Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril Ramaphosa se basaarpoeding
Johann Maarman

As iemand gewone basaarpoeding – die jellie-en-vla-kombinasie – verkwansel as eksotiese pavlova, moet ’n mens weet jy word met ’n slap riem gevang.

Dís wat pres. Cyril Ramaphosa eergister in Kimberley gedoen het op die ANC se 108ste verjaardagvieringe.

Die ANC se sogenaamde 8 Januarie-verklaring, wat deur Ramaphosa gelewer is, het ongelukkig nie die naald beweeg nie. Hy het niks gesê wat ons Suid-Afrikaners nie reeds weet nie.

Waar is die dae toe Oliver Tambo die 8 Januarie-verklaring op Radio Freedom gedoen het en daar groot afwagting was oor watter rigting die ANC sou inslaan. Dit het nie net die belangstelling van lede en simpatiseerders van die (toe) verbode ANC aangegryp nie, maar ook die apartheidsregime in Suid-Afrika het hul ore gespits en regop gesit. Die 8 Januarie-verklaring was die GPS van die ANC.

Nou het die 8 Januarie-geleentheid ontaard in ’n orgie van erge drankmisbruik, ’n gefuif, waar kaders hul pantoffels onder vreemde hotelbeddens inskop en waar parasitiese kamerade dik Kubaanse sigare rook en kajuitraad hou oor wie die volgende regeringstender moet kry.

Asseblief, meneer die president, ons is nie almal onder ’n kalkoen uitgebroei nie.

Die hele idee van die 8 Januarie-oefening het dus nie meer die aantrekkingskrag wat dit in die verlede gehad het nie.

Ramaphosa noem dat die skobbejakke wat die staatskas plunder, aan die pen sal ry. Asseblief, meneer die president, ons is nie almal onder ’n kalkoen uitgebroei nie. U het dit ook verlede jaar op dieselfde geleentheid gesê en ook herhaal in u staatsrede en tot dusver het ons nie een prominente politikus in die hof gesien vir staatskaping nie, hoewel daar oorgenoeg bewyse is.

Weet u wat? Niemand glo u meer nie en neem dit maar met ’n knippie sout.

Ons sal u eers glo as die man van Nkandla en sy kohorte hul dag in die hof kry. Vervolg hom en sy makkers en maak ’n voorbeeld van hulle.

Maar ons weet Ramaphosa is soos ’n hen wat te lank op haar eiers sit. Teen die tyd dat sy haar agterstewe lig, het die kuikens lankal onder haar uitgeskuif.

Hy is nie beslissend en ferm genoeg nie en speel paai-paai-politiek. Ons het nie paaiers nodig nie. Ons het iemand nodig wat die ongemaklike besluite moet neem – al is dit ten koste van sy eie hoge partykaders, soos Ace Magashule en Jessie Duarte. Die ANC se belange kan mos nooit groter wees as landsbelang nie.

Een van die ANC se 2020-prioriteite is om ook om sosiale kohesie en eenheid te bevorder. Ramaphosa én die ANC hap na borrels hiermee.

Ek hoop die ANC-gesant wat ook handel dryf as die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het dit gehoor.

Lesufi is mos ’n man wat almal wat ’n verbintenis met Afrikaans het, as rassiste teer en veer. Hoe bevorder jy versoening met ’n rashater soos Lesufi aan ANC-boesem?

Dis alles mooi praatjies, want die ANC het nie regtig lus vir sosiale kohesie nie. Solank hy die rastamboer kan slaan en die rasharp kan streel, is hy tevrede. Hy is in beheer en steur hom nie aan minderheidsgroepe nie. Dis sy beurt om by die trog te eet. So sterkte met die sosiale kohesie-projek. Volgende jaar rammel ons dit maar weer af en vertel die ANC ons hoe oulik hy is.

Ook op die ANC se prioriteitslys is ’n doeltreffende grondhervormingsplan.

As ons dit ontsyfer, beteken dit maar dat grondonteiening sonder vergoeding bespoedig sal word.

Is ek dalk skepties oor die ANC se 2020-planne? ’n Welluidende ja, want soos die Engelsman sê: The proof of the pudding is in the eating.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Cyril Ramaphosa  |  Korrupsie  |  Politiek  |  Ondersoeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.