Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril swig voor Zuma se valke

Vraag: Wie het vroeg vanjaar die volgende gesê?

“Die Reserwebank se onafhanklikheid is heilig en daar is geen plan om aan die onafhanklikheid van die bank te raak nie. Die wens is dat hy, wanneer hy sy monetêre beleid saamstel, net ’n oog op werkskepping moet hou.”

Antwoord: Pres. Cyril Ramaphosa.

Johann Maarman

Dis nou die einste Ramaphosa wat in die afgelope week gat omgeswaai en aangekondig het dat die Reserwebank wel genasionaliseer gaan word.

Wat het dan binne die bestek van twee maande gebeur dat hy nou ’n ander deuntjie sing en met ’n gesplete tong praat?

Onthou, Ramaphosa het as’t ware die baas van Luthuli-huis, Ace Magushule, gerepudieer nadat dié aangekondig het dat die Reserwebank genasionaliseer moet word.

Die openlike botsing tussen die president van die ANC en die sekretaris-generaal het vir heelwat verwarring gesorg onder die gewone ANC-kaders, want die teenstrydigheid van die uitsprake was vir almal duidelik.

Die valke in die ANC (met Magashule aan die spits) het die rooi kaart vir Ramaphosa uitgepluk en gesê sy uitspraak verskil van dié van ’n resolusie van die ANC se 54ste nasionale konferensie – die hoogste besluitnemingsliggaam – by Nasrec in Desember 2017 dat die Reserwebank genasionaliseer moet word.

Magashule het sy troefkaart uitgehaal en Ramaphosa daarop attent gemaak dat die ANC elke resolusie wat op sy nasionale konferensies aanvaar word, binne vyf jaar moet toepas.

Een van dié resolusies is die nasionalisering van die Reserwebank.

Wat duidelik is, is dat die Magashule-faksie, wat ’n noue verbintenis het met Jacob Zuma, die politieke pous van staatskaping, hierdie belangrike ronde gewen het.

Ons weet mos nou al uit ervaring dat die ANC-kartelle lang vingers het en dat hulle sonder om ’n ooglid te verroer jou swaarverdiende pensioengeld, jou beleggings, in ’n diep donker put sal gooi.

En die uitvloeisel van hierdie faksie-gevegte is dat die Reserwebank nou genasionaliseer gaan word bloot omdat die een faksie vir die ander faksie wil wys wie se pinkie is die dikste.

Kyk maar wat het by die Openbare Beleggingskorporasie gebeur. Kyk maar wat het by semistaatsinstellings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens gebeur. Miljarde op miljarde is vermors en die ANC-snoete by die trog het net al hoe meer geword.

In ’n vars artikel in Viewpoint lê dr. Mzukisi Qobo van Wits se sakeskool die vinger op die ANC-sweer.

Die ANC sal hom sommer kielhaal oor wat hy kwytraak, maar dis die reine waarheid.

Qobo sê Suid-Afrika het in 1994 ’n bevrydingsbeweging gekry wat ’n moderne grondwetlike demokrasie moes bestuur. Dit is dus geen wonder dat die ANC soms teen die grondwetlike orde rebelleer nie. Die perverse verhouding tussen die party en staat frustreer demokratiese konsolidasie en dit striem groei en ontwikkeling.

Qobo maak die interessante punt dat die ANC nie voorbereid genoeg was om te regeer nie.

Behalwe vir ’n paar tegnokrate was daar ’n afwesigheid van burokratiese diepte en dit was eindelik die room van die ANC-intelligentsia en nie die gewone lede van die ANC nie wat die land se stange vasgehou het.

Sodoende is die bevrydingsbeweging- karakter in die ANC onderdruk.

Weens die beperkte leierskap in die ANC het die organisasie ’n broeiplek vir faksies geword.

En die uitvloeisel van hierdie faksie-gevegte is dat die Reserwebank nou genasionaliseer gaan word bloot omdat die een faksie vir die ander faksie wil wys wie se pinkie is die dikste.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.