Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril Ramaphosa, Breytenbach en die ‘Groot Weet’

Dis lekker om soms ’n filosoof teë te kom wat gewone taal praat, soos Eric Hoffer (1898-1983), wat hom veral oor mag en moraliteit uitgespreek het.

Foto:

“Every great cause begins as a movement, becomes a business and eventually descends into a racket,” het Hoffer op ’n keer gesê.

Die ANC bevind hom tans tot by sy neusgate in hierdie morsige derde fase – ’n epidemie van trogvretery, van heel bo tot onder.

Net die afgelope weke se Covid-19-beweringe is genoeg om van te huil: Pres. Cyril Ramaphosa se seun se kontrak van R6 miljoen; sy woordvoerder, Khusela Diko, se man se “oordeelsfout” van R125 miljoen; en Ace Magashule se twee seuns se meevaller van R2,7 miljoen.

Dertig jaar gelede, in 1990, kort nadat Nelson Mandela vrygelaat is, het Breyten Breytenbach op die kampus van die Universiteit Stellenbosch kom praat.

Dit was ’n tyd van optimisme, maar vir enigiemand wat toe gedog het Suid-Afrika se politieke nagmerrie is finaal agter die rug, was Breytenbach se praatjie nie ’n strelende een nie.

“Wat gaan ons maak met die ‘Groot Weet’ van die geskiedenis?” het Breytenbach gevra, en toe self die ongemaklike antwoord gegee: “Toe mense uit boonste verdiepings gesmyt is, doodgeskop of -geslaan of -geskok is, toe skrapers die kaias omgestoot het, toe honde op mense losgelaat is, toe daar op kinders losgebrand is – toe het ons gewéét dis moord.”

En later het Breytenbach gesê: “Die ministers en hul raadgewers, die departementshoofde en die kommissarisse en die voltydse sekretarisse en die generaals en die kolonels het gewéét hulle is soos geweldenaars en verkragters besig om die staat te stroop van enige aansien of morele reg op voortbestaan.

“Die regters en die magistrate met dié wat gemartel is en nog weer gemartel sou word voor hulle in die aanklagtebank – hulle het gewéét wat agter die mure gebeur.” (Lees Breyten se volledige passasie in die Penguin-bundel Parool: Versamelde toesprake).

Wat gaan hy maak met die Groot Weet van die ANC-bewind?

Ramaphosa word tans deur dieselfde vraag as Breyten s’n van destyds in die gesig gestaar: Wat gaan hy maak met die Groot Weet van die ANC-bewind?

Hy het as adjunkpresident gewéét van oudpres. Jacob Zuma se vergrype. Hy het gewéét van die Guptas se dosyne konkelkontrakte.

Hy het gewéét wat sy adjunkpresident, Didi Mabuza, in Mpumalanga aangevang het. Hy het gewéét van die rampokkery in die Vrystaat toe Ace Magashule premier daar was. Hy wéét watter lede van die ANC se Groot Ses, kabinet en nasionale uitvoerende komitee se hande is tot by hul kieliebakke vuil.

Morele vergelykings tussen die ou en huidige politieke bestel het nie veel raakpunte nie, maar daar is tog ’n opvallende teenstelling.

Die mag van die apartheidsregering het gesetel in sy vermoë om onskuldige mense te vervolg. Hoe tragies dan dat die mag van die ANC tans toenemend setel in sy vermoë om skuldige mense te beskerm.

Almal binne die ANC wéét van die vergrype. Een mens kan dit verander. Cyril Ramaphosa. Sy historiese moment vir ingryping het aangebreek.

As eerste simboliese stap moet die land nou sien hoe iemand van heel bo in die regering in ’n oranje oorpak tronk toe gestuur word.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Bun Booyens  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.