Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril sal baat by vaardige vroue
Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Die uitslag van die verkiesing en die lae stempersentasie is ’n boodskap aan die ANC dat die kiesers moeg is van wanbestuur en leë beloftes.

Aan die een kant sterk dit die hand van pres. Cyril Ramaphosa om sterker op te tree teen korrupsie en korruptes; aan die ander kant sal die Zuma-faksie verbete terugveg om hul voortbestaan te verseker.

Presies hoe sterk die Zuma-faksie is, sal ons kan sien aan wie in Ramaphosa se kabinet aangestel word. Ons sal ook die ANC se verbintenis tot geslagsgelykheid kan bepaal.

Die invloed van die Zuma-faksie was reeds te sien in hoe die ANC se kandidatelyste saamgestel is, veral op nasionale vlak. Daar was vroeër ’n verbintenis van die ANC om ’n sogenaamde sebralys te gebruik – elke tweede naam moet dié van ’n vrou wees.

In hierdie verkiesing was dit nie die geval nie en vroue is laer op die lys saamgegroepeer. Nkosana Dlamini-Zuma was die enigste vrou in die top-ses.

Dit was duidelik dat vroue opsy moes staan vir mans wat die Zuma-faksie hoog op die lys wou hê.

Verlede week het die ANC aangekondig dat aanstellings van premiers en kabinetslede gerig sal word deur diversiteitskriteria, onder meer geslag. Die aankondiging van die premiers was egter teleurstellend, want daar is net twee vroulike premiers.

Die grootste uitdaging vir Ramaphosa is die ANC-vroueliga.

Die grootste uitdaging vir Ramaphosa is die ANC-vroueliga. Toe Zuma in 2007 gekies is as ANC-president, het die liga die deurslaggewende stem vir hom gegee. Bathabile Dlamini, die huidige voorsitter en minister van vrouesake in die presidensie, is een van die mees oneerbare en onbevoegde ministers, maar omdat die Vroueliga verteenwoordig moet word, is die verwagting dat sy wel in die kabinet sal wees.

Dlamini het die naweek aangekondig dat die Vroueliga steeds ’n vrou as president wil hê, maar om die ANC te help stabiliseer, sal hulle nie in 2023 ’n kandidaat teen Ramaphosa stel nie.

Die een moontlikheid is om eenvoudig die ministerie van vrouesake af te skaf in die verkleining van die kabinet.

Hierdie ministerie het reeds vier ministers gehad, wat bitter min gedoen het om inisiatiewe rondom geslagsgelykheid en seksuele geweld van stapel te stuur. Geeneen van hulle kon dit regkry om ’n nasionale raad oor geslagsgeweld op die been te bring nie, alhoewel dit deel van hul mandaat was.

Wat my betref, sal ons min verloor as die ministerie afgeskaf word.

Die ministerie het die kantoor oor die lewensgehalte en status van vroue in die presidensie vervang. Dit sal baie beter wees om hierdie kantoor terug te bring, met toegewyde en vaardige feministe as personeel om die president te help om die Nasionale Ontwikkelingsplan te implementeer.

Daar is baie bekwame feministe wat hoogs vaardig is, en vaardigheid is iets wat Ramaphosa hoog ag as ons kyk na die aanstelling van Shamila Batohi en Hermione Cronjé by die nasionale vervolgingsgesag.

Net voor die verkiesing het die Sexual and Reproductive Justice Coalition ’n paneelbespreking met verskillende partye gehou oor wat die partye vroue bied om hul regte rondom voortplanting ’n werklikheid te maak. Partye moes hul standpunte oor onder meer sekswerk, aborsie en voorbehoeding verdedig – en dit het maar moeilik gegaan.

Die Care Work Campaign het ’n soortgelyke paneelbespreking met partye gehad waar partye hul standpunte moes stel oor hul maatskaplike beleid en partye moes luister na hoe vroue die tekortkominge sien.

In albei gevalle was daar feministe van vroueorganisasies wie se kundigheid die partylede s’n ver oorskadu het.

Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.