Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril is geen ‘messias’
Pres. Cyril Ramaphosa dans ná sy inhuldiging Saterdag op Loftus Versfeld saam met tradisionele leiers. Foto: FELIX DLANGAMANDLA

Deur aan Cyril Ramaphosa messiaanse status toe te ken, loop ons die gevaar om ons foute te herhaal, skryf Mondli Makhanya.

In die dae voor die algemene verkiesing het konsensus in die sakewêreld begin ontstaan dat pres. Cyril Ramaphosa ’n milde mandaat van die kiesers nodig het vir Suid-Afrika om te herstel en op sy voete te kom.

Volgens hulle moes hierdie mandaat 60% en hoër wees.

Vergete was die kommer van voorheen oor ’n verkiesingsmeerderheid wat ’n gebrek aan verantwoordbaarheid en straffeloosheid in ANC-geledere ontketen het.

Ramaphosa was nou aan die stuur van sake en só het die narratief ontstaan dat die ANC met dié soort mandaat vertrou kon word wat hy voorheen misbruik het.

Soos gewoonlik was Colin Coleman, Goldman Sachs se uitvoerende hoof in Afrika suid van die Sahara, voor in hierdie koor.

In ’n onlangse onderhoud met Bloomberg-TV het Coleman gesê die verkiesingsuitslag moet ’n “sterk mandaat vir strukturele hervormings rugsteun”.

’n ANC met 60% sou Ramaphosa die “politieke ruimte gun om sy moderniseringsagenda in werking te stel, onder meer deur te probeer om die staatsbeheerde ondernemings en ’n klomp ekonomiese hervormings stewig te vestig”.

Ander korporatiewe grootkoppe en sakeondernemings was dit eens, alles op grond daarvan dat dit ’n mandaat vir Ramaphosa self sou wees eerder as vir die party wat hy lei.

Die logiese gevolgtrekking van dié argument sou wees dat die demokrasie tans ’n sterker ANC en ’n swakker opposisie nodig het.

Só is die geloof in ’n lewenskragtige, hoogs mededingende politieke ruimte opgehef omdat een man as ’n verlosser beskou word – en sy messiaanse kragte ’n hupstoot nodig het.

Nuwe hoogtes

Dié geloof in Ramaphosa se mes­siaanse vermoëns is nie tot die korporatiewe wêreld beperk nie. Dit bestaan in talle dele van die Suid-Afrikaanse gemeenskap, ongelukkig ook in die akademie en die vierde stand, waar ’n mens ’n bietjie meer skeptisisme sou verwag.

Selfs sommige lede van die godsdienstige sektor, met sy eie stel messiasse, lyk gewillig om in dié afgodery te deel.

By Ramaphosa se inhuldiging as president en die euforie en hoop wat dit gebring het, het dié verheerliking nuwe hoogtes bereik.

As Suid-Afrikaners sal ons dié god aanbid, gesange tot sy lof sing en hom smeek om ons te red.

Daar sal verskillende vlakke van geloof wees, wat wissel van diegene wat glo hy is ons enigste hoop tot dié wat glo, maar ’n mate van omsigtigheid aan die dag lê.

Min mense sal stry dat Ramaphosa tans Suid-Afrika se beste opsie is. Die gemoedstemming in die land en onder beleggers het drasties verander sedert hy in November oorgeneem het.

Hy het die regte geluide gemaak en sommige goeie besluite geneem, wat ons laat voel het hy is ’n demokraat wat verbind is tot die herstel van die grondwetlike waardes wat sy voorganger gedink het die werk van Beëlsebul was.

Selfs minder sou stry dat hy die stryd om beheer van sy party moet wen en dat dit nie net in die ANC se belang is dat die ampsoortreders nie die faksiegevegte wen nie, maar ook in dié van die land.

As hulle wen, sal dit nie net die ontluikende herstelwerk aan die land se siel stuit nie, maar ook hul moordende populisme ’n hupstoot gee – tot groot nadeel van die ekonomie.

