dat staatsondernemings soos Eskom en die SAL in die hande van private aandeelhouers en bestuur geplaas word, wat baie meer omsigtig te werk sal gaan met die bates onder hul beheer.

Ek is oortuig dat leiers soos Mboweni en pres. Cyril Ramaphosa weet wat nodig is om gedoen te word.

Dit is tyd om ekonomiese besluite te bevry van politieke oorwegings en beïnvloeding. Dit sal egter ’n fundamentele ommeswaai in denke en optrede in die ANC en sy verwante vakbonde en organisasies verg.

Ek is oortuig dat leiers soos Mboweni en pres. Cyril Ramaphosa weet wat nodig is om gedoen te word. Hulle word egter gevange gehou deur ’n linkse koterie in hul party wat hardkoppig weier om die skrif aan die muur te lees.

Die staat se rol in die ekonomie moet beperk word tot die skepping van ’n klimaat vir regverdige mededinging en onafhanklike besluitneming deur aandeelhouers en besture. Dit sal vertroue en beleggings bevorder. En met meer beleggings sal daar ekonomiese groei wees, en daarmee saam, werkskepping.

Ramaphosa en Mboweni se taak is om die politieke gevegte te veg wat nodig is om hul party te oortuig. Dit sal allermins maklik wees, indien nie onmoontlik nie.

Te veel van die kaders is gespeen op linkse idees van ekonomiese bestuur wat lank reeds in byna al die gevestigde ideologies linkse lande soos Rusland en China versaak is. Ekonomiese bevryding het egter nie gelei tot politieke bevryding in die twee “moederlande” van Marxisme en Leninisme nie.

Ons het nog ’n baie lang pad om te loop om ekonomiese herstel te behaal. Vir eers moet die land uit die diep gat kom waarin hy hom bevind. Mboweni se begroting verlede week het nie eintlik iets gedoen om op die herstelpad te kom nie. Inteendeel, hy het ons waarskynlik net dieper in die gat gegrawe.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Tito Mboweni  |  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.