Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril moenie nou laat slaplê nie

Die nuus dat pres. Cyril Ramaphosa die naweek op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) sy opponente in die party uitgedaag het om van hom ontslae te probeer raak, sal deur sy ondersteuners verwelkom word.

Ramaphosa se ondersteuners wag al lank dat hy sy stem dik maak en sy teenstanders – onder die nie-amptelike leierskap van Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal – trompop loop.

Ramaphosa se teenstanders is klaarblyklik van plan om op volgende jaar se vergadering van die party se nasionale algemene raad ’n mosie van wantroue teen hom in te dien.

Die probleem vir sy opponente is dat Ramaphosa tot nou verkies het om sy kruit droog te hou en sy teenstanders toe te laat om hul gang te gaan. Dit was egter ’n fout en net die tyd sal leer of hy betyds wakker geskrik het om tot die aanval oor te gaan.

Ramaphosa veg aan twee fronte.

Ramaphosa veg aan twee fronte. Aan die eerste is Magashule en ander ondersteuners en meelopers van oudpres. Jacob Zuma, wat maar net nie kan of wil vrede maak daarmee dat hul faksie die leierskapsverkiesing op die verkiesingskonferensie in 2017 teen Rama­phosa verloor het nie.

Aan die tweede front is die openbare beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, wat oënskynlik daarop uit is om Rama­phosa met bevindings teen hom te frustreer en hom so uit sy pos te werk.

Die president veg wel deur die howe terug teen die OB. Dit is egter ’n stadige proses omdat hy dit nie kan waag om buite die spelreëls op te tree nie.

Hy moet die kantoor, en by implikasie die verskanste grondwetlike posisie, van die OB respekteer. Mkhwebane is maar alte bewus hiervan en buit dit ten volle uit. Tot dusver lyk dit egter of Ramaphosa in die howe wen.

In Engels word gepraat van “between a rock and a hard place” as jy jou in ’n rêrig benarde posisie bevind. Dít beskryf Ramaphosa se huidige penarie redelik akkuraat.

Mkhwebane word in sommige pro-Ramaphosa-kringe van ’n verskuilde agenda teen hom en sy minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, verdink. Haar kritici se vermoedens blyk reg te wees.

Intussen beleef die OB ’n moeilike tyd in die howe. Die konstitusionele hof het verlede week in ’n snydende beslissing bevind dat die OB onder meer oneerlik en onbevoeg in haar hantering van die ondersoek na die Absa/Bankorp-saak opgetree het.

Maandag het die hooggeregshof in Pretoria die OB ’n verdere regsklap toegedien toe ’n stokkie gesteek is voor Mkhwebane se voorstel dat Ramaphosa tugstappe teen Gordhan doen nadat sy in haar verslag oor die sogenaamde geheime ondersoekeenheid (rogue unit) in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bevind het dat Gordhan die Grondwet en die uitvoerende gesag se etiese kode oortree het deur die parlement te mislei.

Ramaphosa se besluit om sy teenstanders in die ANC regstreeks die stryd aan te sê dui daarop dat hy meer gemaklik oor die sterkte van sy ondersteuning in die party is.

Toe Zuma in 2008 daarop aangedring het dat sy voorganger, Thabo Mbeki, uit sy pos verwyder word, was laasgenoemde se ondersteuning in die party op ’n lae vlak. Indien Ramaphosa se bewese steun in die party sterk is, sal dit vir sy teenstanders moeiliker wees om hom uit sy pos as ANC-leier en staatshoof te verwyder.

Dinge lyk dus beter vir die president. Hy moet egter nie nou slaplê nie – nie aan een van die twee fronte nie – want daar is eenvoudig te veel op die spel vir hom en vir die land.

Soos hulle in revolusionêre politiek sê: A luta continua – die stryd duur voort. Inderdaad.

* Jeffreys is 'n voormalige redakteur van Die Burger.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.