Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril se gemengde boodskappe aan die wêreld

Pres. Cyril Ramaphosa stuur gemengde boodskappe aan die wêreld met sy optrede ná die onlangse vlaag van xenofobiese geweld, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Pres. Cyril Ramaphosa aan die woord tydens die begrafnisdiens van oudpres. Robert Mugabe in Zimbabwe. Foto: Getty Images

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope week sterk stappe gedoen om Suid-Afrika se beeld in Afrika te probeer herstel.

Suid-Afrika is aanstaande jaar die voorsitter van die Afrika-unie (AU) en moet dus geloofwaardigheid hê om namens die vasteland te praat.

Meer nog, onderhandelinge is aan die gang rondom die Afrika-vryehandelstreek wat in Julie vanjaar amptelik geloods is. Suid-Afrika – as een van die mees geïndustrialiseerde ekonomieë op die vasteland – kan baie hierby baat.

Ons moet dus seker maak dat ons die nodige politieke kapitaal het om leiding te neem in hierdie onderhandelinge en om konsensus te bereik oor kwessies wat ons buurlande dikwels dwars in die krop steek.

’n Ongelyke handelsbalans – tot die voordeel van Suid-Afrika – kenmerk ons verhoudinge met die meeste Afrikalande, behalwe Nigerië van wie ons olie invoer.

Die ANC-oudstryder Khulu Mbatha is iemand wat nie skroom om sy eie party te kritiseer nie, maar hy is minder bekend in internasionale kringe.

Ramaphosa het dus aangekondig dat hy drie gesante na verskeie Afrikalande stuur om te gaan verduidelik wat gebeur het rondom die onlangse xenofobiese geweld en om verskoning te vra vir die skade wat dit aangerig het.

Die keuse van individue wat ons saak moet gaan bepleit, is wel interessant.

Terwyl oud-ambassadeur Kingsley Mamabolo ’n baie bekende internasionale diplomaat is wat nog tot baie onlangs gedien het as die hoof van die Verenigde Nasies (VN) en die AU se vredesmag in Darfoer, is oudminister Jeff Radebe deesdae meer bekend vir sy olie-ooreenkomste in Suid-Soedan as vir sy werk as minister in die presidensie.

Hy is waarskynlik gekies omdat hy in 2015 die stukke moes gaan optel toe Suid-Afrika en Nigerië koppe gestamp het rondom die dood van tientalle Suid-Afrikaners in ’n kerk in Lagos. Een van die kerk se gastehuise het inmekaargestort.

Die ANC-oudstryder Khulu Mbatha is iemand wat nie skroom om sy eie party te kritiseer nie, maar hy is minder bekend in internasionale kringe.

Afstel van VN-besoek nie wys

Liesl Louw-Vaudran

Die gesante is gestuur na Nigerië, Zambië en die Demokratiese Republiek van die Kongo waar daar by Suid-Afrikaanse belange betoog is.

Hulle besoek ook Senegal, Niger en Tanzanië, wie se presidente onderskeidelik voorsitters van Die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (Nepad), die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (Ecowas) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapslande (Sadek) is. Ghana, waar daar baie Suid-Afrikaanse sakebelange is, is ook op die lys.

Hierdie besluit van Ramaphosa is ’n positiewe stap wat kontrasteer met oudpres. Thabo Mbeki se jarelange ontkenning van xenofobie. Dit het ander Afrikane baie woedend gemaak.

In 2007, met die bekendmaking van Suid-Afrika se portuuroorsig-verslag, gelei deur die gesiene Nigeriese akademikus Adebayo Adedeji, het Mbeki geweier om te erken dat xenofobie in Suid-Afrika bestaan.

Tog het die verslag dit duidelik uitgewys. Die ernstige xenofobiese geweld van 2008 was dus geen verrassing nie.

So, aan die een kant moet Ramaphosa geprys word vir sy daadwerklike optrede om die vasteland te probeer gerusstel.

Aan die ander kant het Ramaphosa ongelukkig baie mense op internasionale vlak omgekrap deur sy reis na die VN se algemene vergadering aanstaande week te kanselleer. Dit is die een vergadering waar staatshoofde van regoor die wêreld ’n platform kry om te wys wat hulle wil hê en waarvoor hulle staan.

Ramaphosa kon baie eerder sy onlangse reis na Zimbabwe gekanselleer het waar hy oudpres. Robert Mugabe se begrafnis bygewoon het. Hy is deur ’n deel van die skare uitgejou, juis weens die xenofobie.

Dis ook ’n kans om ander wêreldleiers te ontmoet. (Die Britte is byvoorbeeld glo ontevrede omdat ’n ontmoeting tussen Ramaphosa en Boris Johnson gekanselleer moes word).

Natuurlik sal sommige mense sê al hierdie duur vergaderings is net ’n mors van tyd en dis belangriker dat Ramaphosa hier moet wees om dinge tuis vas te vat. Maar in ’n globale wêreld waar ons ekonomieë so interafhanklik is en ons soveel nuusplatforms oor vastelande heen deel, is dit juis die een vergadering wat ’n mens nie kan misloop nie, veral as jou land uitgekryt word vir sy vreemdelingehaat en xenofobiese geweld.

Ramaphosa kon baie eerder sy onlangse reis na Zimbabwe gekanselleer het waar hy oudpres. Robert Mugabe se begrafnis bygewoon het. Hy is deur ’n deel van die skare uitgejou, juis weens die xenofobie.

As Ramaphosa werklik ons aansien wil verbeter onder die wêreld se groot moondhede – wat dalk ook beleggings kan beteken – moet hy New York bo Harare kies.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.