Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril kán SA uit Zuma-moeras lei

Die Springbokke het Suid-Afrikaners weer rede gegee om te glo in die belofte van 1994 toe ons apartheid-Suid-Afrika gegroet en die sogenaamde reënboognasie omarm het.

Dit was wel nie alles maanskyn en rose­ nie. Onder oudpres. Jacob Zuma het die wiele lelik afgeval en die nuwe Suid-Afrika so byna ontspoor.

Begin verlede jaar het pres. Cyril Ramaphosa­ by Zuma oorgeneem – tot almal se groot verligting. Ramaphosa het onmiddellik begin om Zuma se verrotting om te keer – ’n moeilike maar nie onmoontlike uitdaging nie.

Hy het tereg die ekonomie sy eerste prioriteit gemaak – nie om dit uit te buit vir eie gewin nie, maar om dit te groei ten bate van alle Suid-Afrikaners.

Die groei bly op die oomblik ontwykend, maar die eerste tekens is daar dat die soort werkskeppende beleggings wat die land dringend nodig het, die eerste bloeisels toon.

Verlede week in Johannesburg op Ramaphosa­ se tweede beleggingskonferensie is beloftes van meer as R300 miljard gemaak, min of meer dieselfde as op verlede jaar se eerste konferensie.

Beloftes is wel een ding. Harde kontant in die bank of in projekte wat werk skep, is ’n heeltemal ander ding.

Beloftes is wel een ding. Harde kontant in die bank of in projekte wat werk skep, is ’n heeltemal ander ding.

Ramaphosa besef dit maar alte goed en weet hy sal die een of ander tyd moet bewys lewer van sigbare projekte – in fabrieke en ander vorme van ekonomiese aktiwiteit wat ’n verskil maak aan die massiewe uitdaging van die land se werkloosheid – byna 30% van die ekonomies aktiewe bevolking.

Ramaphosa moet voortdurend bedag wees daarop dat nie almal hom suksesvol wil sien nie. Baie van hulle is in sy eie party. Vir hulle is die verkryging van politieke mag belangriker as ekonomiese vooruitgang. Ramaphosa en sy pogings is vir hulle ’n struikelblok wat uit die weg geruim moet word.

Vir Suid-Afrikaners is dit belangrik om hul fokus en seënwense op Rama­phosa te hou. Hy is die beste kans wat ons het om uit die moeras van die Zuma­-era te kom.

Nie een van die opposisiepartye beskik juis oor ’n beter alternatief nie.

Onder die opposisiepartye het die DA sy sprankel verloor en dis te betwyfel of die terugkeer van Helen Zille na die aktiewe politiek die party enigsins behulpsaam gaan wees in sy pogings om eendag die land te regeer.

Die VF Plus wat so goed gedoen het in vanjaar se algemene verkiesing beskik oor ’n beperkte agenda wat waarskynlik nooit die nasionale verbeelding sal aangryp nie.

Hoe ’n mens ook al na Suid-Afrika kyk, kom jy onwillekeurig terug na die ANC vir antwoorde op die groot vraagstukke. Ramaphosa se grootste uitdaging lê dus ironies genoeg in die wandelgange van mag in sy eie party en verwante familielede – die vakbonde, die SAKP en Sanco.

Ramaphosa het duidelik lankal vrede gemaak dat die Koue Oorlog se ideologiese stryd gewen is by die val van die Berlynse Muur 30 jaar gelede. Die sosialisme en die kommunisme het verloor en die demokrasie en vryemarkstelsel het gewen.

Die SAKP en die vakbonde is ongelukkig nog bevolk met dissipels van uitgediende linkse ideologieë.

Ramaphosa self behoort openliker en met vertroue te praat oor die voordele van die vryemarkstelsel en waarsku oor die vergrype van die kapitalisme as dit onbevange vrye teuels gegee word.

So ’n benadering kan wel politieke dinamiet wees vir hom.

Die magte wat teen hom opgestel is, is diep ingegrawe en sal nie sommer net gaan lê nie.

Hulle bly Ramaphosa se grootste struikelblokke in sy strewe om die ekonomie en daarmee saam die land nuwe en blywende lewe te gee.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa  |  Zuma-Moeras  |  Ekonomie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.