Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril se drome moontlik op die Proteas-trajek

Is pres. Cyril Ramaphosa se droom van ’n voorspoedige Suid-Afrika – kompleet met super­stede, blitstreine en allerhande tegnologiese wonders – voor ons oë aan die ontrafel?

Dit is met reg ’n vraag wat Suid-Afrikaners slapelose nagte behoort te gee as gekyk word na verskeie politieke verwikkelinge die afgelope ruk wat Ramaphosa se futuristiese drome in ’n soortgelyke nagmerrie as die Proteas se Wêreld­bekerveldtog kan laat ontaard.

Llewellyn Prince

Verlede week in sy staatsrede het Ramaphosa weer probeer om ’n greintjie hoop in moedelose en korrupsievoos landsburgers se toekomsvooruitsigte te blaas toe hy onder meer gevra het of die tyd nie aangebreek het vir die nasie om dapper te wees en die onmoontlike te verrig nie.

En hoe daar niks is wat die land, ondanks die oorweldigende pro­bleme waardeur dit tans nog in die gesig staar word, nie kan wees, doen of bereik as almal hande vat en saamwerk nie. Opposisiepolitici het sy staatsrede as “lugkastele sonder besliste planne” beskryf.

Die ironie is egter dat dit lyk of Ramaphosa se opponente in sy eie party uit hul verkiesingslapie ontwaak het en tans die grootste bedreiging vir sy drome inhou.

Soos verlede week toe Ace Maga­shule, ANC-sekretaris-generaal, op die parlementêre perseel aangekondig het dat van die grootste beweerde begunstigdes van staatskaping en oudpres. Jacob Zuma se netwerk van beskermheerskap voorsitters sal wees van strategiese parlementêre portefeuljekomitees wat die uitvoerende gesag aanspreeklik moet hou.

Net die tyd sal leer of daar enige waarheid steek in die DA se kommentaar hieroor dat die Magashule-aankondigings net nóg ’n poging was om die parlement weer te kaap.

Dít alles lyk na hindernisse vir pres. Cyril Ramaphosa se drome.

Daarby het Rapport ook Sondag uitbasuin hoe Ramaphosa se eie kabinet glo onlangs sy omvattende planne om die sukkelende Eskom reg te ruk, by ’n kabinet-lekgotla verwerp het. Dít terwyl Ramaphosa in sy staatsrede benadruk het dat Eskom te belangrik vir die ekonomie is om te misluk.

’n Ander bedreiging vir die Ramaphosa-drome blyk deesdae ook adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, te wees. Verskeie politieke ontleders en politici glo sy speel politiek met haar belangrike amp deur die Maga­shule-faksie se agenda te bevorder. Mkhwebane ontken dit ten sterkte.

Sondag het die land egter wakker geskrik met Sunday Times-opskrifte dat Mkhwebane nou ook be­werings van geldwassery teen Ramaphosa ondersoek in verband met skenkings van meer as R400 miljoen aan sy ANC-presidentsveldtog in 2017.

Ramaphosa kan glo deur ’n staat van beskuldiging verwyder word as Mkhwebane teen hom bevind. Hy moet teen Vrydag sy weergawe aan Mkhwebane verskaf.

Dít alles lyk beslis na hindernisse vir Ramaphosa se drome. Hy sal daarom gou moet wakker skrik en beslissend in beheer moet kom, bly en lyk as hy die versoekte samewerking wil verseker om die land te herbou.

Dit veral omdat meer as 57% van kiesers hom op 8 Mei ’n mandaat gegee het om hul drome en aspirasies te laat realiseer.

  • Prince is Netwerk24 se parlementêre verslaggewer.
Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Wereldbekerkrieket  |  Proteas  |  Drome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.