Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril kan beslis nie geskok wees

Dawie is geskok om te verneem dat pres. Cyril Ramaphosa al wéér geskok is – dié slag oor die vlak van dienslewering en infrastruktuur soos wat hy waargeneem het met sy onlangse besoek aan Kimberley.

Maar laat ons Ramaphosa dít net eers ter ere nagee: Sy oplossing dat kaderontplooiing moet plek maak vir die aanstelling van die regte mense met die regte kwalifikasies in poste, is volledig in die kol. Ons hoop maar die ANC voeg die daad by die woord.

Maar een ding wat Ramaphosa beslis nie kan wees nie, is geskok.

Verlede jaar het Ratings Afrika se verslag die beroerde toestand van plaaslike regering – veral onder die ANC – behoorlik deurtrap. Die gevolgtrekking was dat ’n algehele ineenstorting van munisipale dienste moontlik is – “met katastrofiese gevolge vir inwoners en ondernemers, wat op sy beurt politieke onrus kan aanwakker”.

Met diensleweringsopstande oor die land heen, is die skrif mos ook reeds lankal aan die muur.

Luidens die verslag is die meerderheid munisipaliteite in Suid-Afrika in ’n finansiële krisis, met min of geen maatreëls om doeltreffende beheer oor begrotings uit te oefen nie.

Altesame 77% van die munisipaliteite in die peiling is in ’n begrotingstekort vasgevang en die algehele verliese beloop R13,3 miljard.

Lees dít teen die agtergrond van 2018 se verslag van die ouditeur-generaal (OG) waarluidens onregmatige uitgawes met 75% toegeneem het vergeleke met die vorige jaar – dít op die hoogtepunt van die Zuma-bewind. Slegs 49 van die land se 250 munisipaliteite het ’n skoon oudit ontvang.

Waar die swakste presteerders luidens Ratings Afrika geleë is, is geen verrassing nie. Dis in die Vrystaat en Noordwes, die politieke hinterland van die Zuptas, onderskeidelik eens onder die vaandels van Ace Magashule en Supra Mahumapelo.

Ons weet nou al die kern van die probleem is swak finansiële bestuur, wat tot die aanstelling van onbevoegde amptenare teruggevoer kan word. In kort, kaderontplooiing.

Wat dinge vererger, is gebrekkige vaardighede, gebrekkige verantwoordbaarheid en die feit dat plaaslike regering veral in die ANC as die intreevlak vir selfverryking beskou word.

Te veel munisipaliteite is die slagveld waarop ANC-faksies mekaar die stryd aansê en waar ampte gevul en ontruim word na gelang van die faksie wat beheer voer.

Die gevolg is tweërlei: Die omset van amptenare dwarsboom eerstens die bou van ’n kundige personeelkorps. Tweedens word ampte beskou as skaakstukke in ’n magspel, eerder as voertuie vir dienslewering.

Wat verder aansienlik kommer oor plaaslike regerings wek, is dat die ANC elke dan en wan speel met die gedagte om die provinsiale regerings af te skaf, kastig om “munisipaliteite se kapasiteit te versterk”.

Dawie verneem ook op goeie gesag dat ’n plan om die getal provinsies van nege tot ses te verminder vorm aanneem in sekere gedeeltes van die ANC.

As dit gedoen word met die politieke motief om die DA te verswak (ja, naas die Wes-Kaap is Gauteng en die Noord-Kaap in die visier), is die dood in die pot nie net vir die demokrasie nie, maar ook vir dienslewering op munisipale vlak.

In die ANC is dit algemene bedryfskennis dat sy gehawende takstruktuur juis toe te skryf is daaraan dat dit die kryt is waarin om munisipale poste meegeding word. Is die ANC dan doodseker hy wil nóg meer mag en beter betaalde poste by dié reeds giftige brousel voeg as hy provinsies afskaal?

Dawie voorsien dan opstande op ’n skaal wat dié land lanklaas gesien het.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Die Burger  |  Politieke Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.