Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril sal nou sy storie moet ken

Suid-Afrika staan in meer as een opsig op ’n kruispunt. Historici sal in die jare wat kom mooi kan nagaan of ons land tans by wyse van spreke linksaf of regsaf geslaan het.

Die spilpunt waarom dinge ten diepste draai, is pres. Cyril Ramaphosa. Sedert hy van sy pateties onbekwame en fundamenteel korrupte voorganger, Jacob Zuma, oorgeneem het, het ’n effense hoop ontstaan dat ons die regte rigting kan inslaan. Maar daardie geveg is nog baie ver van gewen.

Die belangrikste vraag is óf – en indien wel, hoe gou – Ramaphosa die ANC onder sy beheer kan kry. Soos sake tans staan, is sy greep op die party maar baie effens.

Enersyds was sy verkiesing as partyleier met ’n flenterdun meerderheid. Dít was die basiese rede dat hy nie daarin kon slaag om sy eie keuse as adjunk, Naledi Pandor, aan te stel nie, maar dat hy een van sy sterkste mededingers, David Mabuza, moes vat.

Bowendien is hy reeds voor sy formele verkiesing op die ANC-kongres gedwing om ’n belangrike beleidspunt van die Afrikanistiese vleuel, die nasionalisering van grond sonder vergoeding, te aanvaar. As hy destyds dáár sy hakke in die grond geslaan het, sou dié rubriek waarskynlik oor pres. Nkosazana Dlamini-Zuma gegaan het.

Sedertdien is sy gesag dikwels uitgedaag deur mense soos Ace Magashule, nuwe sekretaris-generaal van die ANC (en dus in ’n magtige posisie), en Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Ook Zuma ondermyn hom aktief, veral in sy tuisprovinsie, KwaZulu-Natal.

Buite die ANC loop Ramaphosa duidelik op eiers in sy omgang met Julius Malema en die EFF.

Buite die ANC loop Ramaphosa duidelik op eiers in sy omgang met Julius Malema en die EFF.

Barney Mthombothi, veteraan-kommentator van die Sunday Times, het onlangs selfs ongeduldig gevra waarom dit lyk of hy by Malema “g*tkruip”.

Dít moet ’n mens van die jonge heer Malema sê: Hy is hoogs intelligent en het ’n politieke aanvoeling wat skrik vir niks. Sy vermoë om die aandag op homself te vestig, is meesterlik.

Dis geen wonder nie dat nie slegs Ramaphosa nie, maar eintlik alle swart politici maar bra skrikkerig is vir hierdie politieke orkaan.

Terug by Ramaphosa. Hy is self nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie; moet hom glad nie afskryf nie.

Ofskoon hy geen ander keuse gehad het om die kongresbesluit oor nasionalisering sonder vergoeding te aanvaar nie, is dit bekend dat hy meen dis ’n rampsalige rigting. Hy het in al sy toesprake waarin hy sedertdien daarna verwys het, sekere voorwaardes gestel: Dit moenie die ekonomie skaad of voedselvoorsiening in die gedrang bring nie, en dit moet binne die raamwerk van die Grondwet gebeur.

Wel, enige redelike mens weet mos dís presies wat gaan gebeur as die Afrikanasionaliste hul sin kry. Dit is net noord van die Limpopo skouspelagtig en rampspoedig bewys.

Wat ook verklaar hoekom Ramaphosa glo agter die skerms ’n gesaghebbende regsmening gevra – en gekry – het oor hoe hy hom uit dié netelige saak kan loswikkel. Hy sal dit op ’n manier moet doen wat sy vyande binne en buite die ANC nie alte veel materiaal gee om hom polities te pootjie nie.

As Ramaphosa die geskiedenis wil ingaan as ’n suksesvolle staatshoof, een wat Suid-Afrika op sy dolle vaart na die afgrond gestuit en omgekeer het, sal hy op taamlike kort termyn sy eie party stewig onder beheer moet kry.

Dit lyk of hy daarmee besig is – die onthullings oor Mahumapelo se beweerde korrupsie bars nie toevallig nou uit nie. Dis ook nie toevallig dat die korrupsieklagte teen Zuma weer ingestel is nie.

Ramaphosa sal sy storie moet ken. En ons sal almal moet duim vashou.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidensie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.