Die goedvoel-atmosfeer in verlede Woensdag se parlementsitting en die staatsmanagtige aura wat Ramaphosa uitgestraal het, was ’n verdere aanduiding dat hy die regte mens is om die pleisters op die wonde van’n seer, mishandelde nasie te plak.

Maar die aanbiddingskoor kan juis tot Ramaphosa se ondergang lei. Deur messiaanse status aan hom te verleen, loop ons die gevaar om dieselfde foute as in die verlede te maak.

Nelson Mandela het geweet dat hy as ’n verlosser beskou word en het dit gehaat.

Cyril Ramaphosa waai vir sy ondersteuners ná sy inhuldiging. Foto: AP

Kultusvolgelinge

So outoritêr as wat hy soms was, het hy uit sy pad gegaan om te wys hy het nie al die antwoorde nie. Hy het die gemeenskap aangemoedig om hom tot orde te roep.

Daar is dus destyds nie veel skade aangerig nie, maar dit het die gedagterigting laat ontstaan dat leiers met ontsag behandel moet word.

Thabo Mbeki het derhalwe geen probleem daarmee gehad om die mag te gebruik wat met bewondering gepaardgaan nie.

Hy was geen Mandela nie, maar sy reputasie as ’n intellektueel en slawedrywer wat klem op detail lê, het aan hom sy eie legendariese status besorg.

Hy sou wegdoen met donsige Mandela-gevoelens en seker maak die nasie sit skouer aan die wiel.

Mbeki was merendeels ’n goeie invloed. Hy het vir sy nasie en vasteland omgegee en wou die beste vir die inwoners hê.

Mbeki se intellektuele bekwaamheid het aan hom kultusvolgelinge besorg. Die ANC en die land het denke aan hom uitgekontrakteer. Hy was die man met al die regte antwoorde, al was hy verkeerd.

Diegene wat gewaag het om hom te bevraagteken, is geteer-en-veer.

Mbeki het in hierdie aanbidding gedy en het dit gebruik om sy “meerdere kennis” op almal van ons af te dwing. Ons weet waar die aanbidding van daardie man ons gebring het.

Die man wat Mbeki opgevolg het (as jy die agt maande buite rekening laat toe Kgalema Motlanthe aan die stuur was), was baie anders.

Twee koppe

Om mee te begin, het hy twee koppe gehad – ’n ongewone verskynsel wat die indruk by talle gewek het dat hy ook bykomende breinkrag gehad het.

Hy is op ’n golf van populistiese euforie na mag gedra. Hy is aanbid en opgehemel.

Diegene wat daarop gewys het dat die twee koppe net twee deurmekaar stoorkamers was en dat hy ’n valse god was, is óf geïgnoreer óf op die brandstapel verbrand.

Teen die tyd dat die meeste hul fout agtergekom het, was die beloofde land ’n woesteny.

Ons is nou dom genoeg om nog ’n god te skep. Jy moet net na die uitasem-kommentaar luister oor wat Ramaphosa reeds bereik het en wat hy vir die land gaan doen om te besef dis nie net die armes en desperates wat na ’n wonderwerk smag nie.

Terwyl ons hierdie god skep, vergeet ons gerieflikheidshalwe dat die man wat ons vandag wil aanbid langs Jacob Zuma gesit en ongeërg toegekyk het hoe laasgenoemde die staatskapingsprojek van stapel stuur.

Die tydperk sedert 2012, toe Ramaphosa as adjunkpresident van die ANC verkies is en veral sedert 2014, toe hy adjunkpresident van die land geword het, was toe die mees verregaande plundering van die land se hulpbronne plaasgevind het.

Terwyl die media die plundering onder Suid-Afrikaners se aandag gebring het, het die dapperes in die gemeenskap – insluitend sommige in die regerende party – teen die plunderende mafia opgestaan.

Hulle het baie risiko’s geneem, maar hulle het geweet die goeie sou uiteindelik seëvier.

Daar was baie ander, soos die man wat ons Saterdag as president gesalf het, wat nie die risiko die moeite werd geag het nie.

Voordat ons dus hierdie god van die “nuwe daeraad” aanbid, kom ons vra waar hy was en wat hy in die donker dae gedoen het.

* Makhanya is die redakteur van City Press.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.