Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril kry baie goeie wenke uit eie geledere

Suid-Afrika betree ’n fase waarin pres. Cyril Ramaphosa die land uit die rampspoedige Covid-19-fase moet lei deur ekonomiese herstel na standhoudende groei en ’n stabiele toekoms.

Barnard Beukman

Dit bring ons dan terug by die pre-Covid-19-debat oor hóé? Ramaphosa kan daaroor bloot luister na ’n klompie nuttige wenke uit eie geledere, as hy dan nie aptyt het vir allerlei stuurmanne aan wal nie. Indien hy sorgvuldig luister en ’n paar aantekeninge doen, kan hy gou-gou ’n herstelplan byderhand hê waarvoor hy wye steun sal ontvang.

Die eerste, en waarskynlik belangrikste, wenk kom van ?Lese­tja Kganyago, president van die Reserwebank. ’n Mens kan amper die frustrasie aanvoel in sy woorde toe hy onlangs voor die Kaapse Persklub gepraat het oor ekonomiese oplossings vir die land: “Vat net die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en stel dit in werking.” Hy voeg dan by dat daar al verskeie planne was, maar dat nie een uitgevoer is nie. Hy vra as ’n begin dat enige drie punte in die plan tog net in werking gestel word.

Tito Mboweni, minister van finansies, het ’n opgedateerde inwerkingstellingsgids as die tesourie se nasionale groeiplan aangekondig. En geluide van steun ten spyt, het dit ook min gevorder.

Heelwat verdere wenke kom van die einste Mboweni:

  • Doen drastiese snitte aan die staatsdiens se salarisrekening en skep ’n kleiner, moderner en doeltreffender staatsdiens. (Om spookwerkers uit te rook en geskorste salaristrekkers uit te sorteer, sal reeds baie bespaar.);
  • In aansluiting daarby en ook op Mboweni se lysie is die verkleining van die uitvoerende gesag. Ramaphosa het dié persoonlike 2019-verkiesingsbelofte van hom nog nie uitgevoer nie. Ons soek inderdaad nog minder ministers en adjunkministers.
  • Hou op om waardevolle en skaars geld in mislukte openbare ondernemings te stort (ook Mboweni). Skaf die goed af of herstruktureer en privatiseer waar moontlik; en
  • Luister na Enoch Godongwana, ekonomiese hoof van die ANC wat die wysiging van die Grondwet, om sonder vergoeding op grond beslag te lê, onlangs in ’n onderhoud ’n “voëlverskrikker” genoem het. Hy meen dit kan doeltreffender wees om ongebruikte staatsgrond aan mense oor te dra.

Stel jouself vir ’n oomblik voor dat Ramaphosa, sonder verdere raadpleging, verwysing na komitees, berade of toesprake bloot bogenoemde lysie in werking stel. Die vertroue wat dit sal skep, sal meer as genoeg momentum verskaf om die land weer op koers na buitengewone sukses te plaas.

Die aptyt ontbreek om weer tot vervelens toe in ’n rubriek oor die noodsaak van vinniger optrede teen korrupsie te skryf.

Tog bly dit die grootste olifant in die nasionale huishouding. Een van die ANC-misdadigers wat onlangs ook teen Ramaphosa uitgevaar het, is Andi­le Lungisa, voormalige metro­raadslid van Nelson Mandelabaai. Maar dit kon hom toe nie daarvan red om by die “Rooi Hel” (die Noordeinde-gevangenis in Port Elizabeth) aan te meld vir die uitdien van sy tweejaarvonnis weens aanranding nie. Hy is die soort waarvan daar nog baie in die ANC rondhang en wat Suid-Afrikaners nou vervolg wil sien.

Die laaste wenk kom van die ANC-veterane: Versterk die vervolgingsowerhede en laat die proses versnel.

Ramaphosa, wat ná ’n onstuimige paar maande heel stewig op sy voete geland het, hoef nie op die vervolgingsgesag te wag nie. Hy kan die skoonmaakproses onverwyld in sy eie kabinet begin. Hy het die name.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.